Wouter de Wet wil reis, maar terselfdertyd geld verdien. Sy avontuurlus en nuuskierigheid het hom na Korea geneem waar hy vir ’n tyd as Engelse onderwyser werk.

Hy vertel meer oor sy lewe in Hayang, Korea.

Ek het aan die begin van die jaar my tasse gepak en Korea toe gekom om vir ’n tyd hier as Engelse onderwyser te werk. Ek wou die wêreld sien en vriende het gesê dis ’n goeie manier om geld te maak terwyl jy dit doen. So hoekom dan nie?

Ek woon in Hayang, ’n kleinerige dorpie so 4 uur se reis van Seoul af. Hoe verder ’n mens van die hoofstad woon, hoe minder Engels hoor jy rondom jou. Dít maak die aanvanklike kultuurskok net so effe groter. Om dit weer makliker te maak, is hier gelukkig ’n paar bekende gesigte. Ek en my meisie, Karen Steenkamp, het saam hierheen gekom en ek het heelwat Suid-Afrikaanse vriende wat oor die land versprei is. Verder is hier ’n groep Amerikaners wat by een van die universiteite in Hayang doseer. Interessant genoeg vind ek hulle vreemder as die Koreane.

Karen Steenkamp en Wouter de Wet. Karen Steenkamp en Wouter de Wet.

Aan die suidpunt van Afrika weet ons maar min van Korea. Nie die blogs wat ek vooraf gelees het óf al die YouTube videos wat ek gekyk het, het my regtig voorberei op dit wat sou kom nie. Die avontuur lê egter daarin om jouself by die diepkant in te gooi, nie waar nie?

’n Avontuur is Korea wel, want dis nie net ’n ander land nie, maar dit voel soos ’n ander wêreld. Die lewe soos ons dit in Suid-Afrika ken, word hier op sy kop gedraai. Die taalgaping laat jou heel eerste besef dat jy nie meer by jou ma se huis is nie. Benewens lewensbelangrike frases soos “hallo”, “dankie” en “twee biere asseblief”, kan ek nie veel anders in Hangul sê nie. Dis egter redelik maklik om die vreemde tekentjies te leer lees en skryf. Met ’n bietjie inspanning en heelwat Google Translate kan ek myself dus maklik in ’n restaurant of ’n treinstasie oriënteer.

Saam met kollegas. Saam met kollegas.

Om daagliks in ’n klas vol kinders te staan wat nie eintlik weet wat jy sê nie, is ’n groot uitdaging. Ek werk by ’n naskoolse akademie en is geseënd met kinders wat wíl leer. Dit maak dit baie makliker om tot hulle deur te dring. Daar is egter gereeld dae wat hul gretigheid en gehoorsamheid ontbreek – dán praat ek graag Afrikaans!

Die naskoolse akademie waar ek werk. Die naskoolse akademie waar ek werk.

Korea se reuke en smake neem ook maar ’n tydjie om aan gewoond te raak. Die geure van die groot verskeidenheid street food was aanvanklik maar hard op die neus. Soppe, viskoekies en bloedwors word hier by die tonne geëet. En dan natuurlik kimchi, die ingelegde kool wat saam bykans elke maaltyd bedien word. In Suid-Afrikaanse terme is kimchi ’n bietjie soos ’n mengelslaai – elkeen maak dit so bietjie anders, maar dis altyd op die tafel.

Gamjatang - varkbredie bedien met kimchi en knoffel. Gamjatang - varkbredie bedien met kimchi en knoffel.

Dit het my maar baie eksperimentering gekos om eindelik ’n smaak vir die plaaslike kos te ontwikkel. Na ses maande kon ek egter ’n stewige lysie met gunstelinge opstel. Heel bo aan is gamjatang, ’n bredie met vark rugstring, aartappels en uie. Verder het Korea die kuns van fried chicken bemeester. Die res van die wêreld kan gerus hier kom leer! Daar is egter steeds ’n paar dinge waaraan ek nie (weer) my lippe sal sit nie. Bloedwors, vark afval en beondegi – gestoomde sywurmpapies – is maar net ’n paar voorbeelde.

Beondegi - gestoomde sywurmpapies. Beondegi - gestoomde sywurmpapies.

Al laat die vreemde kos jou somtyds bietjie neus optrek, kan ’n mens nie anders nie as om ander aspekte van die land te bewonder. Die Koreaanse Oorlog (1950-1953) het die land verpletter. Vandag spog Korea met ’n vlak van ontwikkeling waarby min ander lande kan kers vashou. Seoul metropool is een van die wêreld se vyf grootste stedelike gebiede, met nagenoeg 25 miljoen inwoners – die helfte van die hele land se bevolking. Korea se ekonomie is onder die top-20 in die wêreld, te danke aan massiewe maatskappye soos Samsung en Hyundai. Na beraming gaan daar ook in die eerste 20 jaar van die 21ste eeu sowat 300 biljoen US $ op infrastruktuur soos lughawens, paaie en kragsentrales bestee word. Ek woon heel duidelik in ’n land wat nog glad nie klaar gebou is nie.

Hierdie ongelooflike ontwikkeling sorg vir ’n groot generasiegaping. Die ouer garde moes ekstra hard werk in moeilike tydperk van die land se geskiedenis, en vandag pluk die jonger generasie die vrugte daarvan. Laat ek twee prentjies skets.

Ek loop daagliks so halfuur van my woonstel na my skool toe. Ek stap dan tussen ryslande en ander aanplantings van verskeie soorte deur. (Oor die hoenderplaas het ek steeds my bedenkinge. Ek sien gereeld honde daar ronddwaal, maar nooit dieselfde hond twee keer nie . . .) Hierdie lande word bewerk deur ou mense wat sewe dae ’n week gebukkend taak. Die opbrengste word dan op straathoeke sommer so van die sypaadjie af verkwansel. Harde arbeid is dus geen vreemdeling vir die ouer generasie nie.

Die jonger generasie kom baie meer verwesters voor. Wanneer jy oor naweke uitgaan, is dit nie ’n vreemde verskynsel as daar ’n jong Koreaanse kêrel in sy Ferrari of Maserati verby ry nie. In ’n nagklub waar ek onlangs was, is bespreekte tafels met bottels Moët & Chandon beskikbaar teen ’n skamele R1000 per persoon. Hierdie tafels was propvol.

Die verwestering van die jonger generasie beteken egter nie dat hulle nie hardwerkend is nie. Trouens, as daar een ding is van Korea wat ek graag meer van in my eie land sal wil sien, is dit hul hardwerkendheid. Wanneer kinders enigeiets van eenuur die middag klaarmaak by hul publieke skool, gaan hulle tot so laat as saans tienuur na verskeie akademies toe. Hulle ontvang onderrig in Engels, wiskunde, wetenskap, kuns, en vele ander vakke. Voorwaar ’n kultuur van harde werk.

Ek woon in ’n vreemde maar baie interessante land. Dis ’n ongelooflike geleentheid wat ek het om ’n ander deel van die wêreld te sien en om ’n kultuur so anders as my eie eerstehands te kan beleef. Nie net leer ek baie oor Korea nie, maar ook so bietjie oor Suid-Afrika. Soos dat skaaptjops lekkerder as kimchi is.