Mosbolletjies met heuningsous Tradisioneel word mosbolletjies gedurende die druiwe-parstyd gemaak. In die boek se resep op bl. 84 kan jy mos gebruik of rosyntjiewater wat jy self maak. Ek maak dit met heuningsous. Genoeg vir 3 brode   Suurdeeg

  • 240 g (430 ml) koekmeel
  • 500 ml rosyntjiewater (sien wenk)
  • 1 x 10 g-sakkie kitgis
Deeg

  • 1,6 kg (2 860 ml) witbroodmeel
  • 260 g (325 ml) suiker
  • 10 ml sout
  • 10 ml anys
  • 2 eiers
  • 160 g (175 ml) sagte botter
  • 200 ml louwarm water
  • 1 geklitste eier om oor te verf
Sous

  • 55 g (60 ml) botter
  • 45 ml water
  • 80 ml heuning

Suurdeeg Meng meel, water en gis tot slap deegmengsel. Maak toe met kleefplastiek en laat rys op warm plek tot mengsel verdubbel het, sowat 30 – 45 minute. Deeg Plaas al die

bestanddele in ’n groot mengbak. Voeg gerysde mengsel by en meng deur tot stywe kniebare deeg – voeg ekstra water by indien nodig. Knie 8 – 10 minute of tot gladde, elastiese mengsel. Plaas deeg in bak wat gesmeer is met olie en laat rys op warm plek tot

dubbel die volume. Knie af en laat weer rys tot dubbel die volume. Spuit 3 broodpanne van 30 x 12 cm goed met kleefwerende kossproei. Verdeel deeg in 30 ewe groot porsies en rol in stewige bolletjies. Pak 10 bolletjies in elke pan. Plaas weer op warm plek en laat rys tot dubbel die volume. Terwyl deeg weer rys, verhit oond tot 180 °C. Verf bolletjies met geklitste eier en bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar. Sous Terwyl bolletjies bak, verhit

botter, water en heuning. Gooi warm sous oor bolletjies sodra dit uit die oond kom. Laat afkoel en sit voor.