Ek wou nog altyd Argentinië toe gaan, want ek is mal oor tango - die musiek, die dans en sommer net die hele vibe wat in my kop leef daaroor. 'n Besoek aan my droom-bestemming is my nie tans beskore nie. Toe word ek gelukkig genooi om die Argentynse Kosfees by Emperors Palace by te woon - nie heeltemal dieselfde as om in Argentinië te wees nie, maar steeds ‘n wensituasie!

Ons is gisteraand by Aurelia's Restaurant in die Peermont D'oreale Grande Hotel verwelkom met viool en akkordeon-musiek en ‘n glasie vonkelwyn. Toe ontmoet ek die sjefs, die ambassadeur en al die mense van Emperors. Die sjefs, Micaela Consa, Mirna Valazco en Marcelo Alejandro Kucera Kuka, is spesiaal ingevlieg van Caesars Park Hotel in Argentinië om die fees voor te berei. Hul name was al klaar vir my ‘n mondvol, en toe ek eers hoor hoe hulle verduidelik wat ons gaan eet, was ek gehoek soos 'n vis aan 'n lyn. Daai aksent! Dit laat die disse sommer interessanter klink: matambre arrollado, tamales de pollo, revuelto de gramajo, bondiola braseada . . . en so kan ek aangaan.

Ek sit aan tafel by die ambassadeur van Argentinië, Mnr. Carlos, Denise Kotze van SAL, Jegie en Kamini Padmanathan en ons gesels oor reis, die ekonomie (wat byna gesorg het vir slegte spysvertering vir ons almal!) en toe kos en nogmaals kos, terwyl ons aan al die disse proe. Denise vertel my SAL gaan binnekort 'n regstreekse vlug van Johannesburg na Buenos Aires hê. Dis iets om na uit te sien. Ons klink onmiddellik daarop met 'n glasie witwyn uit Argentinië, 'n vrugtige chardonnay.

Toe is ons weer terug na die kostafels, maar hierdie keer die braai-gedeelte buite. Vir ons Suid-Afrikaners met vleistande is dié kos ideaal - lekker baie vleisdisse op die spyskaart.

Natuurlik is daar vir ons vroue 'n soetdingetjie ook. Glo my, ek was meer as een keer by die verleidelike poedingtafel. 'n Hele paar manne ook! Een van die interessante soetgoed wat ek geproe het, was ingelegde papaja. Dis byna soos die waatlemoenstukke wat my ouma gemaak het.

Die Argentynse Kosffees word nog vir hierdie week tot 4 April gehou. Kaartjies kos R200 per persoon (dis absoluut die moeite werd) en kan bespreek word by Laurika Goosen by lgoosen@emperorspalace.com of 011 928 1873.