Smaak verskil, ja. Nie net in mode, dekor, skoonheid en kos nie, ook in dit wat jy lees. Ek glo ook elkeen is geregtig op ‘n mening, veral as dit by boeke kom. Wat ek lees, staan jou nie noodwendig aan nie, maar onthou, ek beoordeel dit uit my eie verwysingsraamwerk. Omdat jou lewe anders as myne verloop, sal jy beslis anders voel oor die impak van ‘n spesifieke verhaal. Hierdie week se keuse is almal boeke waaroor daar uiteenlopende opinies is.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Bloedfamilie, M.S. Burger (Human & Rousseau, R160)

Hierdie debuutbundel kortverhale vorm ‘n sterk eenheid deur die herhaling van verskeie karakters en temas. In deel een word beskryf hoe die individu as kind moes kennis maak met 'n disfunksionele gesin en die ingrypende, verreikende gevolge op ‘n jong lewe - ‘n fisies en emosioneel afwesige ma, ‘n seksistiese vaderfiguur, ontrouheid en seksuele mishandeling.

Deel twee gaan oor volwassewording en die ontwaking van ‘n seksuele identiteit terwyl die wonde van die verlede steeds rou is. Waar die kind gesukkel het met asemhalings- en gewigsprobleme en haar eensaamheid probeer verdryf het met verbeeldingsmaats, het dit nou in iets seerder, donkerder en moeiliker om te beheer ontaard. Sy bevind haar in ‘n wêreld van masochisme, drank- en dwelmmisbruik, ’n onkonvensionele seksuele identiteit, isolasie en selfs waansin.

Deel drie bring effense verligting aan die karakter se worsteling met ‘n simboliese reinigingsproses en selfaanvaarding. Sy vind ook ‘n moontlike antwoord op ‘n verborge familiegeheim en dus berusting. Tog bly die bundel swaar en skokkend tot op die laaste bladsy.

Alhoewel nie ‘n genotvolle leeservaring nie, is dit broodnodige literatuur vir die Afrikaner. M.S. Burger skroom nie om temas aan te pak wat veels te dikwels onder die mat gevee word nie. Die verteller se pynvolle behoefte en soeke na die waarheid, om heel te word, uit te kom, sterk te word, te vergeet en te onthou is ‘n nodige reis wat elke individu op een of ander vlak in hul lewe moet aanpak. - Amalia Uys

Bloots

Bloots, saamgestel deur Peter van Noord en Karin Eloff (Tafelberg, R210)

Die foto’s van die samestellers op die stofomslag moes my gewaarsku het. Karin Eloff sit in die een met ‘n swart lap oor haar kop en staar met ‘n selfbewuste uitdrukking op haar gesig na iets iewers buite die foto. Seker na ’n blerts sperms teen die muur, het ek besluit nadat ek haar bydrae in hierdie boek vol sogenaamde erotiese stories gelees het. Van Noord, wel hy sit met sy vingers inmekaargevleg en ook hy staar na iets buite die foto. Dalk na ‘n outydse haarkapper wat hom met ‘n skroeistokkie bekruip.

Ai, tog. Ek was so opgewonde om ‘n Afrikaanse boek wat 54 erotiese stories belowe as geskenk te kry van ‘n vriendin. Ek lees dié soort van storie graag. Maar wat ‘n teleurstelling! Ek het naar, verveeld of geïrriteerd – eerder as geprikkel – gevoel met die lees van die stories. Van die 54 stories het slegs enkeles daarin geslaag om my aandag te hou. Let wel, my aandag te hou, dis al.

Wag, ek jok, ek het gegrinnik toe ek gelees het hoe Kleinboer ‘n onverwagse knippie kry. Ook toe Hennie Aucamp kortliks skryf oor ‘n voortandlose ontbloter iewers in ‘n parkie . . . En dis dit.

Die trant van baie stories is selfbewus. Dis of die skrywer probeer skok. Of, o so dramaties probeer wees. Eroties? Moenie my terg nie! - Bennie Jansen

Glenn Agliotti, a Biography  

Glenn Agliotti; A Biography, Peter Piegl en Sean Newman (Penguin, R198)

As die Agliotti-biografie ‘n draaiboek was en die karakters deur Hollywood-swaargewigte gespeel kon word, mag dit dalk miljoene by die loket verdien het. Maar daar sou steeds heelwat aan spesiale effekte bestee moes word.

