(Lees van onder af op)

Saterdag 31 Oktober

Ek besluit om vandag deur die Mall te gaan stap. Jy kan my deur 'n ring trek toe ek my broer se dogtertjie gaan optel om saam met my te gaan. Haar ge"oe" en ge"a" oor hoe ek lyk laat my breed glimlag en ek voel lekker.

Ons twee loop van winkel na winkel. Alles het verskriklik duur geword. Of het dit? Is dit nie maar net 'n geval van ek wat dit net nie meer kan bekostig nie.

Die baie mense maak my benoud. Trollies en trollies wat oorlaai is van inkopiesakke woer verby my. Kersversiersels hang die hele plek vol. Mense sit in die gange by tafeltjies en stoeltjie en prop hulle monde vol van die lekkerste soetgebak.

Ek herken myself in hulle. Hoeveel saterdae het ek nie ook hier kom sit en lekker kosse bestel net omdat ek kon nie?

Koop laat ons mos beter voel. Of jy die item nodig het of nie, koop moet ons koop.

Ons stap by 'n bekende apteekgroep in, en ek koop my sjampoo en bederf myself en vir haar met 'n luukse lekkerruiksepie elk.

Hoe het dit gebeur dat ons mensdom so ingesluk is deur die materiële? Ons koop om iets binne ons te stil. Maar wat? Ek hoe gebeur dit? Bepaal ons inkomste wie en hoe ons gaan wees? Of het ons lewens so onnatuurlik geraak dat ons net deur die Mall gevoed kan word? Ons werk vir meer geld, spandeer al die geld op die aankoop van onnodigehede, net om weer te werk vir 'n salaris en die hele siklus te herhaal. Wanneer staan ons dan stil? Wanneer begin ons belê in onsself? Beleggings wat van ons beter lewende wesens maak. Lewende wesens wat weer omgee en uitreik in hul harte het. Wesens wat mekaar nie takseer op wat jy dra, waarmee jy ry of waar jy woon nie. Wesens wie se oë weer glinster vir die lewe en nie vir die hoeveelheid diamante aan die vinger of om die nek nie. Wat het van ons menswees geword?

Met die resessie het daar heelwat gesegdes wat begaafde, talentvolle wesens uitgedink het. Maar ek hou van die volgende een: "Don't live up to the Jones's next door, because they're bankrupt".

Woensdag 28 Oktober

Die res van die week gaan stil verby. Geen geld word inbetaal nie. Ek besef dit is Simon se manier om my gerus te stel. Wat hy egter nie besef nie, is dat ek op hierdie stadium net glo in dit wat ek sien. In beloftes sien ek niks, behalwe vir dit wat dit is: beloftes. As ek vra na die inbetalings, raak hy geiiriteerd. Ek los dit later en vra nie meer nie.

Ek werk egter net met die geld wat ek het. Hy ry elke dag om kliente te gaan sien, en elke dag kom hy huis toe met 'n groter opgewondenheid van potensiële verkope. Ek probeer hard om in sy optimisme te deel, maar ek is seker as hy mooi kyk, sal hy in my oë 'n dofheid sien, voor ek wegskram en anderpad kyk.

Ek weet hy verstaan nie. Hy sê ek is moeilik. Ek wil dinge rondom my reg hê, alles op sy plek, alles soos dit moet wees. Hy dink ek is puntenerig. In die koskas moet alles in rytjies gepak word, die linnekas moet volgens kleur gepak wees, die boekrak is volgens kleure gerangskik, beide van ons se kaste is volgens kleur, grootte en soort gepak.

Dit maak alles net makliker. Dit voel asof ek darem oor iets beheer het. Alles moet georden wees. Ek maak hom seker mal, maar wat sou hy sê met 'n deurmekaar huishouding rondom hom?  Sou ek dan lui genoem word, nee, dan liewer maar puntenerig.

Ek kry 'n oproep van die huurders in ons huis. Die vrou is 'n senior amptenaar by 'n bekende bankgroep. Haar pos het oortollig geraak en sy moet volgende jaar Maart klaarmaak. Twee jaar voor haar beplande aftrede. Die man het jare gelede reeds afgetree. Hulle kan nie meer die huur van die huis bekostig nie.

Wat nou?

