En dit net om ’n steekse perd te gaan vang en opsaal - sodat my dogter hom kan ry.

Toe Mia vanjaar soos vele ander pre-adolessente meisietjies deur ’n skielike perdepassie oorweldig word, het ek soos vele ander ma’s geswig voor die gesoebat om perdrylesse. Dalk nie ’n slegte idee nie, het ek gedog, want die lesse sou elke Woensdagmiddag twee uur in beslag neem. Terwyl my kinders se ander buitemuurse bedrywighede meestal net ’n uur op ’n slag duur. Dit gee my nooit genoeg tyd om hulle af te laai, terug huis toe te ry en weer te gaan oplaai nie, want die bedrywighede is ongelukkig altyd oor ’n wye geografiese gebied versprei.

Ek hét mos al verduidelik dat Franse skole geen verantwoordelikheid aanvaar vir sport of kultuur buite skoolure nie. Dis die ma’s en pa’s (gewoonlik die ma’s) wat die kinders moet karwei. En net ingeval iemand dalk dink my kinders is oorgestimuleerde bedorwe brokke, laat ek dadelik byvoeg dat ek elke kind se amptelike aktiwiteite nog altyd tot twee per jaar beperk het - een sportief en een kultureel, dis al. In die ewige hoop dat hulle iets sal vind wat ’n blywende passie sal word.

Tot dusver beskaam die hoop. Teen hierdie tyd het hulle ’n indrukwekkende repertoire opgebou, van sokker tot saxofoon, van tennis tot teater. Hulle weet ’n bietjie van vreeslik baie dinge, maar nie genoeg van enigiets nie.

Soos hulle ma, dink ek soms. Dis vermoedelik waarom ek ’n joernalis geword het.

En selfs twee aktiwiteite per kind voel baie keer vir my soos te veel ysters in die vuur - veral as elke vuur op ’n verskillende dorp gestook moet word. Ek moet bieg ek droom gereeld oor hoe kalm my lewe sou gewees het as my kinders elke middag ná skool op die rusbank kon lê en TV kyk. Of aanmekaar gewelddadige rekenaarspeletjies gespeel het. Waarom nie? Daar ís ma’s wat dit regkry om kinders só groot te maak, sonder enige gewetenswroeging.

Maar ek kry dit net nie reg om een van daardie ma’s te word nie.

Oor die jare heen het ek dus verskillende oorlewingstaktieke beproef. Terwyl Daniel in Bollène basketbal gespeel het, het ek gereeld ’n paar lengtes in die openbare swembad net langs die basketbalsaal geswem. (Daardie jaar het ek noodgedwonge nogal fiks geword.) Terwyl hy kickboxing in Valreas gedoen het, het ek dikwels in ’n kroeg gaan sit en drink. Darem ’n karaktervolle kroeg met ’n pragtige Art Nouveau-plafon waaroor ek in ’n toeriste-gidsboek gelees het. (Daardie jaar het ek noodgedwonge nogal baie van wyn geleer.)

En tog is daar soms niks in die nabyheid nie, nie eens ’n karaktervolle kroeg nie, dan moet jy noodgedwonge by jou kind bly. Die enigste troos is dat jy in die proses allerhande vaardighede aanleer waarvoor daar nie geld of geleentheid was toe jy self ’n kind was nie. Ná Mia se jaar van vioollesse kon ek die eerste keer in my lewe ’n eenvoudige melodie op ’n viool speel. Net so goed (of kom ons wees nou maar eerlik, net so sleg) soos my dogter.

En nou, met haar perdepassie, moet ek weekliks saam met haar ’n perd opsaal, afsaal, die dier was en borsel en selfs sy hoewe skoon skraap op dae wanneer die hele perdeplaas in ’n modderbad verander het. ’n Mens is nooit te oud om te leer nie, prewel ek my desperate mantra terwyl ek die ergste modder en mis van my tekkies probeer afkrap. En wat perde betref, is ek beslis op wat die Engelse a learning curve sou noem.

Dalk is dít die eintlike rede waarom ek my spruite aanmoedig om ’n groot verskeidenheid bedrywighede te beproef. Nie omdat ek so ’n danig voorbeeldige ma is nie. Allermins.

Dalk net omdat ek diep in my hart glo dis nooit rêrig te laat om ’n gelukkige kindertyd te hê nie?