Eenstukke herinner jou dalk aan ikoniese sterre soos ABBA, Elvis Presley en selfs ’n jong Madonna, maar dié item is nou weer hoogmode! Ontwerper-eenstukke maak hul verskyning oral - van troues tot formele geleenthede soos die rooi tapyt ...

’n Eenstuk is ’n maklike klerekas-oplossing vir daardie dae wat jy nie weet wat om aan te trek nie, want met een aantrekslag het jy sommer ’n hele uitrusting aan. Dit hang van jou af hoe jy die eenstuk wil stileer na gelang van die geleentheid wat jy bywoon.

Kies ’n eenstuk só

  • Moenie jou vroulike kurwes wegsteek nie. ’n Eenstuk kan baie maklik soos ’n sak aan jou lyf hang as daar byvoorbeeld geen middelbelt of rek is nie.
  • Let op na hoe die eenstuk aan jou lyk. Dit moet ’n mooi silhoeët van jou lyf vorm.
  • Proporsies is belangrik. Ken jou lyf en jou beste bates.
  • As jy 'n groot bolyf het, kies ’n eenstuk wat los om jou bolyf sit en ’n lae middel het.
  • As jy jou bene wil beklemtoon, soek na ’n eenstuk wat ’n middelbelt- of rygtoutjie het wat hoër sit.

Ja, en die eenstuk kan in die aand én in die dag gedra word. SARIE se modespan deel hul wenke hoe om ’n eenstuk te dra.

Vir die aand

Kate Moss by Londen Modeweek. FOTO: Instagram Kate Moss se eenstuk pas by 'n aand-geleentheid by die Londen Modeweek
FOTO: Instagram

  • ’n Eenstuk moet nie so styf soos ’n tweede vel sit nie. Sogenaamde catsuits is baie waaghalsig en gewoonlik nie baie vleiend nie.
  • As jy nog skrikkerig is om jou eenstuk net so op sy eie te dra, dra ’n baadjie daaroor. Dit sal die eenvormigheid van die eenstuk breek en dit ook ’n meer formele gevoel gee, soos wat Kate Moss (bo) dit dra.
  • Swart is altyd ’n goeie idee. Bekendes kies nie meer net die klein swart rokkie nie, maar begin ook swart eenstukke oorweeg. "’n Eenstuk is ’n gemaklike opsie, veral as jy selfbewus is oor jou bene," sê Carmen Botman, SARIE se mode-assistent.

Topwenk: ’n Snyerseenstuk is ’n gesofistikeerde opsie. As ’n snyerseenstuk moeilik is om op te spoor, of dalk te duur is, neem ’n eenstuk na jou kleremaker en maak veranderinge volgens jou lyf.

Vir die dag

photo Liezel van der Westhuizen se rooi eenstuk deur Michelle Ludek

  • Drapering is altyd vleiend en meer so met ’n eenstuk. Volg Liezel van der Westhuizen (bo) se voorbeeld met dié rooi nommer van Michelle Ludek. Dit sit so mooi aan haar, dit lyk nie eens soos ’n broek nie!
  • Dra hakke saam met jou eenstuk. Dit maak jou uitrusting klassiek en keer ook dat jy kort lyk.
  • ’n V-nek-eenstuk is slim omdat dit bietjie vel wys en keer dat jou eenstuk te oorweldigend op die oog lyk - soos Julia Roberts (onder) se eenstuk by vanjaar se SAG-toekennings.

Julia Roberts se pienk eenstuk met 'n V-halslyn FOTO: Instagram Julia Roberts se pienk eenstuk met 'n V-halslyn
FOTO: Instagram

Topwenk: Daar is eenstukke wat bestaan uit twee kleure. As jy nog bang is vir die eenkleurige eenstuk, soek vir dié soort, want dit skep die illusie van twee items.

Eenstukke bied nou ook ’n alternatief vir die tradisionele trourok. Klik hier vir die nuwe trends in trourokke vir 2014.

Kies vir jóú ’n eenstuk uit ons SARIE-winkel: