Eerste aan die beurt is 'n klompie lekkerlees-boeke in Afrikaans en Engels. Dan is daar 'n klompie waaruit jy iets kan leer - oor aantrek, sakemense, ons geskiedenis en rekords. Spesiaal vir jonger lesers so van die ouderdom van nege jaar af is daar ook 'n klompie leesboeke.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Spoor, Deon Meyer (Human & Rousseau, R215)
As jy nog nie 'n leser van die skrywer se boeke is nie, dan moet jy nou een word! Hierdie boek is 'n bonus, drie verhale in 'n lekker dik boek net reg om jou die spoor te laat vat. In die eerste verhaal ontmoet ons vir Milla Strachan, huisvrou wat haar ontroue eggenoot onder sy alie skop en werk gaan soek. Sy word aangestel deur een van die staat se intelligensie-afdelings waar sy verslae moet skryf. Deur omstandighede raak sy betrokke by 'n spoor van misdaad en geweld wat sy nie geweet het is moontlik nie. In die tweede verhaal is Lemmer terug en sy spoor loop op dié van wildsmokkelaars en 'n paar gure karakters - waarmee hy uit die aard van die saak sal moet afreken. Hou jou hart vas - in die derde verhaal is Mat Joubert terug as 'n private ondersoeker! Ja, jy het reg gehoor, Lemmer en Mat Joubert in dieselfde boek. Meer oor Mat en Lemmer gaan ek nie sê nie. Gaan lees maar self waar die spoor hierdie klomp karakters vat. 'n Meesterlike verhaal van intrige en vermaak.

Lekker lees in Engels en in Afrikaans

Drie Reisigers Drie Reisigers, Johan Bakkes, Dana Snyman en Johan Badenhorst (saamgestel en vervaardig deur Johan Badenhorst, R101)
Nou ander aand loop ek vas in Johan Badenhorst en ons gesels toe so bietjie oor hierdie audioboek (dubbel-CD) wat hy saamgestel het. Hy het op die gedagte gekom om 'n audioboek saam te stel omdat daar nog nie so iets in Afrikaans beskikbaar is nie. Hy betrek sy twee groot makkers, Johan Bakkes en Dana Snyman om saam met hom hul eie reisverhale te lees en op te neem. Bakkes skryf dikwels oor sy reise en so ook Dana Snyman. Badenhorst self is bekend vir sy Voetspore- dokumentêre avontuurreeks. Al drie vertel uit hul eie ervarings, sommige meer ernstig en ander meer komies. Perfek vir die lang pad! Bestel by Select Music Distributors by 011 792 0145 of koop by toonaangewende boekwinkels.
Brouhaha Brouhaha, Eben Venter (Tafelberg, R195)
Venter is 'n ou bekende by lesers van die BY-bylaag in Die Burger en Beeld. Brouhaha is 'n keur uit sy rubrieke wat in die bylaag verskyn het. Die eerste gedeelte van die boek bestaan uit die Brouhaha-rubrieke waar hy oor alles en nog wat skryf. Die tweede deel van die boek is sy Stoney-rubrieke waar Stoney sy lewenservaringe deel. Die laaste gedeelte bestaan uit resepte en dié is net so uiteenlopend soos die onderwerpe van sy rubrieke. Hier kry jy van lekker trooskos tot heerlike Italiaanse geregte tot 'n geurige groenlensie-dahl.
Pérsomi Pérsomi, Irma Joubert (Tafelberg, R190)
"Pérsomi weet presies wie sy is: sy is 'n bywonerskind, die vierde kind - die middelste kind- van Lewies en Jemima Pieterse op mister Fourie se plaas." Sy dink sy weet wie sy is, maar wie is dié kind nou eintlik? Die boek vertel haar verhaal en dié van haar familie en die mense van die plaas, die Fouries. Sal sy haar nederige herkoms te bowe kom en sukses en geluk behaal? Die verhaal speel af in die Bosveld in die 1940's en die politieke verwikkelinge in daardie tyd en is 'n boeiende verhaal.
&aposn Dogter se Droom  
‘n Dogter se droom, Francine Rivers (Christelike Uitgewersmaatskappy, R155)

