Met die intrekkery het ek weer geleer hoe ’n vrou aanmekaargesit is - nie dat ’n man ooit hierdie vak in die skool van die lewe regtig onder die knie kry nie, jy bly die ewige student. Van die uitpakslag af het ek gesien hier kom moeilikheid. Hoe moes ek nie keer nie, of elke hemp, of rak, of boek wat ek al deur die jare heen met my saambring, word kandidate vir die welsyn en armsorg.

Die misterie wat my net weer diep laat wonder het, was die vreemde ding wat in ’n vrou se kop tussen die inpak en die uitpak gebeur. Reeds met die inpakkery het ek gedink my vrou se deernis met hulle wat nie het nie, het haar al meer soos ’n tweede Moeder Teresa laat optree. Die helfte van wat ek gedink het saam moet trek, het in aanmerking gekom vir die ashoop óf ’n dankbare huishulp. En toe, met  uitpakslag, slaan die liefdadigheidskoors weer toe met ’n felheid wat my laat wonder het of my motor nie ook in die slag gaan bly nie.

Daarna begin die mooimaak. Gordynlappe, beddegoed en watter skildery hang waar. Ek sien hoe sy in ’n wêreld beweeg waarvan ek nie veel weet nie. Nagte, tot twee-uur in die oggend, hoor ek die naaimasjien en dink hoe ’n goeie belegging die kopie jare gelede was. As ek nog boonop vir binneversierders moes betaal, was die huis sweerlik klaar weer in die mark.

En so, week ná week, begin dinge rigting kry. Kleure waaroor ek gedink het ek nagmerries gaan kry, begin sin maak in die hande van my kunstige beminde. Ek sien ’n nuwe vonk in haar oë, en voer gedweë opdragte uit. Skuif hierdie, boor daardie, skuif hierdie weer terug. Nee, dit werk ook nie, skuif liewer soontoe.

Alles is nou min of meer op sy plek. Ek leef in die mooiste huis in die hele wêreld. Nie omdat die beste en duurste in ons huis is nie - geheel en al nie - maar omdat daar vrede is.

Ek dink ek leer dat ’n vrou moet voel sy het ’n plek waar sy dinge mooi kan maak.

Waar sy die deure kan toemaak en vir ’n paar veilige ure kan weet die donker is buite. Waar sy kan bou, nie met stene en sement nie, maar met die sagte dinge van ’n ma en ’n minnares.

En dan wonder ek of ons altyd besef dat ons huise die heiligste van tempels is.

Die kosbaarste van alles wat ons het. En ek wonder wat gaan word van ’n wêreld waar jy vir ’n paar rand ’n skeikontrak by die skryfbehoeftewinkel kan gaan koop.

En ek wens dat jy met alles wat in jou is, jou huis sal mooi hou en bewaak.