Vandag is daar twee soorte mense: dié wat glo dat tafelmaniere en ander voorskrifte bog is, en dié wat weet dat bogenoemde stelling ná byna 200 jaar steeds die waarheid is.

Etiket (die woord is afgelei van die Franse woord wat letterlik “sleutel” beteken) is ’n sosiale stelsel of struktuur wat bestaan uit reekse en reekse reëls, kulturele verskille, aanbevelings en riglyne wat eeue lank al ontwikkel en van geslag tot geslag oorgedra word. Hierdie reëls volg mekaar soos skakels in ’n ketting en hou almal verband. Alhoewel die moderne gemeenskap dikwels giggel oor die idee van etiket of ’n formele gedragskode, bly dit ’n noodsaaklike sisteem vir professionele sukses, internasionale onderhandelinge, vreedsame kommunikasie en respek vir ander.

’n Beroemde kosfilosoof herinner ’n mens daaraan dat ’n ete eintlik ’n wrede en gewelddadige proses is: Die maaltyd word eers vermoor, vermorsel en verbrand, en dan vergader die hongeriges met messe en tande - ’n barbaarse situasie.  Van die vroegste tye is reëls ingespan om die vrede te bewaar. Lepels en vurke het op die tafel verskyn om die gebruik van messe te verminder. In die Ooste verskyn daar vandag nog geen mes op ’n tafel nie; daar word met stokkies geëet.  Gelykheid is ook aangemoedig. Die gebruiklike kerf van ’n karkas wat gelei het tot beter en swakker dele, asook ongelyke porsies, is beperk met die voorsit van sop, pastei of frikkadelle, sodat almal dieselfde mag geniet. (’n Hopelose poging as ’n mens onthou dat die sosiale hiërargie van “wie sit waar” in dieselfde tye ’n hoogtepunt bereik het.) Eetgewoontes het stadig en met moeite deur die eeue verander. Die mens was duidelik nie lus vir verfyning nie. In 1530 skryf Erasmus dat braking niks is om oor skaam te wees nie, maar dit moet verkieslik weg van die tafel gedoen word. Spoeg is ook beter op die vloer.

Verskille tussen kulture, kontinente en klasse het al hoe duideliker begin word in die eetkamer. In die 19de eeu was ’n Franse skrywer geskok deur die Britse gewoonte om sekere toiletgeriewe in die eetkamer te hou, ook sonder enige afskorting, want dit sou die vloei van ’n gesprek belemmer!  In verskeie lande is gesprekke aan tafel vandag nog onaanvaarbaar; op ander plekke word moeite gedoen om gaste aan die gesels te kry. In die Weste word ’n bord of bak nooit opgelig nie; in die Ooste word die bak na die mond gebring om die gasheer te komplimenteer.  Dit bly fassinerend om te sien hoe etiket, of die beoefening van uiters goeie maniere, dit wat eintlik mense nader aan mekaar moet bring, dikwels juis die mure of grense tussen mense versterk. Oorspronklik is daar met die hand uit ’n groot gemeenskaplike bak of skottel geëet. Uiteindelik het elkeen met sy eie lepel of bak kom aansit.
Deesdae word daar ’n individuele plek vir elke gas gedek, met genoeg apparate, houers en oppervlakke sodat hy byna nooit vir iets hoef te vra nie. Die rykes en draers van blou bloed gebruik al eeue lank die eetkamer en sy ingewikkelde wette om hulself van die werkersklas te onderskei.

Ek glo nog altyd aan logika, die keuse tussen goed of kwaad, persoonlike ondervinding en ’n instinktiewe skatting van ’n situasie. Eerder as swoeg met ’n wetboek, moet elke persoon sy eie beste aan familie of gaste bied. Maar ek glo ook aan kennis, die groter prentjie, die verstaan van herkoms. Dit bly ’n ongelooflike voorreg om te weet dat jy elke dag, met die mees algemene aktiwiteit, deel is van ’n geskiedenis en moontlik skryf aan ’n toekoms. Die lig van ’n glas, die vou van ’n servet, die kantel van ’n lepel, elke ding vertel ’n lang, lang storie. Dit bly iets om oor te dink; om jouself in te verlustig.