Zelda O’Brien van Kaapstad se waagmoed het haar verlede jaar die titel van SARIE-voorbladgesigwenner in die kategorie 30+ besorg. Dit en haar deursettingsvermoë het ook gehelp toe sy besluit het om haar eie baas te word.

SARIE-voorblad

“Voorverlede jaar het ’n vriendin ’n fotografiekursus gedoen en my gevra om model te speel. Ek het in April 40 geword en as jy dié mylpaal bereik, vlieg alle skaamte en omgee oor wat mense dink by die venster uit! Ek het gedink: Hoekom nie my ‘modelfoto’s’ inskryf vir SARIE nie? Dis die kans van ’n leeftyd om dalk op die voorblad te verskyn. Ek was stomgeslaan toe ek wen, maar ek wéét nou: Wie nie waag nie, wen nie.”

’n Nederige begin

“Ek het op die Kaapse Vlakte grootgeword. Ek onthou goed hoe ek as kind gevoel het wanneer ons Kampsbaai-strand toe gegaan het vir die dag: As ander mense so grand kan leef, hoekom dan nie ek nie? Tóé al het ek besluit ek wil ’n beter toekoms hê. Ek het vroeg besef dat dit harde werk sou verg en dat ek geleenthede met albei hande moet aangryp.

“My korporatiewe loopbaan het klein begin: as deeltydse televerkoper by Ou Mutual het ek maar R600 per maand verdien. In die 16 jaar daar het die bestuurders gou agtergekom ek’s bereid om baie hard te werk. Hierdie meisie van die Kaapse Vlakte wat kleintyd elke dag met die trein van Mitchells Plain na Parow gery en roomys verkoop het. Selfs pamflette by verkeersligte uitgedeel het.

“My harde werk het vrugte afgewerp. ’n Hoogtepunt was toe ek as die persoonlike assistent van Ou Mutual se hoof-aktuaris aangestel is. Ek het nooit die geleentheid gehad om ’n sekretariële kursus te doen nie. Maar Ben Kodisang het besluit ek’s goed genoeg. Hy het my selfvertroue laat groei. Baie mense dink PA’s is glorified tea ladies, maar nie Ben nie. Hy het in my geglo totdat ek in myself geglo het.”

Vandag my eie baas

“Ek is in 2011 by Ou Mutual weg om ’n heeltydse haar-engrimeerkursus te voltooi. Ek was in ’n stadium enkelma vir my oudste dogter, Jamie (15). As jy vrou-alleen ’n dak oor ’n kind se kop moet hou en kos op die tafel moet sit, verg dit baie selfvertroue om afskeid te neem van so ’n groot maatskappy. Maar toe ek besluit het om weg te gaan, het ek gelukkig die wonderlikste man op aarde gehad. Ek en David is volgende maand al sewe jaar getroud.

“Ek het nog altyd ’n passie vir mooimaakgoed gehad. Niks gee my ’n groter thrill as om lipstiffie te koop nie! Ek het my planne vir ’n grimeeronderneming met David gedeel en ons het saam besluit dat ek die kans moet waag. Ek het besef ek kan nie ’n nege-tot-vyf-werk doen én 100% van myself vir my kinders gee nie. Joël is 5 en Jade is 3 jaar oud.

“As grimeerkunstenaar besef ek grimering laat jou meer gemaklik voel met jouself. Dit wys jy doen moeite. Wanneer ek vroue mooimaak, sien ek hoe hul selfvertroue onmiddellik groei. Hulle lyk letterlik langer! Boonop voel dit nie soos werk nie, want ek’s mal oor wat ek doen.”

Zelda O'Brien Zelda O'Brien

5 Dinge wat Zelda geleer het

Deernis met jou medemens is nie ’n opsie nie, dis ’n moet. Elkeen wat jy teëkom, het iets waarmee hy of sy wroeg. So hoekom lelik wees met daardie persoon?

Dryfkrag en ’n positiewe ingesteldheid is so kosbaar soos goud – dit motiveer jou.

Moenie dat jou omstandighede dikteer wat in jou toekoms vir jou wag nie.

Skep jou eie geleenthede, moenie hande gevou staan en wag daarvoor nie. Wanneer jy ’n geleentheid kry, pak dit met oorgawe aan.

Jou voorkoms is beslis nie die belangrikste ding in die lewe nie. Maar dis ongelooflik hoe vroue se selfvertroue groei as hulle net so ’n bietjie moeite doen. Lipstiffie en maskara maak die wêreld se verskil!

*Hierdie storie kom uit die Januarie 2014-uitgawe van SARIE

Nóg inspirasie