Frankryk, Boussac, sal altyd 'n spesiale plek in my hart hê. Ek het die wonderlikste geleentheid van my lewe met twee hande en voete aangepak en gegryp. 

Wat my hande gedoen het terwyl ek hier is, wys die resultate. Hoe baie trappe ek moes geklim het om tot heel bo op die boonste verdieping te gekom het, voel ek in my voete. Wat ek as 19-jarige jong volwassene in my kop en hart geleer het, is soos hulle altyd sê: Waarvan die hart vol is, rol uit by die mond. Wyse woorde en lewenslesse is in 'n jong kop geplaas. My familielede sal die tweedehandse inligting ontvang en ek sal vir hulle laat voel asof hulle ook hier was.

Maar my trappe om te klim in die lewe is nog nie verby nie. Dis nou maar eers die begin. Baie mense dink seker wat het ek hier in Boussac kom doen? Almal weet van die klein Suid-Afrikaanse bevolking wat hul vakansies hier deurbring. Almal weet van Louis en Hardy se suksesvolle besigheid wat hulle hier aan die gang het, maar wat het ek hier kom doen? Is ek net hiernatoe gestuur omdat my ma die kosredakteur van SARIE KOS is en dat my pa ook net toevallig onder die media se oog is? Soos wat baie mense dink. Die geleentheid het nie net in my skoot geval nie. Ek het vir albei my ouers bewys dat ek die geleentheid verdien en my pa het die gaping vir my geskep en die keuse gegee. Ek het geweet dit was die regte ding om te doen, eerder as om op Stellenbosch te gaan sit en in die tweede kwartaal agter te kom dit is nie vir my nie. Baie dinge het toe in my lewe gebeur. Tydens my matriekeksamen en tot nou toe. Wat my net 'n sterker mens gemaak het. 'n Mens wat lus is vir die lewe.

Wanneer jy saam met Louis om 'n tafel gesit en gesels het, sal jy daar uitstap en dink: Wow. Ons praat nie net oor politiek, die weer en finansies nie, maar oor dinge en elemente wat in die lewe sin maak. Jy is nooit te jonk of te oud om te leer nie. Daar is so baie feite en raad wat Louis oor my laat spoel het, soos soutwater wat 'n oop wond moet genees. Ek, aan die ander kant, het hom voorgestel aan Die Heuwels Fantasties en Jack Parow. 

Die omgewing van Boussac is skoon. Die lug is skoon en die strate is skoon. Om hier te "recycle", is vir die mense baie belangrik. Wat hulle aan die natuur en die mensdom kan teruggee. Om die plek vir almal en die volgende generasies geriefliker te maak. Die vorm van "recycle" sien ek as 'n metafoor van die lewe. Wat die mense gebruik, gee ons terug en gebruik dit weer. Die vier elemente van die aarde maak ook nou vir my meer sin. Water: die simbool van ontspanne, skoon en nuwe lewe. Vuur: die struikelblokke waardeur elke persoon in sy of haar lewe gaan. Lug: nuwe lewe wat ons elke dag in- en uitasem. Aarde: die kern waar ons gevestig is. 

Groot voorbereiding word gedoen in die week vir die volgende groep wat gaan kom: "Creative writing". Dit gaan vir my 'n groot eer wees om Riana Scheepers te ontmoet. 'n Klomp kreatiewe denke gaan vanaf 4 Junie tot 11 Junie hier deurvloei. Daar gaan aande wees waar ons almal maskers gaan dra vir een aand, waar elkeen iemand anders se rol kan speel, maar sodra daai masker afgehaal word, is elke persoon weer terug na sy of haar self. Dit beloof pret. Louis maak altyd 'n grap en sê, hy wil net weet hoeveel tyd is daar oor voordat hulle kom en of daar nog tyd is om sy hare in krullers te draai! Ek maak net altyd seker dat ek beleefd lyk vir die gaste, wat vir my geen pyn is nie. Ek sien uit na wat voorlê. 

Tot dan.