Om vroeg in Januarie deur die werklikheid van die syfers op hierdie wrede stuk tegnologie in die gesig gestaar te word is gewoonlik vir my die pynlike laagtepunt van die wonderlike Desembers in ons mooi land.

Dis een stryd van die lewe wat niemand anders namens jou kan stry nie - die stryd teen die kilojoules en hul bondgenote, die kilogramme en sentimeters. Jare lank reeds veg ek om so nou en dan by uitverkopings ná die feestyd die prestasie te kan behaal om winskope te kry wat nie met die gevreesde drie X’e of ’n L gemerk is nie. Die M-rakke is my sedert my hoërskooldae nie meer beskore nie.

Een opsie oorweeg ek egter nooit: Om my in die week of twee vóór en ná Kersfees te bekommer oor die gevreesde drie X’e op die etiket van ’n winskoophemp. Sonsak-braaivleis, waatlemoen op die grasperk, roomys ná ’n strandkrieket-oorwinning, vakansiekoekies in oorvloed, allerhande soutighede en koue lafenisse terwyl die kole nog nie gereed is vir die snoek, forel of skaaptjops nie. Wie kan in sulke tye dink aan etikette wat jy in elk geval gaan afsny omdat die meeste daarvan jou nek laat jeuk?

En dan het Desembers ’n manier om ’n mens ook anders oor ontbyt te laat dink. Dis meestal net ’n voortsetting van gisteraand. Om te help dat die ovaalvormige vleisbak vroegoggend al leër gemaak word om plek te maak vir wat vanaand wag, is ’n plig wat in ons huis selde versuim word. En so begin ’n dag wat gekenmerk word deur vroegopstaners en laatslapers wat hul skrede onwillekeurig tot die yskas wend.

Óórheiliges het op ’n keer vir Hom oor wie Kersfees eintlik gaan, gevra hoekom Hy en sy dissipels so baie feesvier. In sy antwoord lê die wysheid van die lewe.

Daar is ’n tyd om die nabyheid van die Bruidegom te vier en daar is ’n tyd om na Hom uit te roep deur vas en gebed. Al twee is nodig. En Hy wat gebore is, is die rede vir albei. Hy is die een wat die fees waarlik fees maak en Hy is die Een wat ons kan help wanneer die lewe opofferings van ons verwag.

Selfs ook wanneer Januarie se weegskaal wag.