Ek het heelwat geld van die vorige huis se verkoop oorbetaal na die huis by die see. Ons skuld nie baie nie, maar die huurinkomste was 'n goeie meevaller. Ons kon verbeterings aan die huis aanbring met daardie geld.

Ek praat die man moed in en sê ons moet bymekaar kom en kyk waar ons kan help. Miskien kan ons praat oor verminderde huur of so iets, ek het ook nie meer al die antwoorde nie. Ek weet nie!


Dinsdag 27 Oktober

Simon het 'n besige dag agter die rug en hy verwag dat geld binnekort inbetaal sal word van 'n item wat hy verkoop het.

Hy hou die bankinbetaling met fyn oë dop, maar teen laataand is daar nog niks inbetaal nie.

Maandag 26 Oktober

My salaris is vanoggend inbetaal. Dit beteken net een ding. Meng en pas, Sussie. Ek laat my egter nie onderkry nie.

Ek betaal alles sover ek kan, selfs my tiende vir die kerk. Ek sal op God vertrou vir hulp. Hy sê tog in sy Woord, Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Nou, waarvoor sal ek dan twyfel?

Ek het 'n ongekende rustigheid in my binneste. Ek sal nie meer stres nie. Ek sal van dag tot dag lewe, en vandag is wat saakmaak.

Buite is die ergste storm van seker die laaste 10 jaar. Winde waai teen 110 km per uur, maar nie eens dit sal onrustigheid in my bring nie.

Vanaand op die nuus wys hulle op TV hoe bome met wortels en al uitgewaai is, huise en besighede se dakke is afgeruk, maar binne my is dit steeds rustig.

Ek, Simon en Wouter, sit soos elke ander aand aan tafel en ek is dankbaar. Ek het 'n lekker hoender-roerbraai gemaak van die minimum, maar dit smaak heerlik.  

Sondag 25 Oktober

Ons het 'n heerlike dag saam met Anel en haar man.  Hy en Simon sit na ete in die tuin en gesels terwyl ek en Anel aan haar heerlike melktert smul.

Dis lekker om net vir 'n slag te kan gesels en lag sonder enige teken van bekommernis.

'n Mens moet ander mense sien. Jy kan nie net in jou huisie sit en jouself verknog nie. Wat help dit tog?

My hart is lig en ons ry gesels gesels terug huis toe. Simon lyk tog te koddig in my klein karretjie. Kiertsregop sit hy langs my. "Jong, ek kry 21 liter per kilometer met die karretjie," spog ek.
"Nee vrou, dis 12 km op 'n liter petrol," antwoord hy.
"O," sê ek, glad nie ingenome met die verpletterende nuus nie. Ek sal maar net stadig ry en kyk of ek by 21 kilometer uitkom, dink ek by myself. Ek wil dit dan nou glo.


Saterdag 24 Oktober

Vandag wil ek die pakkamer se lelike vensters toemaak met gordyne. Anel het vir my lap gegee en ek gaan vandag gordyne maak.

Toe ek my naaimasjien uithaal, ontdek ek nog 'n naaimasjien en oorkapmasjien waarvan ek lankal vergeet het.

Terug in die eetkamer probeer ek die masjien aan die gang kry. Ek sukkel en besluit om vir Anel te bel. "Anella, sal jy nie groot asseblief my gordyne omwerk nie, ek kry nie my masjien aan die gang nie. En o ja;, wil jy 'n oorkapmasjien hê, jy verf mos tafeldoeke, en ek is seker jy kan dit gebruik," gesels ek soos 'n stoommasjien voort. Haal net nou en dan asem, om maar weer aan te gaan met die gesels.

"Tallie, dit sal wonderlik wees, maar hoeveel gaan jy my vra," vra Anel. "Niks, dis joune, ek wil niks daarvoor hê nie."

Toe ek by Anel aankom, maak sy vir ons tee en vertel hoe iemand wat baie behoewend is haar die afgelope week gevra het vir lappe en verf. Die persoon het 'n mongooldogterjie, maar is baie arm. Die ma wil die dogtertjie besig hou en wat 'n beter manier om dit met lappe en verf te doen. Eie aan Anel, het sy meer as wat gevra is vir die vrou en haar dogtertjie gegee.

