Maar dit was goed, en teen die einde van my redakteurskap was SARIE die markleier, danksy ’n wonderlike redaksie-span. Hulle was ’n redakteur se droom.

Dit was eintlik vir my ’n vreemde paadjie na SARIE, of paaie wat gekruis het, patrone wat gevorm het. Ek het hier einde 1973 gereeld op die radio begin optree in die destyds bekende program Vrouerubriek. Mari Coetzer en Maks van Rensburg was daar die skynende ligte. Maks het by gemeentelede in Constantia gekuier
en my hoor preek. Toe bel sy om te hoor of ek in radio belangstel. Reeks op reeks het gevolg.

Intussen was my vriend Fritz Joubert redakteur van die destydse BY. Hy het so ’n uitstekende jop daarvan gemaak dat hy later (in 1976) redakteur van SARIE
geword het. Ek het vir Fritz ’n paar rubrieke in BY geskryf. Toe hy SARIE toe is, het hy my gevra om saam met Audrey Blignault die Agterblad te skryf. Dit het
nog nie “Agterblad” of “Laaste sê” geheet nie. Tevore het die oorlope van lang stories op dié blad geëindig, onaantreklik en onáf. Fritz het dit stopgesit, en ek en
Audrey het begin skryf.

Bakkies Rossouw, wat my as redakteur opgevolg het, was toe ná Fritz redakteur van BY en hy en Piet Cillié was nie baie danig met die feit dat ek vir SARIE ook
skryf nie. Bakkies het gewaarsku dat ek my bord te vol rubrieke skep, radio inkluis. Dit was die waarheid, maar ek het daardie tyd vir alles kans gesien.

Daar was nogal besware toe ek as redakteur oorgeneem het: Sekere vroue wou ’n vrou aan SARIE se stuur hê, maar drie uiters bekwame vroue wat voor my genader is, wou om een of ander rede nie daardie stoel hê nie.

Dit was vir my moeilik om die aktiewe bediening te verlaat en SARIE se redakteur te word. My hart het iewers op die preekstoel agtergebly. Daaraan het ek weer
gedink toe ek onlangs ’n klompie outobiografiese sketse geskryf het wat eersdaags as Strooidak tot Toring verskyn.

Maar ná rukke en stote het dit met SARIE baie goed begin gaan en ons kon elke ses maande mooi vordering in verkope vier. Vriendskappe is gevorm wat nou nog bestaan. Uitstekende joernaliste het by die span aangesluit. Eintlik het ons ’n familie geword, van Kaapstad tot in die Noorde, waar ek ook die huidige redakteur, Michélle, gepamperlang het om na ons te kom. Vandag dink ek aan baie van hulle as my “kinders”.

’n Mens se lewe verander in so ’n gedurige leerproses. Ek moes leer om te weet waarvan Peter Veldsman praat wanneer hy sy kosartikels, foto’s en al, kom voorlê. Of handwerk, of modes. Op ’n Europese reis was kennisse verbaas dat ek by feitlik alle modewinkels ingeloop het om te kyk wat op die modefront na ons aan die kom was in die somer! Plaaslik het ek by boekwinkels gaan kyk of SARIE mooi uitgestal is. En elke redaksielid het dit gedoen.

Daar was ook dae van groot hartseer, soos toe Alta de Beer in 1989 in ’n motorongeluk gesterf het. Kort daarna is Janetta van der Walt oorlede, ’n jong vrou in haar fleur, aan beroerte. Dit het ons span hegter saamgevoeg.

’n Tydskrif word deel van ’n mens, is dit vandag vir my nóg. Daarom, Michélle, is ek baie dankbaar dat ek jou destyds oorgehaal het om na SARIE te kom. Jy weet hóé om dinge te doen.

Glansfigure kom en gaan, modes, resepte, uitlegte . . . maar gehalte groei, 60, 70, 100 jaar en meer.