Ek is verslaaf aan Irma Venter se aweregse karakters waarom haar spanningsverhale draai.

In Sirkus (Human & Rousseau, R240) word die hoofrol hierdie keer gespeel deur Adriana van der Hoon, terwyl Ranna Abrahamson die ondersteunende karakter is. Ons het Adriana, ’n kleurryke karakter met ’n misterieuse agtergrond, reeds in Venter se vorige boeke ontmoet. Haar storie is soos ’n ui wat jy lagie vir lagie afskil om by al die feite uit te kom. In elke hoofstuk word nog ’n brokkie van haar lewe onthul en eers aan die einde van die verhaal het jy die volle prentjie van wie Adriana nou eintlik is.

Daar is volop aksie met afpersing, ontvoerings, geldwassery, prostitusie en moorde in dié komplekse verhaal waar politieke komplotte van jare gelede steeds Adriana se lewe in die hede raak. Hierdie enigmatiese vrou staan buite die reg en tree op volgens haar eie morele kompas. Sy sê op bl.311 van die verhaal: “Ek doen niks wat nie regverdig en reg is nie.” Ja, regverdig in haar oë, en reg in haar oë. Sy het vroeg in haar lewe geleer dat sy na haarself sal moet omsien, want eintlik is sy vir Jakkals (’n veiligheidspolisieman) en vir Yasen Todorov (’n skelm van die eerste water)  net ’n pion wat hulle tot hul eie voordeel, en politieke gewin, gebruik. Haar lewe in Berlyn, toe sy 18 jaar oud was, bly haar agtervolg en daarom kan Adriana nooit ophou om oor haar skouer te kyk nie. Daar is heelwat vrae oor wie Liesbet Fey is en waar sy in Adriana se legkaart inpas wat eers reg aan die einde van die verhaal heeltemal beantwoord word. Dit verskaf duidelikheid rondom sekere besluite wat Adriana geneem het wat ’n belangrike impak op haar lewe gehad het. En waarom haat Boris (Adriana se beskermengel en lyfwag) haar aartsvyand, Yasen Todorov, met alles in hom?

Ek hou van komplekse verhale waarin die gebeure teen ’n geloofwaardige geskiedkundige agtergrond afspeel. Dikwels word die grootste waarhede oor ’n land se geskiedenis in fiksie onthul. Dis onmoontlik om die verhaal in ’n neutedop op te som, omdat daar soveel intrige is en gebeure onderling met mekaar verweef is. Hierdie verhaal stel my nie teleur nie, want Venter het soos ’n wafferse sirkus arties die karakters, temas en spanningsvolle gebeure gejuggle sonder dat enigeen van hierdie komponente op die grond beland het.

Ons het oor ’n koppie koffie oor Sirkus, haar vyfde boek gesels.

sirkus

Was dit ’n moeilike verhaal om te skryf, want jy raak nogal groot temas aan waarvan politiek een is?

Met Skarlaken het ek gedink ek het die verhaal mooi bymekaar gebring en alles, maar Sirkus was ’n moeilike boek. Dit was herskryf en herskryf en ek dink die verhaal is steeds kompleks. Ek het van die kompleksiteit uitgestroop. Politiek is moeilik. As jy spanningsverhale skryf en jy skryf oor die politiek, dan raak dit moeilik. Dit moet eerste ’n spanningsverhaal wees. Dit moet steeds ’n lekker moordstorie bly en dan kan jy politiek inwerk as ’n tipe karakter of ’n tipe agent in die boek, maar dit kan nie die hooftema wees nie. Politiek kan nie die storie dryf nie.

Maar die politiek in hierdie verhaal is tog die essens waarom Adriana draai, is dit nie?

Dis deel daarvan. Ek’s gebore in die sewentigs. So ek onthou die 80’s se politiek, FW de Klerk se toespraak en ek onthou al die veranderinge. Ek het so bietjie uit my eie agtergrond geskryf en dan moet mens mooi onthou wat gebeur het. Onthou hoe jy gevoel het en jy moet onthou wat verander het en hoe jy voel oor die veranderinge tot waar ons nou is.

