(Lees van onder af op)

27 November

Ek is vroegoggend oppad Hoofkantoor toe, toe my telefoon lui.

"Tallie, dit klink asof jy ry, kan ek praat?" vra die prokureur aan die anderkant van die telefoon. Ag Here, moet tog nie dat die man nou geld soek nie, hoop ek by myself.

"Ja, ek ry, maar jy kan maar gesels," antwoord ek my opgewekte self.

"Tallie, julle het die Hoofgeregshofsaak gewen!"

Ek gil, lag en huil gelyk. "Dankie, dankie, dankie," antwoord ek dankbaar.

Simon kan aangaan met sy besigheid, sy visitekaartjies laat druk, registreer vir BTW, daar is so baie om op te noem.

Ons kan weer ons lewe hervat!


26 November

Vandag is my verjaarsdag en ek besluit om sommer soos die vriende bel, hulle te nooi vir 'n eenskottelgereg en slaai.

Ek dek die tafel mooi en Liz dek al wat 'n mooi ding is wat sy in die kas kan kry.

Laatmiddag skakel die ondersoekbampte. Die diefstalsaak is uit die hof gegooi. Daar was geen kontant of ongerymdhede betrokke nie. Die vorige maatskappy het net gebaat wat besigheid betref en die landdros kon dus geen ander uitweg sien as om die saak uit die hof te gooi nie.

Ek en Simon is verheug en ons dank ons Hemelse Vader.

Die res van die dag is egstra lekker, want geen mens kan met sulke aantygings teen jou 'n gemaklike lewe ly nie.

Ons vriende daag op en dis 'n heerlike aand van gesels, gelag en sommer net weer menswees.

25 November

Toe die ondersoekbeampte vroegmôre met sy assistent opdaag, bewe my hele liggaan van binne.

Simon, ondersoekbeampte en sy maatjie gaan sit by die eetkamertafel. Ek besluit om my aan die onderpunt van die tafel tuis te maak.

Ondersoekbeampte lees die verklaring en noem dat die vorige maatskappy 'n diefstalsaak gemaak het teen Simon.  Hallo?! Jy hoef dit nie so uit te spel nie, ons weet al van hierdie saak vir die afgelope vyf maande. Wat ons egter nie weet nie, is waaroor die saak gaan, dink ek by myself.

Dit gaan toe blykbaar oor 'n tweedehandse produk wat verkoop is, ten einde 'n nuwe een aan die klient wat die tweedehandse produk verkoop het, te verkoop.

Simon gaan haal 'n skryfboek waarin hy maande gelede al die feite neergelê het. Die ondersoekbeampte stel voor dat hy 'n afskrif maak van sy geskewe verklaring. 
"O nee, hulle kan wragtig nie daardie geskrewe stuk van Simon gebruik nie, want geen mens kan Simon se handskrif uitmaak nie, wat nog te sê van die landdros wat uitsluitsel oor die saak moet gee," dink ek.

Ek spring op en stel voor dat ek die hele verklaring op die rekenaar uittik. Ek nommer elke handeling wat plaasgevind het, presies sodat daar geen ruimte vir onduidelikheid is nie. Simon lees en ek tik.

Toe ons die getikte en getekende verklaring aan die ondersoekbeampte oorhandig, lees hy dit deur. Hy skud sy kop.

"Meneer, hierdie  verklaring gaan nou hof toe vir die landdros om te besluit of hulle aangaan met die saak al dan nie," sê hy. En met dié staan hy en sy assistant op en vertrek.

24 November

Ek reël dat ek vroegoggend gou kan wegglip om vir Kobus te kry vir koffie. Dis moeilik om hierdie eens trotse, regop man te assosieer met die hangskouer, moeë Kobus wat ek by die koffiewinkel ontmoet. Hy is reeds daar toe ek arriveer. Langs hom staan 'n leë koppie, yskoud.

"Hoe gaan dit met jou?" vra ek toe ek gaan sit. "Tallie, ek is desperaat vir werk. Ek is wit, in my middeljare en oorgekwalifiseer."
"Hoe weet jy dit?" vra ek. "Van die ondernemings waar ek aansoek gedoen het, het dit duidelik laat blyk."

