Sy het alles probeer om gewig te verloor, net sodat sy beter en gesonder kan leef. Uiteindelik het sy die drastiese stap geneem om ’n maagomleidingsoperasie te ondergaan. Vandag is sy amper drie keer kleiner as voor die ingrypende operasie. Sy vertel voor die stap was daar honderde klein boodskappies uit haar omgewing, elke dag, aanmekaar wat beklemtoon: “Jy is nie normaal nie, jy pas nie in die wêreld nie, jy is nie soos ander mense nie.” Nou is daar honderde boodskappe elke dag: “Jy is ’n normale lid van die mensdom.” Sy vertel in ’n e-posonderhoud meer oor hierdie lewensreis.

Het jy as kind probleme met jou gewig gehad of het dit eers later in jou lewe ’n probleem geword?

In my tienerjare het ek op my ma se aandrang begin om te diëet. Toe ek begin studeer het op universiteit, was ek nie baie oorgewig nie. Ek was ook nie so bewus van my gewig in die koshuis nie. Toe ek begin werk het, het my pa vir my ’n Volksie gekoop, en daar het my sittende leefwyse begin.

Ek het regdeur my volwasse lewe met baie diëte ge-eksperimenteer. In my laat twintigerjare was ek so groot dat dit ’n probleem was om klere te vind. Ek kon net sportdrag vind in winkels vir groot mans. My klere vir werk en besigheid moes ek laat maak.

In my dertigs en daarna het my gewig op-en-af gegaan, en ek het op baie verskillende maniere probeer om beheer daaroor te kry. Elke keer as ek gewig verloor het, het ek ’n bietjie meer opgetel as wat ek verloor het, sodat my gewig oor die langtermyn stadigaan geklim het. In Junie 2011 het ek 175 kg geweeg: ek was 105 kg oorgewig.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Hoe het jy probeer om jou gewig in toom te hou en het dit gewerk?

Vir die afgelope 40 jaar, voor my bariatriese chirurgie, het ek aanhoudend verskillende oplossings probeer toepas: allerhande diëte, oefening, boeke, psigoterapie, nuwe stokperdjies en projekte, leer om gesond te eet, voedselrekordhouding, joernaal skryf, nog meer boeke, en internet programme. Waar het dit my gelaat? Ek het myself gehaat. In Junie 2011 het net mislukking en wanhoop oorgebly. Op 56, nà dekades van gewig optel, verloor en weer optel het ek alle hoop opgegee. Daardie selfde maand was ek in die hospitaal in Kaapstad vir ’n klein operasie. Met ’n gewig wat die skaal op 175 kg getrek het, was ek vetsugtig, uiters depressief en kwaad vir die wêreld. Toe verskyn ’n skraal jong vrou langs my bed en sê my chirurg het gevra dat sy met my moet praat oor my gewig.

Ag nee, dog ek. Alweer ’n helper-vir-vet-mense wat ek moet hanteer. Ek het aan haar verduidelik dat ek vir die grootste deel van my lewe vetsugtig is en dat ek baie dinge beproef het en eintlik weet wat ek veronderstel is om te doen. Maar ek kan eenvoudig nie die gewigsverlies handhaaf nadat ek dit suksesvol verloor het nie. Ek is gedissiplineerd, toegewyd en verantwoordelik, suksesvol in my loopbaan en in die lewe, intelligent, emosioneel volwasse en het selfvertroue, maar dit is een ding wat ek nie kan doen nie. Sy het hierdie pad duidelik al met ander mense geloop en gevra of ek al ooit van bariatriese chirurgie gehoor het.

En so het my reis begin . . .

Hoe het jou gewigprobleme en gemoedstoestand jou lewensmaat beïnvloed?

My lewensmaat, Viv, het nagte lank wakker gelê oor my gewigstoename en die impak op my gesondheid en my vermoë om deel te neem aan aktiwiteite wat ons albei geniet. Sy het my bygestaan gedurende die jaar waartydens ek bariatriese chirurgie ondersoek het, maar gesê die besluit berus by my. Toe ek besluit het om daarmee voort te gaan, was sy my anker en my steunpilaar.