Nog ’n tema waaraan jy raak is korrupsie op klein en groot skaal.

Ek het so paar ouens gevra oor korrupsie en daar het stories uitgekom oor wat in die vorige regerings gebeur het. Elke regering het amptenare en ministers wat korrup is. Ons kan nie wegkom daarvan af nie.

Jy maak hoofsaaklik van twee vertellers gebruik, Adriana en Ranna. Hoe moeilik was dit in hierdie boek, veral met die tydlyn?

Omdat Ranna al in ’n paar boeke was, is sy nou al makliker, want ek is gewoond aan haar. Daar was eintlik drie stemme van Adriana: die eerste was die Adriana wat ek geskep het in Sondebok. Ek moes onthou hoe hierdie randfiguur was wat ek toe geskep het. In Sondebok kon ek bietjie wegkom met haar eksotiese eienskappe. Dit was nie nodig om te verduidelik hoe en waar nie, oor hoekom sy is soos sy is nie. Maar toe ek nou ’n hele boek oor haar skryf, moes ek onthou wat ek oor haar geskryf het. Sy speel tjello, sy was in die sirkus en sy het toegang tot al hierdie inligting. Toe ek haar storie uitwerk, moes ek dink hoe het hierdie dinge in haar lewe gebeur. Toe moes ek seker maak ek skep ’n jong Adriana wat anders is as hoe sy gaan wees teen die einde. Daar moes reeds tekens wees van Adriana en hoe sy dan ontwikkel oor 20/25 jaar tot die persoon wat sy uiteindelik is. Dit was baie moeilik. Die tydsverloop van die verhaal het bepaal dat ek baie ekonomies met woorde moes werk. Ek moes min woorde gebruik om vreeslike groot persoonlikheidsveranderinge in haar karakter oor te dra. Dit was besonders uitdagend. Ranna was eintlik die maklikste een van die karakters om te skryf.

Jy eindig met Boris. Hoekom gee jou hom eers teen die einde ’n stem?

Boris het in hierdie boek so half my hart gewen, want hy is hierdie stil sagte stem wat ook grootword. Ek mòès aan die einde net vir hom ’n stem gee. Maar jy kan ook in die einde van die boek inlees wat jy wil. Ek het ’n leidraad gelos. ’n Man met uithouvermoë wen altyd my hart. Soos ek geskryf het, het ek het lief geraak vir hom. Adriana is bekend vir my, Ranna is bekend vir my, Alex is bekend vir my. Boris is die halwe onbekende identiteit wat ek deur die skryf leer ken het.

Daar is ’n groot kontras tussen Boris en Yasen, tog kom hulle uit dieselfde agtergrond?

Dit gaan oor die keuses wat jy maak. ’n Klein bietjie van alle mense is nature, maar dan is dit doelbewuste besluite wat jou karakter vorm. Soos Adriana wat moes besluit wat om te maak met dit wat met haar gebeur het op 18. Gaan sy iets positiefs daarmee doen, of iets negatiefs. Yasen en Boris – jy kom uit ’n kinderhuis en jy het ’n slegte lewe gehad en wat kies jy? Ek was verlig dat Boris die regte besluite geneem het, want ek het nie geweet hoe hy gaan uitdraai nie.

Het iets met die karakters gebeur wat heeltemal onbepland was?

Die kind-ding met Ranna was nogal vir my onverwags. Ek het nie noodwendig gedink ek gaan dit inbring as ’n parallelle storielyn nie, maar dit het net gefigureer. Toe ek begin skryf oor Adriana en haar kind, was dit so ’n geval van, Ranna is in haar laat 30’s, sy moet nou begin besluit oor kinders. Dit het net uitgekom as ’n storielyn, veral omdat Adriana en Ranna nogal dieselfde is. Dit het my verras. Boris was ’n lekkerder karakter as wat ek verwag het. Ek het dit ook geweldig geniet om die deel van Petra Kotze, die etiket-kenner, in te skryf. Ek het toevallig een aand langs ’n etiket-spesialis gesit en ná die gesprek aan tafel oor hoe mens sop eet, moes ek dit eenvoudig in die boek gebruik.