"En nou kom jy en gee vir my 'n omkapmasjien," sê sy. "Jy sien, as jou hand oop is, kan jy ontvang, maar as jou hand toe is, kan jy nie ontvang nie," antwoord ek.

"Kom eet jy en Simon sommer môremiddag by ons," sê sy net voor ek in die motor klom. "Dis reg, ons sien julle dan moremiddag," antwoord ek.

Toe ek terugry, besef ek net weer hoe groot onse Here is. Hoe Hy mense gebruik sonder dat hulle dit agterkom. Ons is en wil sy instrumente wees.

Nodeloos om te sê, ek het die gordynlappe by Anel gelos om te maak. Sy het seker gesien haar vriendin is hopeloos met 'n naald en gare. Wou ook seker maar nie vir my iets sê nie. Maar toe maar, ek is dalk weer beter in iets anders.

Vrydag 23 Oktober

Ek fokus heeldag en gee my werksverslae betyds in. Dis lekker - ek is besig en so ook Simon.

"Skat, ek kan nie glo dat my vorige werkgewer so lieg in die hofstukkie nie", laat Simon hoor. Hy was nog nooit een wat sommer gepraat het nie, en ek kan net dink dat hy nou, 'n week na die hofsaak, eers daaroor praat.

"Ek glo die Here gaan daardie man en sy liegstories openbaar, Simon," antwoord ek. "Los hom, ons moet hom nie oordeel nie. Moet ook nie haar in jou dra teenoor hom nie," probeer ek raadgee.

Toe ons lekker ver gaan stap langs die see, loop ons van ons vriende raak. Hulle is bly om ons te sien. Hy het sy eie besigheid en sy vrou werk vir hom. Ons gaan sit sommer op die gras en gesels.

"Hoe gaan dit?" word die vrae oor en weer uitgeruil. "Sleg," antwoord hy, "ons kan nie meer bybly met ons huispaaiement nie. Die besigheid is doodstil. Ek het probeer om een van my bakkies te verkoop, maar daar is nie kopers nie".  

Ons vertel van die aanpassings wat ons moes maak, die motor inruil op twee motors, kleiner huis getrek en so borduur ons voort.

Hulle moes ook van hulle polisse kanselleer en het net die nodigste gehou.

Ons bespreek hoe ons almal sal moet saamstaan ten einde hierdie ressessie die hoof te bied.

Toe ek en Simon huis toe stap, besef ons hoekom daar van ons vriende is wat ons net nie kontak nie. Hulle sit elkeen met hul eie finansiele probleme, hetsy dit groter of kleiner is as ons s'n.

Ons is nie allees in hierdie bootjie nie.

Donderdag 22 Oktober

Simon is opgewonde toe ek hom vroegoggend in die kombuis met sy koffie aantref. Sy foon het vroeg gelui en dit is 'n moontlike koper vir die een of ander item. Hy gaan stad toe en wil vroeg ry.

Ek het 'n rustigheid in my en weet dat alles ten goede sal uitwerk.

Mia laat weet my uit Amerika dat sy en haar verloofde vir my 'n vliegtuigkaartjie bespreek om einde Januarie volgende jaar te kom kuier.  Sy is swanger en die babatjie arriveer einde Januarie.

Ek is soos iets wat aan vertraagde skok ly. Dit neem 'n rukkie om aan die gedagte gewoond te raak.

Sal Simon en Wouter okei wees? Sal alles vlot verloop terwyl ek weg is? Wat as?

Woensdag 21 Oktober

Ek gesels met Ansie, 'n oulike voortvarende vrou, wat in alles net die humor sien. Ek vertel haar van my spyseniersplanne.

"Nee vrou, daai is harde werk vir min geld. So laat ek my nie deur die gat trek nie," antwoord sy op my opgewonde nuusmeedeling. "Jy is reg, maar alle bietjies help," antwoord ek.

Ek lag nietemin vir haar eerlike, plattelandse gesegdes.

Toe ek die telefoon neersit, begin ek met my spyskaart. "Flip, die geld is nie baie nie, ek sal alles moet insit om 'n redelike wins te maak," dink ek by myself.

Die dame het gevra vir hand-eetgoedjies, maar dit werk te veel uit. Ek besluit op drie geregte, seekos-paella, lasagna en hoender-a-la-king met groenslaai en broodrolletjies.

