6 Julie 1949. ’n Ander tyd, ’n heel ander era. Tog duik hierdie datum gereeld op in my dae en gedagtes. Want toe, ’n volle 58 jaar gelede, het SARIE die mark getref as die tydskrif Sarie Marais.

Die koms van ’n nuwe weektydskrif, spesiaal vir die Afrikaanssprekende vrou, is die vorige dag sonder fanfare aangekondig.

Maar die dag daarna het dit pandemonium veroorsaak. Elk van die beskikbare 35 000 eksemplare is op die eerste dag uitverkoop, en koerantopskrifte het dit uitbasuin: Sarie Marais slaan alle SA persrekords!

En die naam? Ja, dit kom van die liedjie “Sarie Marais” - die een wat in twee wêreldoorloë, en ook die Anglo-Boereoorlog so gewild was. Die een wat Rocco de Villiers vandag nog met soveel hart op die klavier speel, en André Schwartz met soveel pazzazz sing. Die een wat vroue van verskeie vroueverenigings van Afrika onlangs tydens ’n konferensie in Turku, Finland, gesing het en afgevaardigdes van oor die wêreld laat opspring het om mee te doen aan ’n liedjie van hoop.

Oor die presiese herkoms van die liedjie is daar nie klaarheid nie, maar die boodskap is klinkklaar: positief, Afrikaans en trots Suid-Afrikaans. Die hartsboodskap van ons tydskrif.

Met Sarie Marais was daar meteens ’n tydskrif wat vir Afrikaanssprekende vroue ’n kykie op die wêreld was - in ’n taal van hul eie. ’n Tydskrif vir die moderne Afrikaanssprekende vrou. Teen 1976 het Sarie Marais, toe tweeweekliks, as net SARIE bekend gestaan. Dit was veel méér as net ’n tydskrif - SARIE was ’n vriendin.

15 Mei 2002. ’n Mylpaal-datum in SARIE se geskiedenis! Want toe word ons ’n glans-maandblad, in pas met die grootste internasionale vrouetydskrifte, en My Inspirasie ons maandelikse belofte. Inspirasie om die beste te wees wat ons as Afrikaanssprekende vroue kan wees. Inspirasie om ’n positiewe bydrae tot SA en ons toekoms te maak. Weer reageer lesers met oorgawe en SARIE word die grootste verkoper van alle vrouetydskrifte in SA.

5 Oktober 2002. SARIE se belofte van inspirasie lei die tydskrif tot reg voor die kansel, en ons stel ’n aparte, sesmaandelikse tydskrif, SARIE BRUID, bekend. Met sy en satyn, rose en kant, leef ons in woorde en sprankel-beelde die droom van elke bruid op haar mooiste dag.

13 September 2006. Ons dink skielik klein. Koester-klein, oulik-klein, vashou-klein. En handsak-SARIE beland op die rak. “Ons pas al lank reeds in jou hart, nou pas ons ook in jou handsak!” sê ons oor die kleiner formaat tydskrif wat maandeliks saam met die gewone SARIE verskyn. Ons lesers het nou ’n keuse, en hulle laat weet: Saartjie is bo!

26 September 2007. Die stories is geskryf, die foto’s geneem. Elke blad met passie deur ons kosredakteur, Barbara Joubert, en die kreatiewe span van Maryke Cumpsty en Enid de Beer saamgestel. Elke blad met trots deur my afgeteken.

Op 26 September maak SARIE KOS as aparte tydskrif haar verskyning - 148 bladsye van eerlike smake en pure inspirasie. Ons juig, ons jubel, en kan nie wag vir jóú reaksie nie. Want soos ek daar sê: “SARIE KOS is soos ’n sonsoet tamatie - dit nooi jou uit om te kom proe!”

My Sarie Marais is so ver van my hart, maar’k hoop om haar weer te sien. En só sing ons almal saam.

Dis net, met SARIE kan jy maar wéét jy gaan haar weer sien. En weer en weer...

Michélle van Breda

SARIE Oktober 2007