"Julle sal moet aanpassings maak, Kobus" sê ek. "Verkoop julle motors en koop goedkoper motors."
"Ons kan nie, ons skuld is te hoog op beide motors," antwoord hy moeg.
"Wat van die huis? Kan julle nie die huis verkoop nie?" probeer ek weer.
"Ek was by die huisagente, die huismark is steeds doodstil, veral in luukse huise. Daar is net geen navraag nie," antwoord hy.
"Hemel, Kobus, julle sal iets moet doen! Kan Sonja nie weer gaan skoolhou nie?" probeer ek oplossings kry.
"Nee, sy wil juis nou by die huis wees vir klein Kobus," kom die eerlike antwoord.

"Daar hang 'n klomp skilderye in die huis wat Sonja geverf het. Dit is waarmee sy haar bedags besig hou, om te probeer cope met die situasie," vertel hy.
"Ah, ek het 'n goeie plan, laat sy 'n uitstalling hou by die een of ander venue," probeer ek weer planne beraam vir hulle. Hy steek egter vas, hy moet werk kry, so al asof al hulle probleme dan opgelos sal wees. Hy is reeds 9 maande sonder werk. Selfs al kry hy môre werk sal die finansiele agterstand nie onmiddellik uitgewis wees nie. Verstaan hulle dit nie?    

Ons drink koffie en ek nie aanvaar dat hier die hooggeleerde vriend van ons nie kan insien dat hulle enigste uitweg is om onmiddellik te begin afskaal nie. Hy erken teenoor my dat Sonja steeds die front voorhou as die suksesvolle, finansieel-onafhanklike familie.

Wanneer wil hulle wakkerskrik? Wanneer die balju aan die deur kom klop en die huis terugneem, die motor of dan nou motors?

Almal besef daar is 'n resessie wêreldwyd aan die gang. Mense doen enige iets om te oorleef. Ek hoor vanoggend oor die nuus dat reeds 750 000 mense hulle werk, net in Suid Afrika verloor het. Vermenigvuldig dit met 4 vir die persone by die huis en die bedrag kom op 'n aardige getal te staande. Dit is die hoeveelheid mense wat direk affekteer word wanneer broodwinners afbetaal word.

Ek het op hierdie stadium eintlik min simpatie met enige iemand wat nie bereid is om aan te pas by hulle nuwe, gedwonge omstandighede nie. Dit is nie lekker om die aanpassings te maak nie, maar dit kan gedoen word. En as ek terugkyk na ons eie situasie van die afgelope 4 maande, het ons dit oorleef en sterker, ja, baie sterker anderkant uitgekom.

Simon kry 'n inbetaling van 'n produk wat hy verkoop het. Ek is oorstelp van vreugde.
"Simon, ons het nou so gewoond geraak om met min klaar te kom. Kom ons sit die geld weg vir wanneer ons dit nodig kry," deel ek Simon opgewonde mee.
"Jy is reg my vrou, hou dit eenkant. Ek stem saam dat ons dit nie moet gebruik nie."

23 November

Dis 'n wonderlike sonskyndag. Simon is heeldag op die telefoon besig.

Ek laat sak my kop en probeer verlede week se werk inhaal.

Ons kry twee slegte tydings. 'n Goeie vriend van ons het gistermiddag verongeluk. 'n Ander vriend van ons was ook gistermiddag in 'n baie slegte motorongeluk, hy lê kritiek in die hospitaal. Hy is in 'n koma.

Ek dink aan wat met ons gebeur het die afgelope paar maande, en weereens besef ek dat ons net vir vandag moet leef. Dat gister en môre nie saakmaak nie. Elke dag sal vir homself sorg.