Wanneer het jy uiteindelik besluit jy moet ’n drastiese stap neem om iets aan jou lyf te doen?

Die eerste keer toe ek ingelig is oor bariatriese chirurgie. Vir 40 jaar het my dokters my gewaarsku dat ek my gesondheidsprobleme veroorsaak of dat dit vererger word deur my vetsug en dat ek vroeg sal sterf tensy ek sowat 50 kg verloor. Maar nie een van hulle kon my enige werklike hulp aanbied oor hoe ek dit moet doen nie. Waarom het nie een van hulle nooit bariatriese chirurgie eers genoem nie – nie eers as ’n opsie nie? Miskien oor die stigma wat daaraan gekleef het, maar dis ’n outydse beskouing. Die prosedure word aanbeveel vir erg vetsugtige mense deur gerespekteerde organisasies soos US National Institutes of Health.

Was dit ’n maklike besluit om op so drastiese stap soos ’n operasie besluit?

Dit was moeilik. Ek het dikwels van besluit verander - vir die operasie en dan teen die operasie, juis omdat dit so drastiese stap is. Ek het die chirurgie heeltemal verwerp. Uiteindelik het ek die chirurg weer gesien en hom gevra: “As ek jou dogter was, wat sou jy doen?” Hy het lank stil gebly, geglimlag en geantwoord dat hy die maagomleiding sou doen. Ek het sy aanbeveling aanvaar. Hy het gemaan dat ek 10 kg moet verloor voordat ek vir die operasie aanvaar sou word. Ek was so vasberade dat ek 17 kg verloor het. Vyf dae voor my operasie was ek vreesbevange, maar heeltemal seker oor my besluit. Mense het gesê ek is dapper en vir eens het ek saamgestem. Daar was ’n kans (minder as 1%) dat ek kon sterf. As dit sou gebeur, moes dit so wees. Ek kon nie voortgaan met ’n lewe met hierdie liggaam nie.

Hoe het jy die proses van ’n maagomleiding aangepak?

Dit was duidelik uit my gesprekke met die span en uit die boeke dat bariatriese chirurgie nie vir almal werk nie. My chirurg sê hy glo mislukkings gebeur meestal wanneer die sielkundige aspekte van vetsug nie aangespreek word nie. Hy glo ek was een van die kliniek se grootste suksesgevalle omdat ek die multi-dissiplinêre benadering verstaan en aanvaar het. Ek glo my oorwinning oor vetsug was te danke aan: 25% bariatriese chirurgie, 25% psigoterapie, 25% diëet; en 25% fiksheid opleiding. Ek het baie hard gewerk in die 11 maande voor my operasie, nie net aan my diëet en fiksheid opleiding nie, maar ook op sielkundige vlak. Dit was ’n monumentale poging om rigting te verander, om gemaklik te word met my emosies, die behoefte om beheer uit te oefen te laat vaar, om hulp te aanvaar, en om teenoor ander mense oop te maak.

Wat was die moeilikste van die operasie en die proses daarna?

Ek kan nie onthou wanneer laas ek so vreesbevange gevoel het soos toe ek om 05h45 op die dag van my operasie by die hospitaal in Kaapstad ingestap het nie. My pa is oorlede aan ’n hartaanval op 58, en ek sou binne ’n paar maande dié ouderdom bereik. Ek’s nie bygelowig nie, maar het nogtans hierdie tydbom in gedagte gehad weens die genetiese implikasies. Ek het gesoek vir elke bietjie krag net om aan te hou loop. Een voet voor die ander, in die hysbak in, af met die gang, op die bed. Iemand stoot my teater toe. Ek het beheer oorgegee. Terug in my hospitaalkamer het die verpleegsuster daarop aangedring dat ek dadelik moet opstaan en begin loop. En van toe af het ek gestap – elke dag ‘n bietjie verder. My herstel was vinnig en maklik. Al die harde werk wat ek in die 11 maande in die gimnasium gedoen het, is goed beloon!

