Ek was die bestuurder van die fabriek waar Virgin Coconut Oil gemaak is en moes telkemale inspring en help met die proses. Elke drie maande het die eienaars voorraad kom haal vir hul winkel in Suva (die hoofstad van Fidji). Dit was baie eensaam en alleen op die eiland. Ek kon nêrens heen gaan nie en daar was geen aktiwiteite waaraan ek kon deelneem nie. Binne ‘n kort tydjie het ek ‘n groot deel van die eiland verken en toe was daar niks verder vir my om te sien of te doen nie.

Ek het net twee uur per dag krag gehad (dankie tog vir kragopwekkers!), wat ek benut het om die internet te gebruik. Na gelang van hoe die wind buite waai, moes ek soms tot twee uur wag vir een e-pos om oop te maak. Daar was ook nie juis radio of televisie om van te praat nie. Gelukkig het ek ‘n gas-yskas gehad, hoewel daar ook nie veel in was nie, omdat die winkeltjies op die eiland nie in my behoeftes kon voorsien nie. Die baas het darem elke drie maande vir my vleis, groente, melk, kaas, sjokolade, wyn en ander kosvoorraad saamgebring. Dit moes dan vir drie maande hou. 

Tjaart Herbst 

Ek het daardie tyd baie gewig verloor en het elke dag kokosneutwater gedrink. Dis heerlik soet en smaak amper soos suikerrietsap. Dit het nie net my dors geles nie, maar gehelp dat ek sowat 15 kg verloor het binne ‘n bestek van 5 weke. Klink ongelooflik, maar dit is waar. Ek sou wat gee om weer so maer te wees, maar hier in Thailand waar ek woon, het ek al die gewig weer aangesit. Hier eet 'n mens baie rys en ander soet kosse wat deel is van die alledaagse Thai-dieet. 

Die eerste keer dat ek "kava" of "grog" gedrink het (die sogenaamde nasionale drank van Fidji), was ek geensins beïndruk met die smaak nie. Die inwoners noem dit "Fijian Whiskey", maar vir my lyk en ruik dit eerder na modderwater. Dit het ‘n peperagtige smaak en maak dat jou tong geen gevoel het nadat jy die eerste bakkie vol gedrink het nie. ‘n Oormaat veroorsaak dat jou vel later soos dié van ‘n slang begin voel en lyk. Dis ook ‘n groot oorsaak van maagkanker. 

 Kava in onverwerkte formaat. 'n Eilandbewoner berei kava voor. 
 So lyk kava voordat dit verwerk is.
 'n Eilandbewoner besig om kava te verwerk.

Die eilandbewoners is baie lief vir hul "rystee". Eenkeer is ek genooi vir rystee en kon nie wag om dit te proe nie. Dit sou my eerste kennismaking met rystee – Japannese rystee soos ek gedink het – wees. Groot was my verbasing toe twee bakkies voor my neergesit word: een met rys en een met tee (gemaak van suurlemoenblare wat gekook is). Die gebruik is om die twee bymekaar te voeg en dan te drink – Fidjiaanse rystee op sy beste! Dis sommer menigmaal ‘n ete vir die eilandbewoners. Nog 'n gewilde maaltyd is om ‘n pakkie cream crackers met margarien te smeer en dan in die tee te week; die uitgeswelde beskuitjies word geëet, terwyl die margarien-tee gedrink word. Ek het maar verby gehou by daai een.