'n Jarelange vriend, Kobus, skakel my. Hy het vroeer 'n baie senior-pos beklee. Hy het ook sy werk verloor. Die verskil tussen hulle en ons is egter dat hulle nie bereid is om aanpassings te maak nie. Hy ry nog steeds sy duur Duitse motor, en vroulief sit ook by die huis en is meer bekommerd oor wat die bure en familie sê as wat sy bereid is om te vergeet van die duur privaatskool wat "Boetie" in is. Die kind is nog nie in die laerskool nie, nog net in voorskool, maar baie geld word maandeliks aan duur privaat onderrig spandeer.

Vroulief ry met 'n nuwe sportmotor en wil niks weet van die bankbalans wat al leër raak nie. Dit voel asof sy haar kop in 'n gat steek soos 'n volstruis, en hoop dat alles sal weggaan. 

Hy wil hê ons moet more gaan koffiedrink. Ek bespreek dit met Simon. "Ek het regtig nie krag vir ander mense se probleme nie, gaan jy maar," wikkel hy hom uit die koffie-afspraak.

"Goed, ek sal gaan," antwoord ek.

Ons gaan stap 'n lang ent na aandete. Dis nodig en ons gesels vir 'n slag lekker.

22 November

Dis Sondagoggend en heerlik buite. Geen wind, wat wonderlik is.

"Kom ons ry uit Franschhoek toe en gaan loop bietjie rond," nooi ek Simon. "Nee, kom ons ry liewer Worcester toe," antwoord hy my.

"Hoekom moet jy altyd dwarsneuk?" vra ek vies. En die volgende oomblik pak ek af.

"Waar kry jy geld om so te drink," vra ek, en waarom drink jy so baie, gaan ek aan.
"Ag los dit tog, dis verby," antwoord hy my.

"Nee, ek gaan nie stilbly nie, want ek kan sien ons is besig om uitmekaar te dryf."
"Hoekom slaap jy op die bank? Al wat jy doen is TV-kyk. Jy gaan regtig nie besigheid kry terwyl jy op jou rug op die bank lê nie." 
"Daar kom volgende week geld in," antwoord hy. "Ja, en die week daarna en die week daarna en honderde weke daarna!" gil ek op hom.

Ek gaan stap laatmiddag langs die see. Dis warm en die strand is vol mense wat in die son lê en bruinword.

Simon is die vriendelikheid self toe ek terugkom. "Skat, ek probeer my bes. Regtig. Ek het net nou en dan nodig om met iemand te gesels en ek doen dit makliker met 'n man as met jou. Ek wil nie hê jy moet verder bekommer nie, maar jy sal sien hoe my besigheid optel. Dis resessie en ek moet net aanhou bemark. Daar is baie navrae."


21 November

Ek slaap lekker laat. Wouter, Liz en nog van hulle vriende kom tel my op om saam te gaan bergklim. "Ag vadertjie tog," dink ek, "ek kry sommer 'n pyn in my been. Wanneer laas het ek gaan bergklim?"

Hulle aanvaar geen nee vir 'n antwoord nie, en kort voor lank begin ons die berg uitklim. Dit proes, hyg en my asem jag, maar ek sit alles in en kort voor lank geniet ek die stap. Die plantegroei en uitsig is pragtig. Ek wil die natuur bewonder, maar hulle stap om by 'n seker punt uit te kom voordat ons gaan omdraai. Wouter het gesorg dat daar genoeg water, warmgoed, soetigheid en droë sokkies in sy rugsak is.

Die dag ontvou in 'n pretdag met watervalle, singery, foto-nemery en onderlinge gespot.

Terug by die huis, vind ek vir Simon voor die TV, besig om sport te kyk.

Ek en hy begin al hoe verder van mekaar wegbeweeg. Ons geselsies is oppervlakkig en met 'n baie ordentlike "Wil jy kos hê, wil jy tee hê?" probeer ons die huis en huwelik aanmekaar hou. Simon slaap meestal op die bank en ek het die kamer vir my self. Dit is nie gesond nie, maar ek het nie meer raad vir alles bymekaar hou nie. Simon kan mos ook maar sy deel doen.


18 November

Ek het geen idee hoe laat Simon gaan slaap het nie, maar toe ek opstaan, sien ek hy slaap nog.

