Ons is nou amper twee jaar hier en bly op ons kinders se plaas 11 km suid van Saskatoon in die provinsie Saskatchewan, ook bekend as die prêries. Ander Kanadese kry so ’n half bewonderende maar tog ook simpatieke uitdrukking in hul oë, want as jy hier woon, beteken dit die aarde is so plat soos ’n pannekoek en temperature in die winter daal tot -40 °C. Dis ook bekend as “The land of the living skies” vanweë die Noorderligte en pragtige wolkformasies oor die uitgestrekte graanlande. Die prêries lewer sowat die helfte van die wêreld se koring, asook kanola en wolfsboontjies (lupin). Jy wag dikwels tot 20 minute by ‘n spooroorgang terwyl ’n trein met 130 graantrokke verbyry.

Ons huis word afgelewer. Ons het ’n modulêre huis gekoop wat van Amerika af kom. Boukoste is baie hoog hier en dit was ons beste opsie. Die huis is op ’n sleepwa gelaai en na die plaas gesleep. Ons waterpype word met elektries verhitte isoleerband toegedraai waar dit bo die grond uitkom om te verhoed dat dit vries. Waterpype is agt voet onder die grond en daarom het alle geboude huise ’n kelder.
Gedurende die winter het ons darem baie lus geword vir ‘n stukkie braaivleis en het sommer in die sneeu op ons kampbraaiertjie gebraai. Ná die winter het ons ’n houtdek gebou met ‘n dak en ’n gasbraaier wat aan munisipale gas gekoppel is. Die dek het gaaspanele aan die kante om ons te beskerm teen die miljoene bloedlustige muskiete. Braai in die sneeu.

Die aanpassing was in sommige gevalle nogal moeilik. Die ergste was om getoets te word vir ’n Kanadese rybewys, komende van ’n land met regterhandstuur. Hier is heelparty ander padreëls. Die spoedgrens in die stad is 50 km/h, maar by skole is dit 30 km/h. En wee jou as jy daar gevang word vinniger ry. Jy kry ’n stywe boete en ook heelwat punte teen jou lisensie. Selfs op hoofweë waar die spoedgrens 110 km/h is, moet jy 60 km/h ry as daar werkers langs die pad is. So nie, kry jy ’n driedubbele boete. Padgebruikers hier is baie gedissiplineerd.

Die eetgewoontes van die Kanadese is ook anders. Hier het ‘n messestel slegs twee vurke, een dessertlepel, een mes en een teelepel. Toe ek ewe onskuldig vra hoekom net een mes en nie twee nie, was die antwoord baie kortaf alles kan met een gedoen word en dis minder skottelgoed. Kleinbordjies word ook nie sommer gebruik nie; brood en ander kos kom in dieselfde bord. Selfs by deftige geleenthede is dit nie vreemd om kos in ’n papierbord te kry nie. Die gesondheidsreëls verbied dat eetgerei by openbare geleenthede met die hand gewas mag word. Dit moet in ’n skottelgoedwasser gewas word. Skole en kerke het gewoonlik net een of twee en om 150 mense se eetgerei te was, gaan die hele nag in beslag neem. Die maklikste uitweg - weggooibare eetgerei.

Die Kanadese is ook baie lief vir hul koffie. Mense stroom soggens werk toe, aktetas in die een hand, koffiebeker in die ander. ’n Bodemlose koffie is by elke restaurant beskikbaar en as jou beker halfleeg is, word dit gevul. By vulstasies is daar koffiemasjiene met elke denkbare geur koffie waarmee jy jou travel mug kan vul. Elke motor is voorsien met ’n koffiebeker-houer vir elke passasier.

Skaapvleis is skaars in Kanada. Soms kry jy skaaptjops van Nieu-Seeland, ’n duim dik en peperduur. Bees, vark, hoender en kalkoen is dus gewoonlik op die spyskaart. Salm is ook volop. Groente en vrugte kom van die VSA, Mexico en Europa en is nogal duur. Selfs vrugte uit Okanagan in Alberta moet hierheen vervoer word en is duur. Appels is die enigste vrug wat ons in Saskatchewan van die boom af kan pluk, asook bessies soos die saskatoonbessie, swartbessie en aarbei.

Die sneeu is 'n meter diep.

Temperature wissel van 15 °C tot 35 °C in die somer, en tot -40 °C in die winter. Vanjaar was die ergste sneeu in 110 jaar. Dit het in Oktober 2012 begin sneeu en nooit weer heeltemal gesmelt voor Maart 2013 nie. Dit stem mens nogal droewig as jy die Kanadese ganse hoor bymekaarkom en oefen vir die lang migrasie suide toe. Ná die sneeu verander die son gelukkig alles in ’n sprokieswêreld en dit help dat jy nie depressief word weens die lang winters nie. Wanneer die ganse in die V-formasie wegvlieg, weet jy winter is om die draai. Dan haal jy jou stokperdjie uit, want die dae is kort en die aande lank. Ek het weer begin skilder, met olie en akriel, en Robbie het ‘n modelboot gebou. Dis heerlik so bymekaar, met klassieke musiek oor die radio, koffiebekers gevul à la Kanada-styl terwyl die sneeu saggies buite val.

Ons loop almal soos pikkewyne buite, hier bekend as die Saskatchewan Shuffle, want die sneeu is seepglad. Dis ook die seisoen vir gebreekte polse en heupe. Op die hoofpaaie is daar ook ’n tweede stel verkeersligte omtrent 50 meter voor die kruising om jou betyds te waarsku dat die lig rooi gaan wees as jy daar aankom. Dan is dit stadig rem, anders gly jy. Hier het mens motorbande vir die winter en vir die somer. Om lang afstande aan te pak in die winter het jy ekstra warm klere, ’n kombers, sjokolade vir energie en ’n kers met vuurhoutjies in die motor. As jy sou gly en in ’n sloot beland, moet jy kan oorleef tot hulp opdaag. Nie ’n plek vir bleeksiele nie!

In die somer is al die woonwaparke gepak en daar’s stringe RV’s op die pad. Dis motorhomes, woonwaens en fifth wheelers gesleep deur groot dubbelagterwiel-bakkies, soms nog met ’n boot ook aangehaak. Kanada het tientalle mere waar in die somer vis gevang word en in die winter gejaag word met snowmobiles. Hier leef almal intens en is baie aktief.

Almal trek hul skoene uit by die buitedeur, winter en somer, dis tradisie. So bly die vloere en matte langer skoon. Selfs die kinders by die skool het skoene vir binne en buite. Die huise en winkelsentrums is heerlik verhit. Moet sê, ons kry minder koud hier in -40 °C buite as in SA in die winter. Dis omdat die huise geïsoleer is.

 Ons maak wors! Ons is ’n groep Suid-Afrikaners wat gereeld bymekaarkom en dan boerewors maak, koeksisters bak of sommer net kuier. Ons het ‘n jaarlikse byeenkoms van Suid-Afrikaanse vroue - die Prêrie Paartie. Vanjaar bied  Saskatoon dit in Augustus aan. So ontmoet ons nuwe mense en kan mekaar ondersteun.

Daar is nog so baie ander dinge wat ek kan noem, maar my brief word nou lank.

Baie dankie vir die geleentheid om ook van ons lewe hier in die “vreemde” te vertel.

Beste groete,

Alet Gilliland