Ek stuur die spyskaart deur en hoop vir die beste.

'n Vriendin stuur vir my 'n SMS wat lui dat die Here nie wil hê ons moet swaarkry nie. Ons geluk, welvaart en alles wat goed is word van ons gesteel deur die duiwel. Ons moet dit terugeis in die naam van Jesus.

Toe ek die kombuis instap, sê ek vir Simon ons swaarkry stop nou net hier. "Ek pleit alles wat goed is, ons gesondheid, welvaart, liefde in die huis terug in die Naam van Jesus."
"Die duiwel en sy gesante sal nie langer van ons steel nie, en dit sluit sy vorige werkgewer in."

Simon skrik so groot, hy neem my aan die arm en sê "ontspan vrou, jy gaan instort as jy jou so opwerk." "Ek is ok," antwoord ek, "maar nou het die duiwel genoeg gesteel van ons."

Mol en haar vriend kom braai by ons. Elkeen bring sy eie vleisie en 'n slaai en saam maak ons 'n heerlike ete.

Ek en sy sit in die kombuisie langs die oulike klein eikehouttafeltjie wat voorheen in Mia se kamer in die ou huis gestaan het.

Sy vertel my dat sy besig is om 'n boek te lees waarin staan dat ons ons geluk moet terug "claim", want dit is wat die Here vir ons wil hê. En toe weet ek dit is 'n bevestiging van die sms wat vroeer vandag deurgekom het.

Die Here wil ons nie laat sukkel nie, maar ons moet dit terugeis en die bloed van Jesus daaroor bid.

Dinsdag 20 Oktober

Ek is oppad na Hoofkantoor, toe ek in die voordeur omdraai en na Simon kyk. "Gaan doen bemarking in die binneland. Gaan maak dan sommer 'n draai by jou ma-hulle. Slaap sommer daar, dis te ver om terug te ry," gee ek rigting vir die dag.

Buite waai die suidooster dat my arme rose skuins lê. Ek is sommer geïriteerd met die wind, hou dit dan nooit op waai nie? En as dit waai, moet dit so sterk waai?

Simon skakel my later die dag. Hy het 'n baie vrugtevolle dag gehad. Baie moontlikhede het opgeduik deur die dag en hy is skielik baie gemotiveerd.

Mol bel my op pad huis toe en vra dat ek sommer aandete by hulle moet kom eet. "Vir wat sal jy nou alleen by die huis sit vanaand?" vra sy verontwaardig. Terwyl ek by haar sit, lui my telefoon. 'n Goeie vriendin van my vra of ek spyseniering vir hulle jaarafskeid sal doen. "Natuurlik," antwoord ek.

Ek het vroeër spyseniering gedoen, maar dis baie jare gelede. Ek en Mol sit koppe bymekaar. Sy gaan my help en ons begin die spyskaart bespreek. 

Maandag 19 Oktober

Daar is geen geld op Simon se selfoon of "werktelefoon" nie. Ek sê niks, want as hy geld het vir drink, het hy seersekerlik geld vir telefoon. Ek is moeg vir gee, gee, gee.

Ek gaan aan met werk en maak asof ek nie die telefoonstem hoor wat sê daar is geen geld op die foon nie.

Hy moes ook seker moeg geraak het van die blikstem, want toe hy terugkom, sit hy geld op die foon. Ek is seker hy het sy oortrokke tjekrekening gerek tot sy maksimum.  Ek is egter ongeërg. Ek is steeds vies oor sy gedrinkery Vrydag. En ja, ek weet dis al Maandag, maar dis hoe ek voel.

Sondag 18 Oktober

Ek is nog steeds nie lus om met Simon te praat nie. Hy kyk my skaapagtig aan ek kan seker nie verstaan dat ek steeds nie met hom wil praat nie.

"Verstaan die man nie?" wonder ek. "Ek staan by hom. Ek skaal af saam met hom. Ek is bereid om alles saam met hom te doen. Hy moet my net nie in die steek laat en drink nie. Hy moet my nie in die skande steek en drink nie. Hoekom moet hy drink? Wat het geword van sy stappery? Wat het geword van sy fokus?" Ek wroeg en kan nie verstaan nie. Miskien verstaan ander mense. Ek sukkel regtig om dit te verwerk.