Ek trek die gordyne oop en maak tee. Ek loop terug na my kamer en klim in die bed. "Here, ek kan nie meer alleen hierdie wa deur die drif trek nie." Ek raak weer aan die slaap en toe ek wakker word, is Simon weg. Hopenlik het hy gaan werk, hoop ek by myself.

Ek rus vir die volgende paar dae en probeer aan niks of niemand dink nie.

Binne my voel ek so dood, so onbetrokke, so gevoelloos. Dit voel asof alles net te veel raak.

Die regter het nog nie uitspraak gelewer nie, en ek probeer so positief moontlik bly, maar ek is ook net mens. Simon praat glad nie oor die uitspraak nie, hy praat eintlik nie oor die hofsaak nie. Ek vra hom ook nie.

Die CCMA-saak is ook uitgestel en ons het nog geen idee van 'n datum of uitslag nie. Van die sodanige diefstalsaak het ons tot op hierdie dag en datum nie weer 'n woord van gehoor nie. Ek begin wonder of dit nie iemand was wat op daardie stadium gek geskeer het nie. Hoeveel siek mense loop daar nie buite rond nie? Ek wonder net.

Al hierdie goed wat so in die lug hang, put my uit en ek is seker vir Simon ook.

Ek kan nie met hom praat nie, want elke opmerking of vraag kry hom op sy agterpote.

Vrydagaand kuier die Wouter en Liz by ons. Dit lag en gesels. Ek is so dankbaar vir die voorreg dat twee volwasse jongmense hulle tyd saam met ons twee vervelige mense spandeer. Vir my is dit 'n voorreg, want dit kon soveel anders gewees het. Hierdie week het daar matriekleerlinge verongeluk. Ouers wat vanaand kinderloos en hartseer sit, besig met reelings vir begrafnisse wat afgehandel moet word.

Ek prys die Heer vir die voorreg en bid vir die ouers wat hulle kinders verloor het.

17 November

Vandag is ons gholfdag by die werk. Ek is vroegoggend op en maak klaar om te vertrek. Ek help met die registrasie. Teen 11-uur kan ek nie my oë oophou nie. Wat gaan aan? Ek is nooit so moeg nie. Na registrasie reël ek dat ek kan huis toe gaan. Ek sal laatmiddag weer inkom. Dit kos inspanning om by die huis uit te kom - ek is absoluut kragteloos.

Toe ek by die huis kom, maak ek 'n afspraak by ons huisdokter. Ek gaan sit in sy spreekkamer. "Dokter, ek makeer niks, ek het net geen geen krag of energie nie."

Hy ondersoek my, trek bloed, neem bloeddruk en doen alles wat 'n bekwame dokter moet doen. Hy is lus vir gesels, maar ek sê net so af en toe 'n "hmm" of "ja".

Die prognose: Uitbranding. Hy gee my 'n siekbrief vir drie dae. Ek moet rus. Ek ry laatmiddag terug na die gholfbaan want ek kan nie my kollega alleen los sonder hulp nie.

Ek is vroegaand terug by die huis, maar Simon het sy eie vermaak vir die aand gereël.

My moed sak tot in my skoene toe ek sien Jasper en Simon sit buite om die vuur, duidelik gekuier.

Ek stap verby die huis binne. Ek stort, trek my nagklere aan en klim in die bed. Ek het regtig nie lus vir een van die twee nie. Ek druk pluisies in my ore, drink 'n slaappil en probeer aan die slaap raak.

16 November

So baie dinge het die afgelope 5 maande gebeur. Ons kon niks daarvan voorsien nie of sien aankom nie.

Ek kan aan my liggaam voel dat ek moeg is. Ek sal 16 uur 'n nag slaap as ek net kon, maar ek sleep my soggens uit die bed om te gaan werk. Ek probeer steeds positief bly, dankbaar wees.

Simon is besig met bemarking. Hy verkoop hier en daar iets. Dit is genoeg om ons deur die maand te sien. My salaris gaan vir die allerbelangrikste, huur, polisse ens.

