Uiteindelik het ek die pot in my hand. Gevul met rooi potlode of uitveërs, bonkige rooi krale of net suiglekkers sal dit my vriendin laat gil van plesier. Daar is bykans geen rooi voorwerp wat nog nie in haar besit is nie, en die soektog na ’n verrassing raak elke keer meer spanningsvol. ’n Hand land saggies op my arm. Langs my staan ’n beeldskone vrou met te veel potlood om die oë. Sy glimlag en hou ’n massiewe ligblou asbak na my toe uit. Sal dit werk op Kaalkop? vra sy. Ek dink nie so nie, sê ek. Daar is geen nut voor nie. Net vir die mooi, sê die vrou. Kaalkop is mooi genoeg, sê ek. Maar presies hoe lyk dit daar? vra die vrou. Ek vertel haar van die simmetriese grasvelde, die lang koeltes, die tydlose klere, die kalm wolke, die beeldskone bleek bome, die stilte en die baie ruimte. Net so leeg? vra sy. Nie leeg nie, sê ek. Net bevry van twak. Alles wat jy ooit mag nodig kry, is daar. O, sê die vrou, dis soos daai minimalistiese goed in die tydskrifte. Sy verloor onmiddellik belangstelling, draai om en woel haarself deur die kleurryke doolhof tot by die toonbank. Ek kyk na die rooi pot en glimlag. Hoeveel keer moes ek dit al aanhoor? Ja, hier op aarde is minimalisme wel ’n modegier. Nou’s dit in, dan’s dit uit. Vandag alles wit, môre is dit patrone en kartels. Hierdie jaar is opgaar en alle eklektiese ophoping net die ding,volgende jaar stroop ons weer alles. Iemand moet geld maak en die winkelvensters moet verander en tussendeur probeer ’n paar modeslawe verward oorleef. Op Kaalkop is minimalisme ’n leefstyl (sonder ’n naam of beskrywing), die vermoë om te kyk na ’n voorwerp of ruimte en meer raak te sien as wat vanselfsprekend is. Dis die besluit om op te hou klou aan dit wat nutteloos, onprakties, swak ontwerp of bloot sentimenteel is. Dit is die besef dat ’n massa besittings nie geluk, veiligheid, sukses of bevrediging bring nie. Dit is die geleentheid om elke mens, voorwerp, oppervlak of tekstuur die kans te gee om sy volle vermoë, elke kenmerk en elke moontlikheid in te span of te bereik. Dit is die oomblik wanneer jy besef jy het nie te min nie, wel te veel. Dit wat dikwels kortkom, is kennis, verbeelding, respek en energie - die wete dat elke dag, elke oomblik, ’n leerskool is en steeds weet ons maar bitter min. Stel werklik belang, net nuuskierig of bloot verveeld? Probeer dié paar oefeninge uit die Kaalkop Oop-oog-kursus. 6 wit teëls Kry ses spierwit gewone badkamerteëls in die hande en dwing jouself om dit op tien verskillende maniere te gebruik. Rangskik dit in die middel van die tafel en plaas kerse daarop, gebruik dit as kleinbordjies, sit roosterbrood of verversings daarop voor, gryp ’n Koki of kwas en skryf ’n persoonlike boodskap aan elke vriendin en plaas dit onder hul teekoppies, gebruik dit om servette en messegoed op ’n ongewone manier aan te bied, of gebruik dit as plekmatjies. 1 groot vierkantige bord Sit jou gunstelingslaai op ’n bord voor pleks van daai diep, souserige bak, plaas seep en waslappies daarop vir gaste, kry meer as een en skep verskillende areas vir grimering, medisyne en persoonlike items, vir ’n Oosterse effek: Stapel ’n paar op mekaar en rangskik eksotiese of papierblomme bo-op, plaas dit langs die bed met boeke of CD’s daarop, gee ’n vertrek tekstuur en hang dit teen ’n muur met dieselfde kleur. Water Skep ’n atmosfeer van vrede en skoonheid met vloeistof. Vervang die tipiese ruiker deur ’n groepering van besonderse glase vol water, vul ’n houer met water, dompel vars kruie daarin en laat kerse bo-op dryf, bring lewe na ’n dooie area met ’n vlak bord vol water en drywende blare, die moontlikhede maak my mal. Materiaal Koop ’n vierkant van jou droomlap en gebruik dit op elke denkbare manier. Slaap daaronder, piekniek daarop, dra dit, kyk daarna, voel daaraan, draai daarin toe. Minimalisme is werklikwaar ’n simpel, oningeligte beskrywing vir ’n nuwe wêreld hier vlak voor die voete. Blaas net die stof weg.