Saterdag 17 Oktober

Ek staan vroeg op. Dis 'n heerlike sonskyndag. Ek klim in my motortjie en vat die pad. Ek gaan kuier by een of twee vriendinne, drink lekker tee en lag dat die trane loop. Ek besef net dat ek nie hierdie pad kan loop sonder my goeie vriendinne nie. Hulle vra nie, hulle wil nie weet nie, hulle is net daar. Ek wens ek het geld gehad om hulle lekker te bederf. "Stadig, Tallie", "daar is nie geld vir bederf nie. Maak ander planne wat nie geld kos nie", betig ek myself.

Jy kan meer vir ander mense beteken as wat geld kan koop. Alles moet nie net aan geld gemeet word nie. Was hierdie resessie nie dalk die Here se manier om ons almal weer terug te bring aarde toe en te laat vergeet van geld nie? Ek vra myself. Ek wonder maar net.

Sondag 18 Oktober

Ek is nog steeds nie lus om met Simon te praat nie. Hy kyk my skaapagtig aan ek kan seker nie verstaan dat ek steeds nie met hom wil praat nie.

"Verstaan die man nie?", wonder ek. "Ek staan by hom. Ek skaal af saam met hom. Ek is bereid om alles saam met hom te doen. Hy moet my net nie in die steek laat en drink nie. Hy moet my nie in die skande steek en drink nie. Hoekom moet hy drink? Wat het geword van sy stappery? Wat het geword van sy fokus?" Ek wroeg en kan nie verstaan nie. Miskien verstaan ander mense. Ek sukkel regtig om dit te verwerk.

Vrydag 16 Oktober

Die uitstalling eindig vandag. Die hofsaak is vandag. Ek probeer aan niks dink nie.

Simon is nog gedrink toe ek opstaan en vir hom sien ek glad nie kans nie. Ek klim in my motor en ry werk toe.

Die advokaat bel my laatmiddag. Hy kry nie vir Simon in die hande nie. Hy vertel my wat die uitslag van die hofsaak is. Die regter het uitspraak voorbehou. Dit beteken kortliks dat die regter op 'n later stadium (niemand weet wanneer nie) uitspraak sal lewer.

Wanneer hou hierdie hofsake, werkloosheid, ressessie, Simon se ad hoc-drinkery op? Ek weet nie meer nie, maar ek kan voel dat die Here in beheer van my lewe is. Ek kan voel dat Hy my beskerm, ek voel dit net, ek weet dit.

Maandag 12 Oktober

Dis Wouter se verjaarsdag. Hy is vroeg uit die huis met sy verjaarsdagkaartjie onder die arm. Hy's altyd so dankbaar - of dit 'n kaartjie, kontantjie of niks - hy is altyd dankbaar.

Ek skakel hom laatmiddag om te hoor of ek enige iets spesiaals vir hom kan maak vir aandete.
"Nee wat, mamma, wat mamma maak is reg."
"Dankie Boeta," antwoord ek.

Simon kom by die huis met 'n heerlike sjokoladekoek vir Wouter.
"Mmm, die koek was nog lou uit die oond toe ek dit koop," kondig hy trots aan.

"O, dit lyk heerlik,"  probeer ek sy optimisme voer.

Toe Wouter vroegaand by die huis kom, kondig hy sonder huiwering en met groot opgewondenheid aan dat hy, Liz en vier vriende by die huis sal wees vir aandete.

"O," antwoord ek. Stom. "Hoe ver gaan ek die hoender gerek kry vir almal", vra ek saggies vir Simon in die kombuis. "Ek weet nie vrou, maar rek sal jy moet rek", antwoord hy.

Ek skil nog 'n paar aartappels, en aartappels is nou so vrek duur, maar ek skil. Ek loer in die yskas en haal uit wat nog gaargemaak kan word.

Toe ons almal later aan ons pragtige rooshout-eetkamertafel sit en opskep, dank ek ons Hemelse Vader vir die hoender wat nou so baie lyk. Daar is 'n vrolike gelag en gesels aan tafel. Die jongklomp eet asof hulle weke laas kos gesien het. Daar word oor en weer gespot, grappe gemaak en gelag.

My hart is vol en warm - ek en Simon kyk vir mekaar - en altwee weet - dít kan geen geld in die hele wereld koop nie. Wouter, Liz en hulle vriende geniet hulle gate uit. Na ete word die sjokoladekoek uitgehaal en verorber soos net 'n klomp jongmense kan.

