Want hoe verdraagsaam jy ook al is, hoe wild jou eie jeug ook al was (en ons weet mos sommige van ons was lekker wild), as jou seun uit sy slaapkamer verskyn in ’n langbroek wat so laag oor sy boude afgetrek is dat hy soos ’n gebreklike pikkewyn lyk as hy probeer stap, is dit soms bitter swaar om stil te bly.

Want as jy dit wáág om te vra of dit nie ongemaklik is om so gestrem deur sy eie broekspype deur die lewe te strompel nie – of waarom hy nie maar die langbroek by die huis los en net in sy ontwerpersonderbroek uitgaan nie – trap jy op ’n landmyn van tienerhormone en adolessente onsekerheid. Verstáán jy dan nie, Ma, hoe léwensbelangrik dit vandag vir hom is om hierdie hanggatbroek en hierdie verslete skaatsbordskoene en hierdie gebreide mus met die oorflappe en die tossels te dra nie?!? Met die klem op vandag. Want môre of volgende week lyk hy vir al wat jy weet weer heeltemal anders.

Miskien soos sy vriend wie se jeans so styf om sy bene gegiet is dat hy sukkel om sy knieë te buig. Of die ander vriend met die woeste Afro-haarstyl en die ring deur die regterwenkbrou. Want as daar een vaste reël in tienermodes is, sover ek as ma kan agterkom, is dit die beginsel van masochisme. Jy moet ly vir jou voorkoms, soos kunstenaars moet ly vir hul kuns, en jy moet boonop lyk asof jy dit geniet om te ly. Jy moet moeilik stap of asemhaal, jy moet gate in jou gesig laat boor of tatoeëernaalde op jou vel verduur, jy moet sukkel om te sien deur jou te lang kuif of jou oorgroot donkerbril.

Soms is my enigste oorlewingstaktiek om die gemartelde uitdrukking op my ma se gesig op te roep oor die avant garde-uitrustings wat ek jare gelede saamgeflans het uit verflenterde kledingstukke wat ek in tweedehandswinkels opgespoor het. Of ek onthou hoe my ouma op ’n keer in alle onskuld aangebied het om gou die uitgerafelde pype van my jeans te omsoom – nadat ek die ganse middag geswoeg het om die some los te torring!

En dan byt ek maar weer op my lip as my seun in ’n T-hemp met ’n geilgroen daggablaar op die bors uit sy slaapkamer verskyn. Of ek komplimenteer hom liefies
oor hy so ekologies sensitief is om ’n kledingstuk met ’n plantmotief te dra. Want die ander vaste reël in tienermodes, het ek geleer, is dat enige gier selfs vinniger as gewoonlik oorwaai as jou ma daarvan hou.

Buitendien, elke nou en dan kom ek ’n tiener teë wat so uitspattig uitgedos is dat my eie kinders skoon vaal en vervelig voorkom. Soos die bleek Gotiese knaap wat laasweek op ’n Franse trein langs my beland het. Gitswart gekleurde hare met ’n kuif wat tot onder sy neus hang, ’n swart handskoen aan een hand en verder alles swart van nek tot tone, net die poeierwit gesig met studs en ringe op elke oop stukkie vel.

Ek is nie die soort reisiger wat graag geselsies aanknoop in vliegtuie en treine nie, en hierdie outjie het nie na belowende geselskap gelyk nie, so ek het net nog ’n
bietjie verder weggesak agter my boek. Maar toe begin hy sowaar met my gesels. Gesien ek lees ’n Engelse boek en wou weet van waar ek kom. Vertel hy’s sewentien en gaan by sy ouma op die platteland kuier. Ek het my probeer voorstel wat die gemiddelde plattelandse ouma met so ’n vampieragtige kleinkind sou maak. Hom met knoffel en kruise probeer weghou, waarskynlik.

Maar toe begin ek sowaar sy geselskap geniet. Ons het soos ou kennisse gegroet toe hy afklim op die stasie van die gehuggie waar sy ouma woon. Die vere maak nie altyd die voël nie, moes ek myself herinner. As jy verby die vere kyk, kan die voël jou soms nogal verras.

Tog is ek dankbaar dat my eie kinders nie met súlke eksotiese vere spog nie. Altans, nog nie.

Want die laaste vaste reël in tienermodes is dat dit altyd erger kan word.