Vir die emosies om hierdie verhale staan tyd gewoonlik stil en uiteindelik word min stories vertel wat nie êrens iemand aanraak of inspireer om net weer na te dink nie.

Ek is telkens verwonderd wanneer ek SARIE se storie deel. Hoe die tydskrif op 6 Julie 1949 vir die eerste keer op die rak verskyn het (ja, hierdie is ons verjaardagmaand), waarom Sarie Marais as Afrikaanse vrouetydskrif begin is en wie die leser toe was. Blaai jy deur vroeë uitgawes sien jy ’n stylvolle tydskrif en ’n stylvolle leser: ’n vrou met ’n sterk sin van eiewaarde en ’n begeerte om te praat oor haar mense, haar land en dít wat sy koester.

En om te weet van dinge nuut en anders; die stories buite haar grense en verwysingsraamwerk. Positief, vooruitdenkend, leergierig, empaties, trots SA, mededeelsaam. Ná 63 jaar is dit steeds die gees en unieke eienskappe van die SARIE-leser. Dís net ’n storie wat my altyd sal inspireer.

Op 17 Julie begin Janie du Plessis haar geselsprogram, Wat mense sê, op kykNET, met SARIE as mediavennoot. Suid-Afrikaners sal hul besonderse stories met haar en ons almal deel. Soms is dit die stories wat groot nuus was; ander kere was dit ’n eie, unieke reis wat uit die kollig plaasgevind het.

Oor mense se gewilligheid om dikwels intieme gebeure en gevoelens met die wêreld te deel, sê Janie: “Mense het mense nodig. Daar is onmeetbare waarde in gesprekke, woorde en dinge wat mense sê.” Ek wil byvoeg:...en in die emosies wat dit in ons wakker maak.

Die laaste weke het ons weer die storie van die Titanic herleef, honderd jaar nadat die onsinkbare skip tussen Southampton en New York in ’n yskoue see onder die water verdwyn het. Meer as 1 500 mense het hul lewe verloor. Ons ken die tragiese feite, maar dis die mensestories wat ons elke keer tot stilstand ruk.

Soos die erkenning nou weer van die geskiedkundige, wat die luukse Titanic sedert 1967 skilder, dat hy in ongeloof begin huil het toe hy vir die eerste keer die videobeelde van haar verwronge, verskrompelde wrak op die seebodem aanskou het – ’n bewys van die ongelooflike krag waarmee die skip in twee gebreek en vier kilometer na benede gesink het nadat sy ’n ysberg getref het.

Maar daar’s ook die storie van die navorser wat tussen ’n hopie vergete Titanic-oorblyfsels wat van die seebodem opgepik is, ’n parfuumbotteltjie ontdek het. Toe hy dit oopmaak, het die geur van warm amber, vars lemoenbloeisel en subtiele roos sy laboratorium gevul. So onverwags, ná 100 jaar, ’n emosionele en tasbare oorblyfsel van ’n storie wat vandag nog die verbeelding van die wêreld aangryp. Dis die ding van stories: dit plaas dikwels die swaar en hartseer in ons midde, maar ook altyd weer lewe en hoop.

Tot ons weer gesels wanneer ons Augustus-uitgawe vanaf 16 Julie op die rak is. Onthou, vir die volgende paar weke hoor SARIE saam met Janie wat mense sê; die storie en emosies agter die storie.

Groete,

Michélle van Breda