Ongelukkig is dit ‘n papier-weergawe van ‘n ingewikkelde verhaal wat moeilik gevolg word, selfs deur iemand wat die hele sage intens bestudeer het toe dit destyds voorbladnuus was. Daar’s eenvoudig te veel karakters en die skrywers aanvaar dat die leser moet weet wie hierdie mense is en waar hulle inpas, sonder dat hulle voorgestel word.

Agliotti, die hoofkarakter, bly ook ‘n koue vreemdeling wie se weergawe van gebeure bly klink na die gebrabbel van ‘n psigopaat; hy draf losweg oor sy erkende betrokkenheid by misdaad en bied gladdebek verklarings wanneer hy homself wil verontskuldig.

Tog kan sy weergawe van gebeure waar wees, want in die skemerwêreld van Glenn Agliotti en sy makkers is dinge nie swart of wit nie. – Susan Puren

A Private Affair  

A Private Affair, Lesley Lokko (Orion Books, R180)

Dié vertelsel probeer hard om oorskietkos deur middel van ’n saamgeflanste resep in iets eetbaars te omskep – gooi agt hoofkarakters, ’n ellelange verslag oor hul doen en late, ’n militêre milieu en ’n knypie eksotiese plekke in ’n bak; meng met voorspelbare intriges en ordinêre dialoog, versier met gekruide taal en banale sekstonele, sit voor met ’n saai voorblad en rond af met ’n flou einde.

Blykbaar het die skryfster die volgende te sê gehad in ’n onderhoud met Lauren de Beer: “Feeling a little disenchanted with my chosen profession of architecture, I was travelling on the London underground when I read an article in Time Out magazine: The A to Z Guide to Writing a Blockbuster. I followed it word for word and six books later, they’re all sell-outs.

Allawêreld! Vermy hierdie beuselagtige toevoeging tot die genre van vlinderfiksie; dis slegs geskik vir fanatiese aanhangers van geykte doedie-dramas. – Emsie Viljoen

After we said goodbye  

After We Said Goodbye, Sean Davison (Penguin Books SA, R171)

Sean Davison se eerste boek, Before We Say Goodbye, vertel hoe hy Nieu-Seeland toe gaan om sy siek 85-jarige ma te versorg. Hy beskryf haar erge lyding en hoe sy hom smeek om haar te help sterf. In After We Said Goodbye hervat Sean die verhaal ná sy ma se dood en vertel hoe hy besluit om sy dagboeke in boekformaat uit te gee. Op aanbeveling van sy prokureur verander hy die einde van die verhaal en die leser wonder of hy wel sy ma help sterf het. Ten spyte daarvan kry die polisie in Nieu-Seeland ‘n kopie van die onveranderde manuskrip in die hande en Sean word vervolg en skuldig bevind aan ‘n misdaad. Hy word gevonnis tot vyf maande huisarres in Nieu-Seeland.

Die dagboekformaat waarin die boek geskryf is, is by tye effens steurend, en die verhaal sloer ‘n bietjie hier in die middel, maar dit dwing ‘n mens tog om 'n bietjie te dink oor die kwessie van genadedood. - Retha Burger

Debutantes  

Debutantes, Cora Harrison (Macmillan, R93)

Vier mooi susters, kinders van ’n verarmde aristokraat wat in ’n afgetakelde ou herehuis woon, wil soos ander meisies van hul stand debutante wees en aan die koning voorgestel word. Dit is ’n tyd van jazz, korter rokke en korter hare en die meisies is desperaat om in die mode te wees. Rose wil ’n skrywer wees, Poppy speel jazz, Daisy wil films maak, skone Violet wil die volmaakte debutante wees wat ’n ryk man soos die aantreklike prins George vang. Die meisies is vindingryk, skeppend en talentvol. Hulle ontdek familiegeheime, vind hulpmiddels en ondersteuners, onder andere ’n towertante, wat sal sorg dat hulle suksesvol is.

Voorspelbaar en tog lekker ligte leesstof gemik op jonger lesers. ’n Soort oppervlakkige, gemoderniseerde Jane Austen-verhaal. - Malene Breytenbach

In One Person  

In One Person, John Irving (Doubleday, R250)

Hierdie boek is soos deurmekaar memoires in die eerste persoon geskryf. Dit volg Billy Abbott se lewe (en hoofsaaklik sy sekslewe) vandat hy as dertienjarige jong seun in die 1950’s verlief raak op die dorpsbibliotekaresse totdat hy in sy sestigerjare in 2010 is. Hy is aanvanklik in ‘n tweestryd gewikkel oor sy seksualiteit totdat hy aanvaar dat hy gemaklik is met sy biseksualiteit – iets waarmee sy vele seksmaats nie so gemaklik is nie. As ‘n skrywer lewe Billy op die wêreldverhoog en het verhoudings met mense van albei geslagte in meeste van die wêreldstede. Die skrywer verwys kortliks en saaklik na die vigsepidemie en hoe dit die gay gemeenskap in die VSA afgemaai het – daar is nie veel emosie betrokke by die tonele nie.

