Ja, lui, foon, ek wag vir jou, het ons skoolsekretaresse altyd gesê as daar teen elfuur nog nie drama in die kantoor was nie.   Ag, ons slaap maar met die geweer, vertrou g’n die vrede nie, sê my een vriend se ouers minstens een keer per gesprek. Negatief? Neuroties? Ongelowig? Of het sommiges al bloot ’n les of twee geleer?   Onlangs het ons weer ’n reeks kosklasse aangebied. Een aand groet ons die laaste gaste, klim van ons seer voete af en gryp ’n bottel wyn.   Sjoe, dis ’n lekker week, sê een van die organiseerders. Alles verloop net perfek!   Cheers! sê ek en lig my glas, maar in my agterkop weet ek dis nog nie verby nie, die ellende wag. En voorwaar, die volgende aand, daar sit sy. Derde ry van voor, lippe net-net te rooi, oë net-net te wild, hare soos ’n geborselde konyn.   My hart spring boog en my aggressie staan op aandag. Stil, sê ek vir myself, en begin met die demonstrasie. Die eerste gereg is foutloos. Die gehoor glimlag en klap hande. Die tweede gereg is net op dreef toe ’n stoelpoot oor die vloer skree. Ek kan nie so sit sonder drank nie, sê iemand kliphard.   Ek kyk op. Dis die een in die derde ry. Sy’s uit by die deur. ’n Paar mense kyk vir mekaar en maak groot oë. Tien minute later drup ek olie oor ’n jubelende slaai.   Is jy nog nie by die poeding nie?   Dis dieselfde stem. Nou heelwat luider as voorheen en met baie meer selfvertroue. Ek kyk op. Sy’s terug op haar stoel en suig aan ’n glas vol onheil. Te hel met die beplande wynproe.   Uiteindelik is die demonstrasie verby en aandete word voorgesit. Ek gaan skep asem buite in die aandlug. Die volgende oomblik is sy langs my. Heeltemal te naby. Heeltemal ongevraag. Heeltemal verkeerd.   Jy’s nogals nie so dik soos wat ek gedink het nie, bulk sy in my oor.   Ek dink nog aan iets om te sê, toe kantel die aarde en die lewe staan stil. Haar hand skiet uit en kom tot rus op my maag. Ek skrik myself uitasem en gee ’n tree agteruit. Ag, toe nou! sê sy.   Ek kyk na haar. Ek wil haar graag vertel dat sulke gedrag dalk aanvaarbaar is in die skadu waaruit sy gekruip het, maar beslis nie êrens anders in die beskawing nie. Maar ek bly doodstil, sy is ’n gas, ’n lid van die gehoor, ’n kliënt.   Die res van die aand sit ek in die kombuis, te bang om my gesig te wys. En woedend dat dit al weer gebeur het. Een persoon in ’n gehoor, een persoon op ’n vliegtuig, een persoon in ’n winkel, een paartjie in ’n fliek, een tafel in ’n restaurant, ’n enkeling in ’n skare, net een is nodig om die glans van ’n geleentheid te verdof, die plesier uit ’n oomblik te haal, ’n hele kosbare dag te vertroebel, die grense van behoorlikheid te vertrap, ’n herinnering in duisternis te dompel.   Eksentriek? Selfvertroud? Anders? Sommer net natuurlik? Sonder aansit? Jolig? Prettig? Spontaan? Glad nie.   Onbeskof. Dis wat dit is. Vrot opgevoed. Verwaarloos. Selfsugtig. Platvloers en onbedagsaam. Vervlak en sonder insig. Ontneem van persepsie. Verlore en vervalle. En wat maak dit my? Goedgemanierd? Perfek? Beskaaf? Verhewe? Spesiaal? Glad nie. Ek is ’n papboek, ’n banggat en ’n lamsak. Saam met duisende ander laat ek toe dat my lewe versuur word, my privaatheid verniel word, my hart daagliks donker word, dat my werklikheid ontsier word deur elkeen wat met groot pote daardeur verdwaal.   Ek laat toe dat klein, alledaagse oomblikkies aanvaarbaar word, ’n rowwe grappie hier, ’n voorbarigheidjie daar, vuil taal voor ’n kind. So kyk ek toe terwyl die wêreld waarin ek en my vriende, my familie, ons kinders en ons drome moet gestalte vind, ontneem word van ruimte en vrymoedigheid. Ons word geboelie deur kortsigtigheid, familiariteit, ongeduld en ’n oseaan vol swak maniere.   Daar is dalk magteloosheid in ’n essay oor ontnugtering. Maar daar is groot krag in ’n enkele woord. Dankie. Asseblief. Jammer. Voorspoed. Mooiloop.