Haar hare met die effense rooi skynsel blink in die son waar ons in Sanlam se binneplein in Bellville koffie drink. Sharon Munnik (43) is keurig gegrimeer, haar oë lewe en om haar nek blink ’n stewige
silwerketting. Sy het beslis rede om te glimlag ...

“Vroeër het ek myself glad nie versorg of juwele gedra nie,” sê sy. “My klere was vormloos en ek was skaam om voor mense te verskyn. Dan praat ek nie eens van die verskriklike depressie nie.”

Sharon verwys na vroeër, in 2009, toe sy – net 1,67 m lank – 116 kg geweeg het. Tot hiertoe en nie verder nie, het sy besluit. Op haar swaarste het sy immers 140 kg geweeg!

Vandag is Sharon, op 79 kg,’n aantreklike, sprankelende vrou. Dié enkelma lag lekker as sy vertel van die oorweldigende aandag wat sy deesdae kry. (Veral van mans, sien ’n mens terwyl sy verby ’n besige koffiewinkel stap.)

As fondsadministrateur moet sy soms mense toespreek. “Voorheen was dit bitter moeilik, want ek was altyd die vetste vrou in die vertrek,” sê sy.

Toe haar werkgewer, Sanlam, aanbied om haar dieet-en-oefenprogram finansieel te ondersteun het sy die geleentheid aangegryp.Want nie net was sy oorgewig nie, sy het permanent artritispyn in al haar gewrigte gehad, vertel sy. Selfs in haar bors!

“En omdat my voete weens die gewig so geswel het, kon ek soms nie behoorlik loop nie en moes my kollegas my by die voordeur van die gebou kom haal op ’n stoel met wieletjies!”

Sharon het in September 2009 die Medical Nutritional Institute (MNI) se Lighthouse Weight Loss-program begin volg. Dit het haar lewe – en haar leefwyse – verander. Sy het geleer om te eet om te leef, nie andersom nie, vertel sy, en ook dat oefening baie belangrik vir gewigsbeheer en gesondheid is.

Van al haar kollegas (25 hetingeskryf vir die program) het sy op een ná die meeste gewig verloor.
Omdat haar prestasie week ná week op die intranet gedokumenteer is, kon Sanlammers haar dophou en ook vir hul gunsteling stem. Sharon het die meeste punte gekry. Vandag dra sy ’n
nommer 12, of, na gelang van die snit, ’n 14. En haar gewig is stabiel.

Sy het geweet die pad gaan nie maklik wees nie. In 2004 het sy een van haar niere aan haar suster, Tania de Koker, geskenk. Tania se organe het weens septisemie ingegee.Waar sy by die dood omgedraai het en daagliks ’n paar keer dialise moes ontvang, is sy nou sprankelend gesond.

Tania verwys na haar suster as “my engel”. Omdat Sharon net een nier het, kon sy nie hulpmiddels soos vetblokkeerders of proteïenaanvullers neem nie. (Die niere help met vetuitskeiding.) Die MNI-program het wel vir haar ’n natuurlike middel vir insulienweerstandigheid – ’n groot oorsaak van vetsug – voorgeskryf. (As jy insulienweerstandig is, is jouliggaam se vermoë om energie
te gebruik – en dus vet te verteer – versteur.)

Weens haar een nier het medici gesê sy het ’n agterstand en sy sal sukkel om gewig te verloor. Selfs dít het haar nie afgeskrik nie.

Vandag is haar twee seuns baie trots op haar en hulle sê dis lekker dat sy saam met hulle ’n bal kan rondgooi, vertel Sharon.

Sharon voordat sy 37kg verloor het:

Sharon Munnik

Lees die volledige artikel in die November 2011-uitgawe van SARIE