Wat het jou ná Adriana se aanvanklike skepping laat besluit sy moet ’n volle boek van haar eie word?

Dis so lekker karakter dat ek iets meer met haar wou doen. Sy het net in my kop bly lê totdat haar storielyn vir my helderder geword het. Ek is baie bly daaroor. Adriana leef nogal volgens haar eie morele kode. Sy gee nie om wat die wet sê nie, want die wet jok vir mens (glo sy). Sy het vir haarself ’n kode uitgewerk oor waarvan sy hou en nie.

Broei karakters lank in jou kop voordat hulle figureer op papier?

Al my karakters bly saam in my kop. Ek dink die heeltyd wat kan hulle doen, wat kan met hulle gebeur. Adriana het verskriklik lank in my kop gebroei, wie en wat sy is, hoe sy lyk …

Hoe sif jy uit al die inligting wat jy bymekaar maak in jou navorsing om uiteindelik by ’n karakter soos Jakkal uit te kom?

Jy skep ’n karakter en jy gee sekere goed vir die karakter en jy los die ander. Jy skaaf maar die hele tyd. As jy klaar besluit het hoe oud hy is, hoe hy lyk en wat sy werk is, dan gaan soek jy net die feite rondom die veiligheidspolisie. Dis oorweldigend as jy aan ons land se geskiedenis dink. Ek fokus net op die karakter se verhaal, nie op die land s’n nie en gebruik net genoeg inligting om hom in te kleur en geloofwaardig te maak.

Jakkals en hoe hy dood is, waarom?

In my kop het Jakkals “redemption” gekry met hoe hy dood is. Hy het so amper soos ’n feniks uit die as verrys deur sy verlede af te gewas het en anderkant skoon uit te stap deur die regte ding te doen.

Wie het vir jou die fyner kunsies van mesgooi geleer?

Ek het ’n gooimes as geskenk gekry. Daarna het ek Adriana geskep in Skrapnel, die tweede boek. Ek ken nie self die fyner kunsies van mesgooi nie, maar ek het baie goeie navorsing daaroor gedoen. Ek is mal oor burlesk sirkus. Oral waar ek reis, sal ek een gaan bywoon. Mens steel mos maar so bietjie as jy mense dophou. So ek het maar gesteel by daardie arties en by ’n ander kunstenaar en dan vorm ek ’n karakter met van daardie eienskappe.

Liesbet en die hele sendeling-storielyn. Dis so in kontras met Adriana, waarom?

Dis so bietjie soos Boris en Yasen. Dis die besluite wat Adriana geneem het vir die omstandighede waarin sy was, en Liesbet het die besluite geneem volgens die omstandighede waarin sy was. Maar die vraag is eintlik hoeveel is hulle dieselfde en sou hulle ander besluite geneem het as hul omstandighede anders was, en is dit omstandighede binne ’n tydsraamwerk wat hulle laat optree soos hulle optree? Ek ken ook ’n handvol sendelinge en hulle is almal fundamentele goeie mense wat omgee vir ander mense. Hulle is die soort mense wat wildvreemde kinders sal inneem. Ek hou daarvan om sulke kontraste in te skryf in die verhaal, want dit maak ’n boek vir my interessant om te lees. Ek wou sê wie Adriana is en wie sy sou kon wees as sy dalk op ’n ander tydstip grootgeword het. Daar is tog so bietjie van ’n sendeling in Adriana, veral as sy haar morele kompas volg. Sy en Liesbet is eintlik weergawes van mekaar.

Jy het in ’n vorige onderhoud gesê jy gebruik musiek vir elke karakter. Het Boris en Yasen spesiale musiek gehad?

Boris snaaks genoeg nie, hy is stilte, soos woestynstilte. Yasen is tjellomusiek en eienaardig genoeg, klassieke musiek. Hy probeer voorgee om iets te wees wat hy nie is nie en om weg te kom van sy wortels af.

Werk jy aan ’n volgende boek?

Ek werk reeds aan Sondag, met Alex, Ranna en kaptein AJ Williams as die hoofkarakters.