Ek en Simon sit by die kombuistafel en verlustig ons aan die jongklomp se spottery in die eetkamer.

Dinsdag, Woensdag en Donderdag is ek besig met 'n uitstalling vir buitelanders. Ek kan sien Simon stres oor die komende hofsaak Vrydag. Ek sê niks, want ek wil niks sê nie. Ek wil ook nie dink nie. Ek wil niks.

Ek gaan aan met my werk en is bly om bietjie weg uit die huis te werk.

Donderdagaand gaan ek gou by Mol 'n draai maak. Ek skakel Simon en sê waar ek is.

Toe ek by die huis kom, sien ek Simon het gedrink.

Ek druk wattepluisies in my ore en gaan slaap. Ek is regtig nie lus vir manlief nie. Ek is nie lus om met hom te praat nie, ook wil ek nie na hom luister nie.

Sondag 11 Oktober

Dis toegetrek buite en begin liggies reën. Simon sit na die een of ander storie en kyk. Ek dink aan wat ek die afgelope paar maande sedert Simon se aflegging geleer het.

  1. Maak onmiddellik finansiele aanpassings. Daar is baie goed waarsonder ons kan oorleef, jy moet net wil.
  2. Behou jou waardigheid.
  3. As jy oor die skokfase is en die werklikheid begin insink, weet dat God al die tyd by jou was. Begin met Hom praat soos met 'n pa. Bid, vra, smeek, vertrou, glo en onthou om dankie te sê, want daar gaan altyd iets wees om voor dankie te sê.
  4. Omring jou met potitiewe mense, en moet jou nie steur aan mense wat dink hulle is beter as jy nie, dis dalk net een van hulle wat oor twee maande saam met jou in die UIF-ry sit.
  5. Praat, skryf, sing, stap, drink tydelik kalmeerpille - doen enige iets om van die stres ontslae te raak. Moet net nie aan alkohol en negatiewe gedagtes begin klou vir oorlewing nie.
  6. Gaan kuier gereeld by 'n vriend of vriendin en praat oor hoe jy voel. Jy is nie die enigste persoon wat ooit afgelê is nie, en seersekerlik ook nie die laaste nie.
  7. Probeer die humor in die situasie sien - as jy dit nie onmiddellik sien nie, soek daarvoor - daar sal iets wees, al is dit in die planne wat jy maak om oorlewing. 
  8. Versorg jouself. Hou jouself skoon en netjies. Die parfuumbottel het nie skielik leeggeword saam met die aflegging nie, daar is nog parfuum oor - spuit dit.
  9. Moenie vir môre leef nie - leef vir vandag. Ek het my duur linne weggebere, nooit oopgemaak nie, vir wat? Nou slaap ek heerlik daarop en dit laat my goed voel.
  10. Begin innoverend dink. Hou by dit wat jy ken. Bly gefokus.
  11. Moenie vasklou aan materiele dinge nie. Maak skoon, gee weg, verkoop. Jy sal verbaas wees hoe wonderlik lig jy agterna voel.
  12. As jy 'n oop hand het, sal jy verbaas staan oor die seëninge wat van die mees onverwagse oorde, daarin val.

Saterdag 10 Oktober

Ek staan vroegoggend op en help 'n vriendin trek. Ek laat sny my hare en voel beter en mooier vir myself.

Toe ek by die huis kom, het Simon heelwat uitgerig. Karre gewas, stoor reggepak en ek kan sien hy lyk tevrede met homself. Ons gaan kuier laatmiddag by 'n vriendin. Twee ander vriendinne is ook daar. Vir 'n oomblik vergeet ons van al ons probleme en lag en gesels dat die trane loop.

Vrydag 9 Oktober  

Dis besig by die werk en die dag vlieg verby. Simon byt vas met sy bemarking. Sy  telefoon lui en die navrae lyk goed.

Ons gaan slaap vroeg.

Donderdag 8 Oktober

Simon is druk besig om sy einde-van-die-jaar-pryslys te bemark. Hy is gemotiveerd. Ek sorg dat ons elke aand na ete 'n blok of drie gaan stap. Ons bly so na-aan die see, dat dit binne 5 minute se stap is tot daar.

