Die opbrengs word geskenk aan die Endangered Wildlife Trust (EWT) om met sy pogings teen renosterstropery te help, asook aan die Renosterveldtrust vir sy veldtog om bewustheid van die inheemse maar uiters bedreigde renosterveld te skep. Deelnemers kan ’n roete van 15 km of 50 km oor mensgemaakte, meestal enkelspore of viertrekspore volg. Durbanville Hills-Wyne is ’n lid van die Biodiversiteit & Wyn-inisiatief (BWI), ’n organisasie wat hom vir die beskerming en rehabilitasie van inheemse plantegroei beywer, veral in die Kaapse Blommeryk. Die wynmakery beskerm reeds meer as 410 ha op ledeplase, grootliks renosterveld, een van die groot plantgemeenskappe van die Kaap se inheemse flora. Sy Rhinofields-reeks is ook na die renosterveld vernoem om groter bewustheid van die bedreiging vir dié habitat te skep. Anders as fynbos, wat in swak grond in meer onherbergsame gebiede gedy, groei renosterveld op vrugbare grond. Metterjare het wingerde en koringlande dit verdring, en tans dek dit net 4% van sy vorige verspreidingsgebied. Dit huisves talle plantspesies asook een van die mees bedreigde en seldsaamste skilpaaie ter wêreld, die suurpootjie. Die Durbanville Hills-Renosterresies gaan ook verhoogoptredes, ’n speelgrond vir kinders en verskeie kosstalletjies insluit. Durbanville Hills se wyn sal te koop wees, en kan ook die hele dag lank geproe word. Datum: Saterdag, 22 September 2012 Plek: Van Gaalen, Skeerpoort, Magaliesberg GPS-koördinate: S 25° 47.271' E 27° 46.327' Registrasie: 08:00 50 km: Wedren begin om 09:00 en kos R120 per inskrywing 15 km: Wedren begin om 09:30 en kos R60 per inskrywing Skakel Erik Schipper by (073) 222-8260 vir nadere besonderhede. Jy kan ook aanlyn by www.ridetherhino.co.za inskryf.