'n Paar weke gelede is ek in Johannesburg, en wat begroet my? Duisende wapperende Suid-Afrikaanse vlaggies. Waar jy ry, sien jy hulle op motors, in busse en bo-op taxi's. Hier's iets aan die gebeur, dink ek opgewonde.

In die SARIE-kantoor hier in Kaapstad wapper die vlae by ons vensters, op ons lessenare en selfs op ons motors. In Kaapstad begin die opwinding nou opbou met 'n massiewe vuvuzela wat op een van die snelwegbrûe vasgemaak is, en 'n groot wiel amper nes die London Eye.

In haar Junie-redakteursbrief skryf Michélle van Breda:

"Ons was nog nooit gul met ons landsvlag nie. Iets wat ek nie verstaan nie, want ons het een van die heel mooiste vlae in die wêreld. Afrika-kleure: rissie-rooi, goudgeel, hemelsblou, grasgroen. En die Y-patroon duidelik die simbool van die eenheidspad wat ons as 'n nasie moet stap.

"Rugby- en kriekettyd, dán is die paviljoene en velde skielik 'n ontploffing van kleur soos ons ons vlag swaai. Net om weer weggepak te word tot 'n volgende keer. 'n Vlag sal ons nie sommer by ons voordeur plant, of in ons tuin of op ons dak laat pryk nie. In Amerika doen hulle dit - daar sien jy oral die star-spangled banner.

"Maar 'n paar weke gelede is ek in Johannesburg, en wat begroet my? Duisende wapperende Suid-Afrikaanse vlaggies. Waar jy ry, sien jy hulle op motors, in busse en bo-op taxi's. Hier's iets aan die gebeur, dink ek opgewonde. Kan dit wees dat ons die sokkergees begin vang en ons mompelinge oor skuld, padverleggings, bouwerk en toeskouers wat dalk nie gaan kom nie eenkant toe skuif?

"Op die lughawe sien die skoenpoetser my op 'n afstand aankom. Ek het 'n paar moeë, nou al vaalswart leerstewels aan. A-nee-a, sê Elvis, in 2010 kan niemand só lyk nie! Net R15 dan maak hy daardie stewels vir my só blink ek sal 'n sonbril moet dra. Hy begin vir 'n vale poets, maar eintlik wil hy net sokker praat.

"Oor die beautiful game wat hy in die township se stof leer speel het. Oor Bafana Bafana wat ons asseblief nie net moet afskryf nie. Mense kan maar sê wat hulle wil, afrigter Carlos Parreira word gereken, herinner hy my. Ek vertel hom ek was so pas in Brasilië en daar spreek hulle sy naam Pa-herra uit.

"Dankie, sê Elvis. Sulke goed is belangrik om te weet. Hy praat oor sy helde, wat hy binnekort elke dag op TV sal sien, en wie se skoene hy dalk sal kan poets. Wie's my gunsteling? vra hy. In my kop soek ek verwoed 'n naam, want ek kan Elvis nie nou teleurstel nie. Lionel Messi, antwoord ek. Hy hou op met poets en doen 'n vinnige dansie - ek't die jackpot geslaan! Hy lag van tevredenheid. Ja, besluit ons, ons sit ons swaar verdiende rande eers op Bafana Bafana (ons moet mos!), dan op Argentinië oor Messi.

"Ons onthou van Engeland, hulle het nie meer vir Beckham nie, maar Wayne Rooney is warm. Brasilië met Kaká moet 'n mens nooit onderskat nie, en wat van Italië? Hulle was immers die vorige wêreldkampioen. Nader aan huis klop ons harte warm vir die Ivoorkus met die blits-doelskieter Didier Drogba.

"Toe ek afkyk, blink my boots soos 'n spieël! Terwyl ek wegstap, onthou ek 'n Saterdagmiddag in Ghana op 'n straatmark. Ek soek krale, maar die manne sit met hul transistor-radio's styf teen die oor. Ghana speel teen Mali, en dis oorlog.Toe Ghana die eerste punte aanteken, ontplof die mark. Daar's 'n gedans,'n gejuig, toeters wat blaas. Ek wag om te betaal, maar die kraleman wil niks van geld weet nie. Hy's buite homself van vreugde. Hy hang die krale om my nek en sê: You South Africa. Nelson Mandela!

"Mark Feeesssshh! You take for free.

"Net daar op O.R.Tambo besluit ek a-nee-a, dis 2010, dis Wêreldbekersokker, 'n vlag vir my motor sál ek koop"