Ek kan sien hy is trots, hy is gemotiveerd. Ek hou hom egter nog steeds op sy kruie-kalmeerpille. Net vir ingeval. Ingeval wat? Ek weet nie, maar ek gaan nie 'n kans vat nie.

Hy slaap lankal toe ek my gesig gaan was en tandeborsel. Snaaks dat mens op eienaardige tye aan sekere goed dink. Terwyl ek tandeborsel, kom 'n verwesenheid in my op.

Hoekom is die vorige werkgewer so mags- en materialisties-behep dat hy Simon nie gun om brood en melk vir sy huis te kan voorsien nie.

Henk, die vorige werkgewers het 6 groot kantoorblokke, hy besit verskeie luukse eiendomme, die spoggerige duur motors wat hy besig het 'n hele paar miljoen rand gekos, hy het verskeie besighede, hulle gaan op duur oorsese vakansies met sy hele gesin. Ek gun dit vir hom, want hy het seersekerlik hard gewerk daarvoor. Maar hoekom moet hy elke liewe persoon wat sy diens verlaat, hetsy vrywilliglik of gedwonge, hof toe vat? Is die man van sy kop af?

Al wat ek vra is laat Simon toe om vir basiese behoeftes vir sy familie te kan sorg. Simon het alles verloor. Sy waardigheid as voorsiener vir die huis, sy trots as man en pa, hy moet 'n bakkie ry wat deur sy vrou voorsien is. Hy eet die kos wat deur sy vrou en seun voorsien word. Dit kan en mag mos vir geen man aanvaarbaar of lekker wees nie.

Ons ken nie hofsake, hofdokumente, balju's wat by jou huis aankom, Prokureurs, advokate en ander regsbedrywighede nie. Die hofsaak is binne die volgende paar dae enek kan sien die vreet aan Simon. Wat as? Sê nou maar net? Vrae met geen antwoorde. Ons vertrou op God en weet dat Hy alles ten goede sal laat meewerk.

Woensdag 7 Oktober

Gewapen met my tjekboek, id-dokument en salarisstrokie durf ek die bank aan. Ek kry 'n ander konsultant as gister. "Ek wil graag my tjekrekening toemaak," verklaar ek dapper. "Mevrou, het jy bewys van jou adres saamgebring?" vra die maer, onvriendelike vroutjie van agter haar groot ronde brille.

"Nee, ek het nie, want niemand het vir my gevra om dit saam te bring as ek my tjekrekening wil toemaak nie," antwoord ek met 'n stem wat al hoër in oktaaf klim.

"Jammer, mevrou, maar dan kan ek jou nie help nie," antwoord brilvroutjie. "Ek wil die rekening toemaak, nie een oopmaak nie, waarvoor het julle my adres nodig?" vra ek met oë wat al groter, en 'n gesig wat al stywer span.

"Hoekom het julle nie gister al vir my 'n volledige lys gegee van alles wat ek moet saambring om die rekening toe te maak nie?" vra ek, nou sonder veel ordentlikheid. My geduld is op en ek is seker die trouringlose brilvroutjie oorkant my geniet haar oomblik van outoriteit.

"Want," antwoord sy, "die konsultante werk nie almal met dieselfde rekenings nie." "Dit is wet mevrou, ons soek bewys van jou adres." 
"Kyk," daar is geen manier wat ek more vir die 4de agtereenvolgende dag hierheen kom om 'n dekselse tjekrekening toe te maak nie." Ek tel my selfoon op en begin vir Simon skakel. "Skat, bring asseblief die 2009-persoonlike lêer wat in die rak is hierheen," vra ek.

Ek is so gefrustreerd dat ek kan skree.
"Mevrou," gaan brilvroutjie voort, "voordat jy die rekening kan toemaak, moet jy 'n verdere R207,42 betaal." "Waarvoor?" vra ek duidelik vies op my gesig geskryf.
"Vir admin-koste," antwoord sy in dieselfde trant asof ek vir haar so pas gevra het watter nommer skoen sy dra.

