Die een praat van opwinding, die ander sê melancholie. Ek’s bietjie van albei, dink ek, ná SARIE se trek die afgelope maand van die hoë gebou aan die onderpunt van Adderleystraat in Kaapstad (waar ons 26 jaar was) na die vierkantige gebou-nog-in-stellasies oorkant die straat.

My eerste reaksie toe ek hoor ons trek, was een van ongeloof en irritasie. Om ’n groot redaksie, ’n vragwa vol lessenaars en hope stukke duur masjinerie te skuif, plus ’n geskiedenis van byna 58 jaar in bokse opgepak te kry is g’n grap nie. Strawwe sperdatums en gevorderde tegnologie wat broos en wispelturig kan wees, hou ons SARIE-span op ’n goeie dag op ons tone. Wat nog met ’n ontwortelde span en ’n swetterjoel ontkoppelde rekenaars?

Tog was dit nie eintlik dít wat bly krap het nie. Ook nie die onvoltooide gebou met sy geboor en gekap en bangmaak-hysbakke nie. Ek kon sien dat die skuif vir ons goed sou wees. Dat dit op die ou einde ’n ruimte sou bied waar ons van nuuts af energiek en kreatief sou kon wees.

Nee, iets anders het aan my hart bly pluk ... Die ou gebou was dan soveel jare SARIE se tuiste. Vir ons span en al die spanne voor ons. Vir my en vir die redakteurs voor my.

Week ná week het die bokse begin opstapel, is lessenaars, stoele en kaste genommer, en elke rekenaar en elke kabel met ’n spesiale kode gemerk. Dag vir dag het die vullisblikke oorgeloop van goed wat nie meer goed genoeg was om die trek mee te maak nie. Tydskrifte en boeke is opsy gesit vir diegene wat nog vreugde en nut daaruit sou kon put. Skole, ouetehuise, weeshuise.

Maar in mý kantoor het als bly staan. Voor my kantoor het die leë bokse opgestapel - ’n stille boodskap van my persoonlike assistent dat ’n trek vir niemand wag nie. En toe, met net 3, 4 dae oor voor die trek-mense soos ’n weermag op maneuver daar ingemarsjeer sou kom, het ek besef ek moet nou pak!

Só het my stryd met nostalgie begin. Ek het gepak. Ek het weggegooi. En weer uit die vullisblik gehaal en ingepak. Ek het hopies gemaak van moet-hê, minder-moet-hê en minste-moet-hê. Toe voeg ek die minste-moet-hê by die minder-moet-hê hopie. En toe pak ek daardie hopie saam met die moet-hê-hopie in die boks. Soos ’n berg het my gepakte bokse opgestapel.

En toe trek-Vrydag aanbreek, toe vat ek en my bokse vol nostalgie die pad na die oorkantse gebou.

Want hoe gooi jy jou geskiedenis weg? Elke stukkie papier beteken tog iets. Dis nie net die bundels dokumente en tydskrifte in ons biblioteek wat ’n storie vertel van SARIE en haar mense nie. Dis die klein notas, die toevallige opmerkings van vorige redakteurs, die geskrewe menings van vergete redaksielede, die onderstreepte strofes in ’n ou digbundel wat êrens in ’n storie of ’n toespraak gebruik is - dís die dinge wat eintlik sê wie en wat SARIE is. Wat iets verklap van die drome, vreugdes en vrese van ’n tydskrif en haar lesers oor baie jare.

Nou’s my bokse uitgepak. Elkeen van hulle. En alles, nuut, oud en vergete, het ’n spesiale plek in my splinternuwe kantoor.

Michélle van Breda

SARIE  Mei 2007