Dis die laaste boek in die epiese sage van die vroue wie se verhaal begin het in "'n Ma se Hoop". In hierdie boek word Carolyn Arundel se verhaal vertel, van hoe sy moet grootword met 'n ma wat siek is met tuberkulose en in kwarantyn leef. Sy vorm 'n band met haar ouma Marta, maar dit raak ook ingewikkeld as Hildie op die toneel verskyn. Op universiteit gebeur goed wat haar lewe in 'n heel ander rigting stuur en wanneer sy uiteindelik teruggaan huis toe, want dis die enigste mense wat haar kan help om weer haar lewe opnuut aan die gang te kry, is dit met haar dogter, May Flower Dawn. 'n Boeiende verhaal oor die bande tussen 'n klomp vroue in 'n familie wat oor dekades strek.
One Day One Day, David Nicholls (Hodder & Stoughton, R141,95)
Die boek is baie interessant geskryf. Die verhaal begin op 15 Julie 1988 en eindig op 15 Julie 2007 en vertel van die ongewone vriendskap tussen Emma Morley en Dexter Mayhew. Maar jy leer hulle en alles wat met hulle gebeur net ken uit die grepe wat elke jaar op 15 Julie beskryf word. Hulle verhaal begin waar hulle studente is en na hulle gradeplegtigheid 'n one night stand het. Elkeen gaan dan aan met hul eie lewe, maar bly in ongereelde kontak met mekaar. Jy leer wat van hulle drome en ambisies word - hoe Dexter maklik sukses behaal en hoe Emma baie hard moet werk om uiteindelik haar drome te verwesentlik. Dis 'n verhaal oor vriendskap en die lewe - jy lag baie, maar jou hart verteder ook baie oor die wel en wee van die twee hoofkarakters. Die boek was die wenner van Exclusive Books se Boekeprys vir 2010.
Wolf Hall  
Wolf Hall, Hilary Mantel (Fourth Estate, R120)

Die geskiedenis van die Tudors bly fassinerend, seker oor al die brutaliteit en ongenaakbaarheid van hoe almal vir posisie baklei het. Dit is 'n klomp knoeiers van formaat, of dit in die politiek of in die liefde is. Wat die verhaal anders maak, is dat Henry VIII se verhaal en dié van sy hof uit die oogpunt van Thomas Cromwell vertel word. Mens moet aan die begin kop hou om by te hou met al die verskillende karakters en hulle intriges, maar Mantel bied die geskiedenis op so 'n wyse aan dat 'n spul dooie karakters in die geskiedenis mense van vlees en bloed word met wie jy kan identifiseer. 'n Dik boek wat jou 'n tyd sal besig hou. Die boek was die 2009 Booker-pryswenner en is ook gelys op Exclusive Books se Boekeprys vir vanjaar.
A Serving of Scandal  A Serving of Scandal, Prue Leith (Quercus, R194,95)
Oliver Staple is 'n politikus, boonop 'n getroude een met kinders. Kate McKinnon is 'n sjef en die ma van 'n vyfjarige seuntjie. Sy het haar eie spyseniersbesigheid en word gevra om vir Oliver Staple te kook. Soos die duiwel dit wil hê, ontmoet die twee en 'n vriendskap ontwikkel tussen hulle. Alles baie onskuldig. Of is dit? Natuurlik kom die poniepers te hore van die vriendskap, die twee se verhouding word in diepte bespreek en hulle word gejag deur die koerant- en TV-mense. 'n Hele spul mense se lewens word in die proses vernietig, maar dit kan mos nooit in die pad van 'n sappige storie staan nie! Leith het 'n heerlike skryfstyl en haar karakters is boeiend.
Let the Dead Lie Let the dead lie, Malla Nunn (Picador, R195)
Voormalige speursersant Emmanuel Cooper is 'n hoogs onwaarskynlike held. Hy is so effe van ‘n nerd en 'n eenkant mens. Maar hy is 'n uitstekende speurder. Hy het opgeduik in Nunn se eerste boek, A Beautiful Place to Die. Nou is hy 'n uitgewekene uit die polisie, maar darem nie heeltemal sonder kontakte nie. Hy kom per ongelukkig af op die liggaam van 'n jong seun, Jolly Marks, wat vermoor is by die Durbanse hawe. Hy probeer teen sy gewete in die saak in die hande van die gereg laat, maar hy word op sinistêre wyse by 'n komplot betrek wat hom verbind met die dood van Jolly. Hy word by nog moorde betrek en hy moet al sy kontakte gebruik om self die moorde te probeer oplos om sy onskuld te bewys. 'n Lekker spanningsvolle whodunnit.
Willem Poprok VIR JONGER LESERS