Ek het al dikwels met mense wat baie gewig verloor het gesels, wat sê die aanvaarding van ’n maer self was een van die dinge waarmee hulle die meeste gesukkel het. Het jy dit ook so ervaar?

Ek het geen negatiewe ervaring gehad met my maer self nie. Die eerste keer toe ek klere gaan koop het en die assistent my grootte gevra het, het ek geantwoord dat ek nie weet nie. Sy het so ’n bietjie snaaks na my gekyk, want meeste mense weet darem wat hul kleregroottes is! Dit het my nogal baie binnepret gegee.

Daar was baie aangename verassings, soos die eerste keer toe ek reguit deur ’n baie nou deur kon stap. Die wonderlike ding is: Voorheen was daar honderde klein boodskappies uit my omgewing, elke dag, aanmekaar wat beklemtoon: “Jy is nie normaal nie, jy pas nie in die wêreld nie, jy is nie soos ander mense nie.” Nou is daar honderde boodskappe elke dag: “Jy is ’n normale lid van die mensdom.”

Watter raad kan jy aan ander mense met gewigsprobleme gee?

My gewigsverlies na bariatriese chirurgie was ’n uitsonderlike sukses, maar die operasie werk nie vir almal nie. Daar is baie gevare en uitdagings en niemand moet hierdie besluit ligtelik neem nie. Vir mense wat dit wel wil ondersoek, beveel ek aan dat dit gedoen moet word met die volledige ondersteuning van die volle span by ’n Centre of Excellence for Metabolic Medicine and Surgery. (http://www.sasomonline.co.za/C_GeneralInfo.asp)

Dis ook belangrik om vroegtydig navorsing te doen oor mediese fondsdekking, want nie alle fondse dek die prosedure nie. Die wat dit wel dek, sal vra vir briewe en verslae van die bariatriese span.

Hoe hou jy jou lyf nou in stand?

Ek leef en eet gesond. Die operasie het dit vir my moontlik gemaak om uiteindelik te verstaan wat mense bedoel wanneer hulle sê: “Eet tot jy versadig is’. Ek herken nou die gevoel van “versadig wees”, en dis my groot vriend. Voor die operasie was my geneties-aangedrewe drang om te ooreet eenvoudig net te sterk. Nou kan ek daardie drang weerstaan met ’n bietjie wilskrag en self-dissipline. Ek geniet wel nou-en-dan ’n soetigheid, maar ek koop nie impulsief nie en nooit om die “drang-duiwel” tevrede te stel nie.

Ek is ook fisies aktief en geniet my fiksheid. Drie jaar gelede moes ek krukke gebruik weens plantar fasciitis in albei voete. Ek kon nie in die gim oefen nie, net in die swembad. Nou doen ek staproetes in die bos, op die strand, in die dorp. Ek het onlangs my sestigste verjaarsdag gevier met ’n 30 km fietsrit deur die voetheuwels van die Swartberg.

Fat Gense to Skinny JeansWas dit vir jou maklik om jou ervaring in ‘n boek te deel met wildvreemdes?

Ek is ’n baie private persoon en dit was regtig ’n 360? rigtingverandering om my persoonlike ervaring en gevoelens in ’n blog te deel. Ek dink dit was ’n terapeutiese proses en die uitsonderlike ondersteuning en aanmoediging wat ek daarna ontvang het, was ’n groot hulpbron en ’n faktor in my sukses. Vriende en familie het my aangemoedig om my blog te herskryf as ’n boek, omdat hulle gevoel het dit kan ander mense inspireer om uitdagings in hul eie lewens aan te pak.

Die e-boek kan van www.amazon.com bestel word, of die boek kan bestel word by sp@sefin.co.za.

Wat is die belangrikste ding wat jy oor jouself geleer het deur hierdie hele ervaring?

Ek het geleer om nooit op te gee nie, om altyd nog een tree vorentoe te gee. Dit mag net dalk daardie tree wees wat my oor die wenstreep neem.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf