Sy is aan huis by Hardy Olivier en Louis Jansen van Vuuren, twee Suid-Afrikaners wat verlief geraak het op ’n vervalle chateau, La Cruezette, en dit gerestoureer het tot ’n lieflike woning. 

Sodra die ysterhek in die klipmuur aan Avenue d'Auvergne op Boussac oopswaai en jy deur die laning bome na die voordeur opry, begin dit voel of jy in ’n droom leef.

Voor jou troon ’n negentiende-eeuse woning, ’n statige madame in die vroulike Napoleon 3-styl. Sy is omring deur ’n reuse-grasperk met rustige mymerhoekies: Hier 'n kuiertuintjie, daar 'n gazebo en 'n geurige roostuin, nog verderaan 'n visdam met 'n houtbruggie. En in die buitegebou, eens 'n perdestal, wag die somerkombuis en kunsateljee - met beloftes van connoisseur-kos en onvergeetlike skilderklasse. Hardy is 'n sjef en Louis 'n kunstenaar. Hulle is ook, saam met Anet Pienaar, die medeskrywers van Feestelike Frankryk.

En Nina gaan hierdie ongelooflike belewenis op die Franse platteland vir die volgende drie maande met ons deel!

My eerste week in Frankryk

Vroeg die oggend van 26 April 2011 het ek al 'n geweldige naar kol op my maag. Dit was 'n kombinasie van spanning, stres en opwinding. Ek het geweet wanneer ek op Air France klim om te vertrek na Frankryk, is alles net een stappie nader.

Vir die volgende drie maade (ek hou daarvan om dit twaalf weke te noem) is dit ek in 'n Franse plattelandse dorpie, Boussac. Ek los my ma en pa agter (Barbara en Emile Joubert), my twee jonger susters (Anya en Mia Joubert), my kêrel (Andrich Brand) en my drie worshonde (Friedl, Max en Knoffel).

Aan die anderkant van die water sal Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier my verwelkom. Louis is 'n kunstenaar, vol van talente. Vir hom is dit geen kwaal om sy hande vuil te maak met verf of met kryt of enige vorm van kleurstowwe om sy denke op "canvas" te sit nie.

Louis se werke is realisties, kleurvol en jy kan sien dis met passie en pure natuurlike talent gedoen. Daar is net een woord wat die fantastiese werke kan beskryf en dis "WOW". Dit is absoluut fantasties en beeldskoon.

Hardy is 'n kok. In sy disse proe jy die liefde van kosmaak en die passie daarby. By Hardy was daar geen sjefskole betrokke nie. Hy kook lekker kos uit sy hart en wanneer ek sê lekker kos, is dit beslis lekker kos. As 'n mens vir Hardy  in sy kombuis dophou terwyl hy kook is daar twee goed wat deur jou kop gaan: 1) hy is goed en 2.) dit lyk nou mos lekker.

Hy is die kalmste kok wat ek al gesien het, wat wonderlike geregte berei en maak sonder ’n sweetdruppel op sy voorkop. As jy honger is en jy kyk wat Hardy berei, straf jy net jouself. Sommer die eerste aand kom ek twee dinge agter van Louis en Hardy. Louis se kunswerke is pure talent en 'n mens kan dit net sien. Hardy se kos laat jou dink hy was by 'n sjefskool. Maar toe ek hom vra of hy na 'n sjefskool toe gegaan het, antwoord hy:"Ag nee wat".

Ek arriveer 27 April om 06h30 op die Charles de Gaulle-lughawe in Frankryk. Die minuut toe ek van die vliegtuig af is, is ek sommer dadelik deurmekaar. Ek vra elke Fransman om my net die regte pad te wys, want ek het nie die krag om verlore-verlore op die Franse lughawe te speel nie.

Wie al op daai lughawe was sal weet dit is groot. En vir my is dit boonop deurmekaar. Dis hoekom ek op 19 Julie, wanneer ek terugvlieg Suid-Afrika toe, al vroegmiddag op die lughawe gaan wees al is my vlug eers 23h30. 

Ek het my bagasie in my hand en ek weet dat ek vir Louis en Hardy by ESSPRESSEMENTO, op die lughawe, moet wag. Ek ontvang 'n vriendelike boodskap van Louis om my te verwelkom en te sê dat hulle reeds op pad is.

Ek staan en wag by ESSPRESSEMENTO en roer nie 'n voet nie. (Sien, die ding is my geliefde, Andrich Brand, het in Suid-Afrika 'n ding gehad oor die fliek Taken, wat in Parys afspeel. Nie dat ek myself daaraan steur nie, maar ek was die oggend oormoeg en alles het vir my deurmekaar gevoel.)

Ek staan toe heel rustig by die toonbank, kyk elke persoon van kop tot tone en ek staan en "convert" 'n Coke Light wat 3 euro is na rand: dit is so R27. Ek sien toe teen my wil van 'n Coke Light af, al was ek hoe dors.

Ek het seker so tien minute vir Louis en Hardy gewag. Dit was geen pyn nie, want ek MOES my lang bene ná elf ure sit strek. Ek staan nog rustig daar rond en "chill" en kyk wat om my aangaan. Toe kom Hardy blitsvinnig om die draai geloop/hardloop (ek weet nie mooi nie) en groet my.

In die kar is ons. Hardy wat bestuur, Louis wat voor langs hom sit en toe ek agter inklim sien ek 'n heel bekende gesig, Anet Pienaar. (Anet en haar man het hul eie huis langs Louis en Hardy s'n). Ons ry van die oggend tot so 12h00 toe deur die Franse platteland om by Boussac te kom.

Terwyl ons deur die platteland ry, verlang ek na my ouers. Want ek weet my pa is mal oor die Franse platteland en my ma wil dit nog bitter graag sien en beleef. Die landskap is beeldskoon.

Die blommetjies wat nou uitkom en die heuwels. Ons ry deur klein dorpies. Ek sien 'n huis wat uit klip gebou is met pers hortjies. Dit is ongelooflik mooi. Ons stop langs die pad vir koffie wat so lekker was dat ek nog vier van daai koppies kon gedrink het, maar ek het myself in toom gehou. Uiteindelik arriveer ons in Boussac.

Ons ry deur die hekke en op met die pad. Hardy vat 'n effense draai en ek sien die kasteel. Die bekende foto wat almal al gesien het, maar dié keer sien ek dit met my eie twee oë en dis fisies voor my. Ons stop langs die huis en pak alles af. Louis wys vir my waar ek slaap.

Oorkant die kasteel is Louis se ateljee. Bo in die loft is my kamer. Drie beddens, 'n stort, 'n toilet en 'n kas. Hoe eenvoudig kan 'n mens nie leef nie. Dis 'n wonderlike eienskap van die Franse. Hulle kan met 'n bietjie wegkom net solank hulle hul gesin elke aand om 'n tafel het, 'n goeie bord kos, 'n goeie glas wyn wat die dis komplementeer, en goeie geselskap.

Tot dusver is alles vir my nog nuut. Die eerste week vind ek my voete en hier was reeds 'n paar gaste van Stellenbosch. Ek het dadelik tuis gevoel, maar ek moes myself herinner dat ek in Frankryk sit.