Ek is 25 jaar oud en woon al amper ‘n jaar in Taiwan. Ek is ‘n kleuterskool-onderwyseres. Voor ek Taiwan toe getrek het, het ek in Korea gewoon, vir 16 maande. Ná universiteit het ek saam met een van my beste vriendinne, Lenore Rix, die Ooste ingevaar vir die ervaring en die avontuur daarvan. Sover is ek nog nie teleurgestel nie!

Dis moeilik om Taiwan in woorde te beskryf. 'n Mens moet dit eerder self sien en beleef. Vir my is die hele Taiwan, Verre Ooste-ervaring ongelooflik. Ek ry elke oggend en aand tussen die ryslande van ons klein dorpie op my scooter skool toe en terug. Ek sien wanneer hulle die rys plant, ploeg, die lande brand, oorstroom en dan weer plant. Elke dag sien ek hoe vorder die hele proses. Ek sien letterlik hoe die rys groei!

Ek ry verby die locals se huise, ek sien hulle op hul vintage-fietse met hul tradisionele grashoede, op pad om in die ryslande te gaan werk. Alles voel op ‘n manier gestage, amper asof ek myself in die middel van ‘n dokumentêre film bevind. So elke nou en dan tref dit my, hierdie is my realiteit - al is dit net tydelik. Ek probeer om nie aan dit wat ek elke dag sien gewoond te raak nie. Ek is te bang ek hou op om dit te waardeer. 

Die kultuurverskil tussen ‘ons’ en ‘hulle’ is groot. Dit gooi jou heeltemal uit jou gemaksone uit. Maar voor jy jou oë uitvee, is hierdie vreemde land en sy mense wat jou nie verstaan nie, jou gemaksone. Kort voor lank ontwikkel 'n mens ‘n vrees om terug te gaan na jou eie land toe, amper asof jy nie weer daar sal kan aanpas nie.

Ek mis Suid-Afrika. Ek mis so baie dinge van ons land! Ek mis Afrikaans, en biltong en rugby op die TV en nie oor die internet nie. Ek mis die Afrika-son, ek mis die reuk van die Bosveld en donderstorms, en my kerk. Ek mis Ouma-beskuiten Bovril op toast. Ek mis my familie en vriende die heel meeste. Ek mis my land en sy mense!

Tog raak ek tranerig as ek dink ek moet hierdie vreemde ‘plek’ met sy snaakse gelowe en gewoontes agterlaat. Die ‘plek' wat my gevorm het tot dit wat ek vandag is - al was ek maar net ‘n druppel Weste in ‘n emmer Ooste.