Hierdie is nie ‘n gemaklike boek om te lees nie, maar blykbaar is dit tipies van John Irving. - Retha Burger

Keeper, Living with Nancy  

Keeper: Living with Nancy: A Journey into Alzheimer's, Andrea Gillies (Short Books, R168)

Drie jaar gelede het Andrea Gillies besluit om haar skoonma, Nancy, ‘n Alzheimer-lyer voltyds te versorg. Saam met haar gesin het sy getrek na ‘n huis op ‘n afgeleë skiereiland in Skotland. Die huis het genoeg ruimte gehad om Nancy en haar bejaarde eggenoot te akkommodeer. Daar het hierdie baie uitdagende reis begin.

Keeper beskryf die emosionele inspanning van die lewe saam met ‘n Alzheimer-lyer: die beproewings van beide die lyer en die versorger wanneer geduld en verpligtinge die grense oorskry. Hierdie boek beskryf die ondersoek van die siekte – die verkenning van die brein en die bewussyn. Dit takel die diep vrae rondom die self, die siel en hoe die geheue meedeel wie ons is.

As leser is dit net so uitputtend om hierdie reis saam met die skrywer mee te maak. Dit gee jou egter ‘n goeie insig en oorsig van die siekte. Nie ‘n maklike boek om te lees nie, maar noodsaaklik as jy meer van Alzheimersiekte wil weet. - Chris Botha

We all ran into the sunlight  

We All Ran Into The Sunlight, Natalie Young (Short Books, R166)

Hierdie saga speel af in Canas, ’n plattelandse dorpie in die suidweste van Frankryk, en gaan oor die wel en wee van die Borja-familie. Die skrywer konsentreer beurtelings op die jare 1949, 1985, 2006 en 2007 in die lewe van dié eens gesiene inwoners en die sonderlinge gebeure wat daartoe gelei het dat hulle deur die dorpenaars verstoot is.   

Young se debuutroman skep die indruk dat sy vasbeslote was om drie apart voltooide novelles deur middel van ’n yl draadjie tot een verhaal te omskep. Hierdie vertelling sleep die leser van een voorval na ’n ander en eindig op ’n slordige wyse; Young trek die verskillende intriges met behulp van ’n sentrale karakter se afgerammelde e-posse bymekaar en wanneer ’n mens oplaas die laaste stuk van die legkaart het en al die geheime rondom die Borjas aan die lig kom, laat dié storie ’n onaangename nasmaak in die mond. – Emsie Viljoen

The Big Stick  

The Big Stick, Richard de Nooy (Jacana, R135)

De Nooy het in Suid-Afrika grootgeword, maar woon die afgelope 25 jaar in Amsterdam. Hierdie verhaal is die tweede deel van ’n trilogie en volg op Six Fang Marks and a Tetanus Shot, sy veel geprese debuutroman.

Ná die onverklaarbare dood van haar gay seun Staal vertrek Alma na Amsterdam om sy oorskot te gaan haal en terug te bring Zeerust toe. Hardnekkig op soek na die waarheid rondom sy lewe as verstoteling, volg Alma sy spoor deur die stad; sy ontmoet sy makkers en minnaars, maar in die proses word sy ook gedwing om haar eie vooroordele en foute van die verlede te konfronteer.

De Nooy pak die temas van ballingskap, isolasie en verlies met sensitiwiteit aan. Hy beskryf Staal se ervaringe met eerlikheid en ontlok meegevoel vir sy hoofkarakters, maar sy vertolking van rassisme en homofobie raak plek-plek aan moralisasie; die buitelandse stereotipering van die meerderheid Afrikaners as agterlik en ultrakonserwatief raak nou wragtiewaar afgesaag. Boonop sit die skrywer sy geografiese pot skoon mis; van wanneer af lê Zeerust aan die grens van die Kalahari-woestyn in die Noord-Kaap? Dis immers ’n Bosvelddorpie in die omtrek van die Marico Vallei-distrik in Noordwes, sowat 250 kilometer van Johannesburg af! - Emsie Viljoen