Ek is al so moeg om te hoor daar word môre of oormôre geld inbetaal. Ek probeer nie te opgewonde raak as Simon vertel van die moontlike geld wat moet inkom nie.


Maandag 9 November

Ek sit voor my rekenaar en beding planne. Ek het nog iewers 'n paar rand wat ek gespaar het en wat Simon nie van weet nie. 'n Vrou moet maar altyd ietsie iewers wegbêre vir 'n reendag.

Wel, dit lyk asof die reendag nou aangebreek het.

Ek betaal die geld oor na die prokureur. Ek wil niemand niks skuld nie, veral nie nou nie. Dit is asof mense dink jy is totaal gestroop van elke sent en hulle is tog so bang dat jy hulle iets skuld en nie kan betaal nie.

Ek voel baie beter toe ek die geld oorbetaal. Simon weet niks. Ek sal later vir hom vertel.

As daar een ding is wat ek geleer het, sit altyd ietsie iewers weg. Spaar, spaar, spaar! Dit voel soms asof ons nie kan spaar nie, maar ons kan as ons wil.

Simon het nooit enige iets gespaar nie, hy het wel vir alles betaal, maar daar was geld oor wat hy kon spaar en nie net uitgeleef het nie. Die algemene siening was dat ek nogal suinig is, maar nou kon daardie suinigheid handig te pas. Snaaks hoe die suinige ou altyd eerste is wat gekontak word wanneer die spandabelriges uit geld uithardloop?

Vra my, ek weet.

Sondag 8 November

Dit  is vir 'n wonder 'n windstil dag buite. Die Suidooster het die gawe my bui van opgewek na donderweer te verander. Vanoggend mis ek my tuinvoels van die vorige huis, die lekker bome wat deur die grootste deel van die dag koelte gee. In ons nuwe huisie is een boom wat skuins lê soos die Suidooster hom met die jare beetgehad het.

Die telefoon lui net toe ons sit om tee te drink. Dis die prokureur.

Hy laat weet dat hy die advokaat se rekening deurstuur en in dieselfde asem wanneer ons hom kan betaal.

"So gou ons kan," antwoord ek dapper.

Toe ek die telefoon neersit, smaak die tee sommer bitter. Ek kyk vir Simon, maar verwag nie eintlik dat hy met 'n opolossing voor 'n dag kan kom nie.

"Hoeveel?" is al wat hy uitkry. "R33 000," antwoord ek sag.

"As die regter uitspreek gee in jou guns, kan jy 80% terugeis van die ander party," probeer ek die bedrag minder laat klink.

"Tallie, jy beter 'n plan beraam," dink ek by myself.


1 November

My skoonouers kom kuier vir die dag. Skoonma stap in met 'n groot bottel luukse badskuim en handewasmiddel van 'n bekende duur kettingwinkel. Sy sê dit is net vir my om my bietjie te bederf.

Ek is skoon oorbluf en voel sleg dat ek gedink het sy gee nie om of ek okei is of nie. Ek het gedink dat sy net in haar seun se welstand belangstel. Hoeveel keer die afgelope paar maande het ek nie tot my skaamte besef hoe verkeerd ek baie keer was nie.

Na ete bly sy agter by die eetkamertafel, en toe alles afgedek en almal in die kombuis is, vra sy dat ek by haar kom sit. Sy vra hoe dit gaan met my.

Vir die eerste keer in my getroude lewe met Simon, voel ek asof sy regtig omgee. Sy vertel hoe hulle inkomste verminder het met die verlagende rentekoers. Hulle kom beswaarlik uit met hulle persioen. Hulle het hulle lewe lank gewerk en gespaar vir hulle oudag. En nou is dit nie genoeg nie.

Ek wens ek het baie geld gehad sodat ek hulle kon help. Ek sou so graag wou, maar ek kan nie.

Die motor is lankal buite sig, toe ek nog buite staan en agter hulle aantuur. Hulle dink daaraan om hulle huis te verkoop en 'n eenslaapkamerwoonstel te koop. As hulle mooi werk met hulle geld, sal hulle dalk finansieel versorg wees.

Ek draai om en stap die huis binne.