Jy is my liewe geskenk van God. Hy het jou beslis vir my gegee om my waardevolle lesse te leer.
Ek giggel soms as ek dink hoe mense dikwels na ons twee kyk en vra “wie is die ouer?”.

Want jy het ’n wysheid, ’n stilte in jou gemoed, ’n sagtheid in jou gesig en ’n deernis in jou hande wat ongewoon is.

Ek het vir jou sterk wortels probeer gee en ek het daai vlerke van jou geoefen gehou en vir hulle ghries en olie gegee. Ek het jou geleer om eerste jouself te respekteer; dan kom respek vir ander sommer makliker. Daarmee saam kom lojaliteit, empatie en wysheid as ’n bonus. And you mastered that on your own. Daar waar ek erg tekort geskiet het met onderrig en lesse en sedelesse oor die lewe, het jy self in jou ongelooflike liefde en respek vir die skepping antwoorde en ’n code of honour ontwikkel.

Ek leer by jou om keuses te aanvaar. Dat seerkry gesond kan word. Jy laat my glo in myself. Op 27 is jou 57-jarige ma nie vir jou een of ander prehistoriese bobbel wat jy wil wegbêre in ’n ouetehuis nie. Nee, jy hits my aan om al my malle idees na te jaag. Jy word deel van my lewe en jy laat my toe om deel van joune te wees. Dis ’n voorreg wat ek nie weet wat om oor te sê nie. Behalwe dalk ... dankie, my kind.

Jy is ’n beautiful jong man met jou ysblou oë en jou skewe glimlag en indraai-voete. Met ’n identiteit van jou eie. Jy’t jou eie paadjie uitgekerf en die hoogste sport bereik. Maar die beauty van jou is dat jy nederig bly. Ek kyk hoe jy ’n dronk man regop hou sodat hy sy swart hond saam met hom in ’n buurtwag-vantjie kan laai; ek sien jou kruisbeen sit met twee jong fans op die strand en sandkastele bou; ek kyk hoe jou groot, sterk hande saggies die kitaarsnare tokkel, oor jou geliefde hond se kop streel; en met ’n giggel sien ek jou agter die kospotte disse optower!

’n Volledige mens. ’n Volledige man propvol liefde en deernis.

I salute you my son ... you’ve become the most amazing young man!

En ek weet ek gaan altyd jou MAM wees! Dankie daarvoor.

Groot, vet drukke en liefde,

Jou moeder"

* Ander bekende ouers soos Jay en Margit Meyer-Rödenbeck het in die Februarie-uitgawe briewe aan hul kinders geskryf.

* Lees nog briewe wat deur ons lesers aan hul kinders geskryf is.