Willem Poprok, Derick van der Walt (Tafelberg, R120)
'n Heerlike storie oor 'n gewone gesin wat gewone dinge doen. Tog is dit 'n vermaaklike storie en Willem, die hoofkarakter, vertel sy gesin se storie boeiend. Hy is een van drie boeties en dan is daar nog 'n babasussie ook. Hulle pa is 'n slagter, hulle ma 'n huisvrou. Maar hulle pa is nie sommer so 'n slagter nie, vir hulle is hy die beste slagter in Bloubul-wêreld! Natuurlik is hy ook een van die Bulle se grootste aanhangers en is sy diepste wens dat sy seuns moet rugby speel. Maar soos gewoonlik werk goed nie altyd uit soos 'n pa dit wil hê nie, veral nie met seuns soos syne nie. O ja, vind maar self uit waarom Willem deur sy broer Franna Willem Poprok genoem word!

Kondensmelk Kondensmelk, Christien Neser (Lapa, R80)
Wat 'n heerlike vakansie moes wees, lê soos 'n berg voor Elle. Sy moet saam met haar ouers in Botswana, in die "wildernis" soos sy sê, gaan kamp. In 'n tent. Met ablusieblokke. En geen selfoonontvangs nie. En ook nie haar twee beste vriendinne nie. En nog minder winkels en partytjies en klubs. Maar sy het darem geselskap. Haar niggies en die twee Mosterts - die seuns van familievriende. Om alles te kroon is hulle volgens Elle chauvinisties, beterweterig en sommer net koshuisbrakke. Hoe gaan sy die vakansie oorleef? Eintlik baie goed en sy gaan dit uiteindelik geniet. Elle se verhaal vertel van haar verskillende emosies en hoe sy haar ware self eintlik in die bosse van Botswana ontdek. Lekker vakansie-leesstof.
Flipom Flipom, François Bloemhof (Lapa, R70)
Bloemhof se boeke is altyd anders, met 'n vreemdheid wat jong lesers se aandag trek. Die boek het twee voorblaaie, twee stories - die een 'n sci-fi en die ander een 'n spanningsverhaal. Jy kan aan enigeen van die kante begin lees, want die stories begin dieselfde, met dieselfde karakters. Maar dan loop elkeen sy eie rigting en dinge verander, die stories gaan uitmekaar, kom bymekaar en loop weer uitmekaar. Daar is sketse ook in die boek, sodat die stories jou aandag nog meer trek en hou.
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, Marita van der Vyver (Tafelberg, R89,95)
Dié heruitgawe van die storie is nou weer van voor af gewild, omdat die film met Anneke Weidemann en Anna-Mart van der Merwe as dogter en ma, vroeër vanjaar gedraai het. Hanna se familie moet saam gaan vakansie hou in die berge en in 'n ou huis daar bly, omdat haar eksentrieke ma so besluit het. Natuurlik gebeur daar 'n klomp onverwagse goed op die vakansie en is die gesin gestrand in die berg. Dan moet die vreemde spul, 'n gay biologiese pa, 'n akteur-stiefpa, twee stiefbroers en 'n klein half-boetie, oor die weg kom en die beste van die situasie maak. Al die elemente waarmee Marita van der Vyver 'n boeiende verhaal vertel.
Ikone, Skurke & scoops IETSIE NUUTS

Ikone, Skurke en Scoops, die beste fotostories 1970 - 2010, saamgestel deur Herman Jansen (Tafelberg, R250)
Wat 'n interessante boek wat terugkyk op ons eie geskiedenis soos dit uitgebeeld is die afgelope 40 jaar in Rapport. Die koerant vier sy veertigste verjaardag vanjaar. Wie onthou nog die volgende name: Rosenkowitz-sesling, Sandra Laing, Sol en sy Dol, Rabbitt, Jimmy Abbott, Adriaan Niewoudt, Piet Promises . . . So is daar nog 'n hele lysie van mense wat in die koerant gepryk het. Party omdat hulle ikone was. Ander omdat hulle skurke was. Nog ander omdat hulle vir 'n lekker scoop gesorg het. Nie net is die foto's fassinerend nie, maar daar is baie interessante vertellings deur van die fotograwe wat mens 'n kykie gee van wat agter die skerms gebeur het by die neem van sekere van die foto's. Dis 'n boek vir kyk, weer kyk, lees en weer lees. Daar is ook twee CD's met die afgelope veertig jaar se musiektreffers ingesluit in die boek. Lekker!

