Die smaak van uie, tamatie en kaas speel al heeldag in my mond rond. Die reuk van vuur hang onder my neus. Die gelag en geselskap om die vuur speel soos musiek in my ore.

Die goeie ou Kaapse gewoontes en tradisies kruip deesdae al dieper in my hart, al sit ek in ’n paradys in die Franse vreemde. Ek kry 'n knop in my keel as ek weet die Stormers speel en ek kry 'n lekker gevoel wanneer ek hoor die Blou Bulle het hul wedstryd verloor. Hulle is nie meer die Blou Bulle nie, lyk vir my deesdae meer na die Rooi Bulle. Ek is trots om te sê ek kom van die Kaap af, ek bly 'n Stormers-girl. Frankryk verander my dalk in sekere opsigte, maar wat rugby-voorkeure betref, nooit!

Hier in Boussac is dit baie stil. Die gewone geraas van my gesin en drie worshonde en die gejaag van karre is vervang met asembenemende stilte, afgewissel deur die Franse voëltjies wat hul eie musiek maak. Dit skep 'n waardige gevoel in jou hart wanneer jy deur die tuin stap. Dit skep 'n gevoel van vrede en veiligheid. 

"Wanneer die voëls sing, weet jy dinge is reg. Maar wanneer die voëls stil is, weet jy daar is moeilikheid," sê Louis met 'n glimlag op sy gesig. 

Die eerste twee weke was dit maar moeilik om dít waaraan jy gewoond was, agter te laat. Een van daardie gewoontes was om ’n hele Saterdag onder op die bank Playstation te speel of te lê en flieks kyk. Ek het pleks daarvan 'n boek gelees (wat ongelukkig bitter min in die Kaap gebeur) en op 'n fiets geklim en deur “my” nuwe dorpie gaan ry. 

Die Franse is nie 'n lui nasie nie, my pa noem dit eerder rustig. Die mense hier ontwaak eers van nege- uur se kant af en gaan omtrent halftien of tienuur werk toe. Van twaalf tot twee is daar 'n onderbreking vir die allerbelangrike ritueel van die noenmaal, waarna daar weer gewerk word tot vyfuur, sesuur.

Die plaaslike tannie wat hier vir Louis en Hardy werk, Marteni, loop altyd so vyf voor twaalf om net betyds te wees vir haar middagete by die huis. Voor sy vir middagete loop, maak sy altyd seker dat ek ook in haar afwesigheid iets te ete sal kry, want natuurlik is kos een van dié mense se passies! Met ’n gemoedelike "bon appetit, Nina", sal sy vir haar ete vertrek. 

Dis wat my die meeste opval: Dat die Franse hul werk, hul lewenstyl en hul sosiale omstandighede in hul passie omskep. Hulle sal nooit hul kulturele waardes verruil nie. As hulle op so 'n manier grootgemaak is, dan bly dit so. En hulle is trots daarop.

Praat van trots, ek moet vertel van die twee konings wat by La Creuzette rondloop. Nee, ek praat nie van Louis en Hardy nie, maar wel van hul twee honde. Borzoi's. Pragtige Russiese wolfhonde. Lang bene en 'n lang snoet, lyk vir my amper soos 'n worshond wat te veel groeihormone ingekry het.

Die twee statige diere is vir Louis en Hardy nes hul eie twee kinders. Hulle kan party dae stout wees, maar vir die res van die tyd is die lewe in Boussac vir hulle net te lekker. Op 'n dag stap ek na die waskamer wat onder die huis geleë is en tref op pad so 'n gemaklike kelder aan. Dis nou die honde se slaapkamer. Heel rustig lê die tweetjies daar - die Britte kan nou 'n bom laat afgaan, niks in die wêreld pla hulle nie.

Die beste van alles is dat die twee nie net hul eie kamer het nie, maar elkeen het sy eie enkelbed! (Sien foto)

As my drie worshonde, Friedl, Max en Knoffel, dit weet, sal elkeen vir 'n dubbelbed vra en ons straf.

Dis nie net die honde wat in 'n fantastiese omgewing woon nie, maar die gaste wat die belewenis al ervaar het sal weet die plek is "magical".