8 Maart 2014: Malaysia Airlines se vlug MH370, met 227 passasiers en 12 bemanningslede aan boord, verdwyn spoorloos. 17 Julie 2014: Maleisië se vlug MH17/MAS17 stort in die ooste van die Oekraïne neer. Daar is geen oorlewendes onder die 283 passasiers en 15 bemanningslede nie. Ná sulke rampe gaan die wêreld sy normale gang. Maar vir die geliefdes wat agterbly, is die lewe nooit weer dieselfde nie.

Dominique Ackermann van Stellenbosch was net 8 jaar oud toe haar ma en babasussie in 1987 in die Helderberg-vliegramp gesterf het. In ’n nuwe boek vertel sy hoe dié gebeure haar lewe onherroeplik verander het ... Hier is ’n uittreksel daarvan.

A IS VIR ACKERMANN

Die aand voor my ma veronderstel was om huis toe te kom, ’n Vrydag, het ek soos gewoonlik Mickey Mouse Club gekyk en waarskynlik op die maat van musiekvideo’s in die woonkamer gedans. Ek’s nie toegelaat om moderne dans te doen nie want ek het opleiding in klassieke ballet ontvang, maar heimlik wou ek eintlik ’n popster wees.

Ek was vreeslik opgewonde oor haar tuiskoms. Ek het gebad en spesiaal my hare gewas, en vroeg in die bed geklim.

Dit was ’n telefoonoproep van my ouma wat ons sesuur die oggend wakker gemaak het. Sy moes op die eerste nuusbulletin van die dag van die ongeluk gehoor het.

Ek het die onderste telefoon hoor lui en my pa met ’n slaperige stem hoor antwoord: ‘Hallo?’ Ek het die sagte roosbedrukte dekens op die dubbelbed in my kamer, wat op die aarbeilande en wingerde uitkyk, weggestoot en saggies afgestap ondertoe. Die horison het reeds oranje gegloei. Ek het toe nog nie geleer dat niks goeds ooit van so ’n vroeë telefoonoproep kom nie – ek was nuuskierig om te weet wie gebel het.

Terwyl ek op die onderste trap gesit en luister het na die stokkerige woorde van die gesprek, het ek begin verstaan dat iets baie verkeerd is. Dit was nie my pa se woorde wat my vreesbevange gemaak het nie, dit was sy gesig: Dit was wit en het soos klip gelyk. Ek het daardie gesig al voorheen gesien, toe hy Chad by die trappe afgedra het. [Haar boetie wat as peuter aan ’n lugweginfeksie oorlede is.] Ek het geweet wat daardie gesig beteken.

Hy het vir my gesê: ‘Daar was ’n ongeluk en hulle hoop hulle is op die reddingsboot.’ My pa het nie toe vir my gesê wat hy gedink en gevoel het nie, en ook nie vir baie jare daarna nie.

Om sesuur die oggend van 28 November 1987, 50 minute voor die vlug veronderstel was om in Johannesburg te land, maar ’n volle vier uur ná die geskeduleerde aankoms in Mauritius, het die SAL ’n verklaring uitgereik:

‘SAL Vlug 295 wat van Taipei na Mauritius onderweg was, het nog nie daar aangekom nie. Die vliegtuig is om 00:13 vm. op 28 November 1986 GST in Mauritius verwag. Daar was 140 passasiers en 19 bemanningslede aan boord. In hierdie stadium is geen verdere inligting beskikbaar nie en bykomende persverklarings sal uitgereik word sodra meer inligting beskikbaar is.’

Die SAUK het deur die dag TV1-uitsendings onderbreek met amptelike vars nuus, wat vaag en ongereeld was. Daar was ook instruksies vir familie en vriende wat wou bevestig of hul naasbestaandes op die passasierslys was. Hoop het vervaag met elke uur wat sonder nuus verbygegaan het.

Terwyl die inligting begin insink het, het ek gedink: ‘Wat as ek met hom bly sit?’ Nie omdat ek nie vir my pa lief was nie, maar ek was agt jaar oud en my wêreld het om my ma gedraai. Sy het my lewe georganiseer en was verantwoordelik dat my skedule seepglad verloop. Sy was die een wat seker gemaak het ek eet ontbyt, dat my hare skoon en vasgemaak is, dat ek sonskerm aan het en dat ek die regte skoolboeke vir die dag het, dat ek my tuiswerk gedoen het, my balletsak gepak is, dat ek skoene het wat pas en kouse sonder gate. Sy het saamrygeleenthede skool toe, na vriende en ballet en tennis gereël, en het seker gemaak dat ek nooit alleen bly staan het by die skoolhek nie; wat gesorg het dat daar ’n peuselhappie is om na uit te sien, ’n heerlike aandete, en ’n aand vol gesinspret. As ek siek was, het sy my met ’n kombers op die rusbank toegemaak, vir my ’n eetlepel rooipienk Stopayne ingegee en ’n Tom and Jerry-kasset in die videospeler gesit. Wat het my pa gedoen? Ek het nie ’n benul gehad nie. Ek het gevoel asof ek hom skaars ken.

Daar is niks soos moederliefde nie. Ek en my ma in 1981 by vriende se swembad FOTO: Verskaf Daar is niks soos moederliefde nie. Ek en my ma in 1981 by vriende se swembad
FOTO: Verskaf

Ek kon nie destyds die waarde van haar invloed in my lewe bepaal en die rol wat sy gespeel het nie, of selfs ten volle waardeer wat sy alles vir my gedoen het nie. Maar ek het onmiddellik en sonder enige twyfel geweet dit sal ’n ramp wees as sy nie terugkom nie.

Die bevestiging dat ons lewens onherroeplik verander het, hoewel ek dit op daardie oomblik nie kon begryp nie, het ons ’n ruk later ontvang. Ek het die name van die rampslagoffers op die TV-skerm sien rol. Ons was eerste. A vir Ackermann.

November 2014 andrea streso nov

Lees die res van die uittreksel in die November-uitgawe van SARIE - nóú te koop.