South Africa's Greatest Entrepeneurs, saamgestel deur Moky Makura (MME Media, R290)
Moky Makura het die projek aangepak saam met die Gordon Institute of Business Science. Hierdie boek volg op haar vorige boek, Africa's Greatest Entrepeneurs. In hierdie boek word 22 van ons land se beste entrepeneurs saam in een boek beskryf. Van die name wat uitstaan, is Koos Bekker, Alan Knott-Craig, Raymond Ackerman, Pam Golding, Carrol Boyes, Anant Singh en Whitey Basson. As jy nog altyd wou weet waar en hoe elkeen sy loopbaan begin het en waar hulle inspirasie vandaan gekom het, is hierdie boek vir jou. Elkeen se loopbaan-geskiedenis en ander interessante fasette van hul lewens word beskryf deur navorsing en onderhoude wat met elkeen gevoer is. Elkeen se inskrywing word afgesluit met daardie persoon se sleutel-lesse. Dis verseker nie vaal en vervelige leesstof nie. Ek kan die besondere boek aanbeveel vir enigeen, nie net mense wat in besigheid belangstel nie.
Nina Garcia's What to Wear for Every Occasion Look Book, Nina Garcia (Hyperion, R216)
Watter vrou het nie al voor haar hangkas gestaan en gewonder wat moet sy aantrek vir ‘n okkasie nie? Almal van ons het die dilemma al telkemale beleef. Want wat trek jy op jou eerste afspraak met ‘n potensiële kêrel aan, of na jou niggie se troue wat by een of ander baie stylvolle plek gehou word. So is daar geleentheid op geleentheid wat ‘n uitrusting vereis. Nina Garcia gee in hierdie boek riglyne van watter uitrustings gepas is juis vir ‘n verskeidenheid van geleenthede. Dit maak mens se lewe net bietjie makliker maak. Sy verduidelik die aanvaarde reëls en sê dan ook hoe jy dit kan breek en nog steeds stylvol wees. Regdeur is daar ook inspirerende aanhalings van styl- en mode-ikone. Wat die boek nog waardevoller maak, is die oulike sketse deur Ruben Toledo.
Change your Image Change your Life, Chata Romano (Chata Romano P/L, R350)
‘n Praktiese gids met volkleurfoto's wat die toepassing van Chata se stylwenke baie makliker maak. Daar is baie voorbeelde van hoe mense vooraf gelyk het en hoe hulle lyk na hulle onder haar hande deur is. Alles word bespreek, van velkleur, haarkleur, grimeerkleure, haarstyle vir elke gesigvorm tot waarna jy moet kyk wanneer jy jou klerestyl beplan. Sy bespreek ook die verskillende figuurtipes en gee voorstelle van watter style elke figuur die beste pas. Chata se doel is om elke vrou aan te moedig om haar eie styl te ontwikkel wat haar laat uitstaan in ‘n groep. ‘n Baie nuttige publikasie.
Guiness World Records 2011, deur Guiness World Records, (R250)
Elke jaar is hierdie boek ‘n topverkoper en met reg. Dis gepak met inligting en foto's van al die rekords wat die 2011 Guiness-uitgawe gehaal het. Die rekords is so uiteenlopend. Daar is die kleinste en die grootste, die kortste en die langste, die vinnigste en die stadigste, die jongste en die oudste en nog ‘n hele klomp ander. En die onderwerpe strek van die buitenste ruimte, die aarde, riviere en mere, weerstoestande en klimaat, rampe, die diereryk tot allerhande vreemde dinge wat mense gedoen het om rekords op te stel of te verbeter. Hier is die vrou met die vinnigste SMS-vingers in die wêreld: Sonja Kristiansen van Noorweë het ‘n boodskap van 160 karakters in 37,28 sekondes geskryf op 14 November 2009. En een vir Suid-Afrika: 12 511 vuvuzelas is saam deur die toeskouers geblaas by die Vodacom Challenge sokkerwedstryd in Nelson Mandela Bay-stadion op 23 Julie 2009. Nou ja, miskien nie die rekord wat ons die graagste sou wou hou nie, maar dit is indrukwekkend!