Ons het vier kinders - ’n seun (16) uit my man se vorige huwelik, ek twee seuns (11 en 13 jaar) uit my eerste huwelik en dan ons laatlam, Ruan. Ruan was op 6 maande met serebraal gestremdheid gediagnoseer, en ons gesin se mat was onder ons uitgeruk. Al ons drome en planne vir hom was aan skerwe. Ek het skielik Retha McPherson (Mev. Suid-Afrika 2004) se woorde onthou: “All the broken pieces of your life are nothing more than a beautiful mosaic of your future.” (Dit was tydens haar gesin se besoek aan die VN-gebou in New York nadat haar oudste seun Aldo in ’n motor-ongeluk betrokke was. Hulle het voor ’n groot mosaïek gaan staan toe dié woorde by haar opgekom het, vertel Retha.) Toe ons klein Ruan se diagnose hoor, het ek geweet God sal my die krag gee om dit te hanteer. Ek verstom my daagliks aan God se getrouheid. Dis geen maklike pad nie en baie trane is al gestort, maar Hy dra ons daagliks. Die egtheid van ’n mens se geloof word gedurig getoets en Sy genade is onbeskryflik groot. Voordat ons die dag pediater toe is, het ek my hart voor die Here uitgestort en Hy het vir my gesê: “Leo blom laat.” Dié storie oor 'n tiertjie wat laat ontwikkel het, het ek tien jaar gelede vir my ander seuns gelees. Ons het ’n breinskandering laat doen, asook verdere toetse by die Tygerberg Hospitaal. Die professor het gesê ons moet ons op die ergste voorberei. Ruan kan moontlik ook verstandelik gestrem wees. Die uitslag was dat ek ’n virus tydens swangerskap opgedoen het en dit sy brein aangetas het. Niks het daardie oomblik vir my gelyk of geklink soos "Leo blom laat" nie. Weer het ek my hart voor God uitgestort. Daardie nag het ek gedroom my seuntjie kruip. Dis nou byna twee jaar later. Ruan rol om, begin kruip en gesels ’n hond uit ’n bos. Ons het ’n wonderlike arbeidsterapeut op Riversdal en Ruan begin binnekort met swemlesse.  God voorsien in al ons behoeftes, en ons gesin is ’n eenheid. Sy planne is soveel beter en groter as ons s’n. Ons huishulp is ’n stukkie goud. Hy het ’n ouma wat onophoudelik vir hom bid en saam glo dat hy gaan loop.  Sy ander ouma ondersteun ons finansieel. Sy oupa en boetas is gaande oor hom en ons is baie lief vir ons stukkie sonskyn wat almal se harte aanraak met sy lag. Ons vriende en gemeente dra ons op in gebed en dit maak die wêreld se verskil! Nou die dag het ek weer 'n “dip” gevang en met die Here geworstel. Hy sê in Sy Woord dat Hy gister, vandag en môre dieselfde is en dat Hy ’n God van wonderwerke is. Waarom doen Hy dan nie vir Ruan ’n wonderwerk nie?  Die volgende dag ry ek verby ’n verbleikblom (yesterday-today-and-tomorrow), wat vol pers blomme is! Ons het dieselfde plant in ons tuin wat al twee jaar deur iets gevreet word en nie wil blom nie. Ek het by die boompie gaan staan en gebid dat God vir my ’n teken gee van ’n wonderwerk in Ruan se lewe. Die eerste pers blommetjie het kort daarna sy verskyning gemaak. Vandag is daar 17 blommetjies aan die boom. En dis nie al nie. Ek is seker hulle is groter as die normale. Ons is so opgewonde oor ons “Leo” wat laat blom. Dit was elke traan werd. Sharon du Toit, Riversdal