Ek betaal die R207,42 by die kassier. Ek betaal met 'n 5c om die 42c vol te maak. 'n Mens kry mos nie meer 1c en 2c nie. "Mevrou, mag ek maar die 3c hou, ons gooi dit weg, want niemand werk meer met die geld nie?" vra sy vriendelik.
"Nee," antwoord ek, "ek wil die 3c hê." Al gooi ek dit buite op die sypaadjie, ek sal nie vir die bank 'n verdere 3c gee nie. Prinsiep. Beginselsaak.

My tjekrekening is uiteindelik toegemaak, sonder dat brilpoppie een keer gevra het waar my ou tjekboek is. Grrrr!

Dinsdag 6 Oktober

Ek wil vandag bank toe gaan om my tjekrekening te gaan toemaak. Ek gebruik nie tjeks nie, nou vir wat sal ek aanhou R190-00 per maand betaal vir iets wat onnodig is.

Eers moes ek 'n afspraak by 'n konsultant maak. Ek wag geduldig. Die minute tik, tik, tik verby. Die konsultant is 8 minute laat en vir my voel dit soos 80 minute.

"Gaan die konsultant nog lank wees? Ek moes by die werk afvra om hier te wees," vra ek, duidelik geirriteerd aan die ontvangsdame.  "Mevrou, daar is iemand by haar,"  kom rapporteer die verskrikte dingetjie. "So? Wat nou? Sy is al 10 minute laat vir ons afspraak, wat ek terloops, gister al gemaak het," antwoord ek Verskrik.

Uiteindelik sit ek oorkant konsultant.
"Jammer mevrou, maar jy moet jou tjekboek en salarisbesonderhede saambring," antwoord sy bekwaam.

Ek stap vies uit die bank. Sal môre weer probeer om my geld-etende tjekboek te sluit.

Ek bel die kinders, Wouter en Liz, om by ons te kom eet. Ons gesels, lag en ek besef net weer hoe belangrik familie is droogtetye soos hierdie is.

Maandag 5 Oktober

Ek het laasnag sleg geslaap en staan sommer met 'n beneuktheid op. Telkom skakel om die fone te kom installeer. Aaa, darem een ligpuntjie.

Die ligpuntjie het nie lank geduur nie, want toe Telkom-mannetjie hier kom is daar geen pype of kabels gelê vir die instellasie nie. Ons moet 'n elektrisiën kry om die nodige kabels te lê. Skakel die eienaar want hulle is glo veronderstel om die pype te installeer. Nee, hulle gaan nie betaal nie. Nog geld. Simon moet ook geld aan die prokureur gaan betaal wat sy saak behartig.

Simon vra of hy die geld kan gaan trek. Ek verloor my humeur heeltemal met hom. Ek gaan gal-af oor die geld wat ek die laaste twee weke moes betaal en daar geen inkomste van sy kant af inkom nie. "Skat, ek probeer," sê hy. "Wel, probeer harder!" snou ek hom toe.

Ek is net so gatvol van betaa,l betaal, betaal. 

Ek klim in my klein karretjie en ry bank toe. Terwyl ek by die teller staan, klop iemand op my skouer. Dis Liz en haar ma, Yvonne. Ek sien Yvonne lyk nie lekker nie. "Kry my na die bank by die koffiewinkel," nooi ek.

In die koffiewinkel begin pak Yvonne af. Sy is 'n enkelouer, het twee maande gelede haar werk verloor, haar agent het vir hulle kennis gegee om te trek. Sy huil dat die trane loop. Sy praat, pak af - ek sien sy kan nie meer nie.

"Liz, gaan oor apteek toe ek kry vir moeder hierdie pille," vra ek vir Liz. Oulike kind soos sy is, spring sy op en stap oor apteek toe. "Ek drink nie pille nie," se Yvonne. "Ek het nie gevra of jy pille drink nie, jy het iets nodig om jou te kalmeer en bietjie buite jou situasie te plaas. Dis dieselfde pille as wat ek vir Simon gekry het, en dit werk."

Skielik lyk my eie situasie nie meer so donker nie. Ons drink klaar koffie en ek gaan koop vir Simon 'n groot groot sjokolade.

Toe ek by die huis instap, sê ek, "Ek's jammer dat ek so afgegaan het. Ek moes dit nie op jou uitgehaal het nie."
"Dis okei," antwoord hy en gaan aan waarmee hy besig is.

Ek klim vroegaand in die bed en slaap die laaste paar uur van die nare dag verby.