Honda Brio

Dalk nie die mooiste of vinnigste in jou buurt nie, maar dié nuweling van Honda laat man en vrou naderstaan om te kyk. Die woord “brio” kom van die Italiaanse en Galliese woorde vir geesdrif en opgeruimdheid – baie gepas. ’n Bekostigbare klein ryding is wat die ontwerpers met dié Honda in gedagte gehad het. Vier volwassenes sit gerieflik, het ons ondervind op ’n rit na Bloubergstrand. Die sitplekke het dik kussings met slanke rugleunings vir beenruimte agter. In die bagasiebak kan jy dan ’n koelsak of drie inpas, maar die sonsambreel moet tussen die passasiers sy plek vind. As jy die agtersitplek afslaan, het jy meer pakplek. Die 1,2 liter-i-VTEC-enjin sluk suinig (handrat: 5,6 liter/100 km, volgens Honda) en as jy brandstofslim bestuur, flikker die ECO-aanduider. Vir veiligheid is daar o.m. ABSremme.

Prys: R119 800 handrat en R129 800 outomaties.