Dag 4 - Vernazza

Traag sleep ons weer ons tasse oor die keistene van Roma; ons het regtig verlief geraak op dié antieke stad. Roma is 'n geliefde wat ons graag weer sal wil besoek... By die stasie wag ons geduldig vir 15 minute dat die TrenItalia-kaartjiebeampte terugkeer vanaf die bistro; caffé is immers verhewe bo treinskedules!

Ons volgende reisbestemming is Vernazza. Dit is een van cinque (vyf) kusdorpies in die Cinque Terre. Die vyf uur lange treinrit is 'n welkome kuiergeleentheid vir ons, siende dat ek in die Kaap woon en Janine en haar gesin in Johannesburg. Met geesdrif skets Janine hul nuwe huis se grondplan in my reisgids; sy moes juis baddens en teëls uitkies op die vooraand van ons vakansie. Tydens ons treno-piekniek van formaggio (kaas), pane (brood) en salame wei Janine op my aandrang, breedvoerig uit oor haar man se beroep, haar eie BEE-onderneming en hul kinders se aktiwiteite en troeteldiere. Kanker blyk baie laag op my raakvat-vriendin se ranglys te wees. Sy het 'n skerp intelek en besigheidstemperament, maar is ook groothartig, geduldig en 'n getroue vriendin.

Ons klim op 'n ander trein oor in La Spezia en tonnel dan deur die berghange van die Cinque Terre voordat Vernazza sprokiesmooi opdoem. Dit is omtrent kammaland dié met 'n panoramiese kuslyn besaai met veelkleurige stapels huise wat aan die berghange kleef. Ons hotel se poorte wag 'n volle vyfhonderd kliptrappe verder op die staproete na die naburige Corniglia. Ons pak die wandelroete met durf en daad en ons tasse aan, en menige dapper stapper staar ons in ongeloof aan soos ons stadig teen die steilte opkruie.

Ons humeure vat vlam saam met die middaghitte - die geskilpunt is dat ek myself as supervrou wil voordoen en Janine se tas wil dra, terwyl sy op haar beurt nie soos 'n onbeholpe pasiënt behandel wil word nie. Ons koel genadiglik vinnig af met birra (bier) as lafenis - daar is sowaar 'n osteria en 'n bar geleë op die staproete. Ná die verposing klim ons die laaste paar stelle kliptrappe na ons albergo. Ons word gul verwelkom met koue yswater en warm gasvryheid. Die uitsig van bo af plus ons ruim kamer vergoed vir die groot trek.

Later suiker ons af dorp toe en geniet weer eens 'n helder oranje spritz - dié keer langs die see. Pesto-pasta is my gekose dis vir aandete, Janine bestel pasta met mossels. Die vissermanne het glo ná lang tye ter see gesmag na vars groente en vrugte, dus is disse met groente, kruie en blomme volop hier. Potte basiliekruid word vir beide geestelike én vleeslike welsyn aangeplant.

Nadat ons glasies limoncello (suurlemoenlikeur) geklink het, volg ons die strale van ons flitsliggies opwaarts na ons hotel vir ons welverdiende nagrus. Ons beplan om more al vyf dorpies van die Cinque Terre te besoek - definitief per trein, want ons het vandag méér as genoeg gestap.

Janine in Vernazza Vernazza La Spezia
Janine in Vernazza Skryftyd op die stasie Wasgoed in Vernazza
Vernazza Vernazza

Deel 4 - Kaapstad

In my onvermoë om my ware gevoelens te verbaliseer, wend ek my tot my dagboek. 16 Februarie 2003 noteer ek as volg:

... Sinies - dit is wat ek word. Plus ek is oormoeg, negatief en dalk selfs depressief. Ek was vanoggend al 06h30 by die hotel, en na 'n volle werksdag moes ek manlief se bakkie gaan 'jump start', waarna ek vrou-alleen twee leunstoele sukkel-sukkel eers opgelaai en toe weer gaan aflaai het by sy dogter. Daarna het ek die bakkie weer gaan stoor, en toe tuis gaan wasgoed was en stryk, aandete gekook en 'n vinnige drafsessie ingepas. Ek is doodmoeg, emosioneel, en ook hard op my man - sy herstel is stadiger as wat ons verwag het. Is ek sterk genoeg om twee mense te dra? Here, ek raak moeg en verloor moed asook my lus vir die lewe. Hou my hand vas en moet my asseblief nie laat los nie...

Van tyd tot tyd skep ek wel moed soos dit blyk uit my skrywes op my blog. Ek is deurentyd steeds oorlaai met verpligtinge: 'n ogie hou oor my man se klereproduksie-fabriek waar hy darem weer werksaam is, die herstelwerk en instandhouding van ons motors, die beplanning van ons karige finansies, alle huishoudelike take, my veeleisende skoonma se versoeke en natuurlik manlief se versorging. Daagliks moet ek hom aanpor om op te staan; seker maak hy sluk getrou sy medikasie; die opsny van sy kos; hom help aantrek; die vasmaak van sy skoene; rondry vir mediese afsprake, ensomeer. In Augustus 2003 begin ek weer in die TV-bedryf werk waar 12-skofte hooggety vier, ses dae per week. In die geharwar van daaglikse oorlewing verloor ek my persoonlikheid, my libido, my nagroom en my sin vir humor.

1 November 2005

Aggro?

Soms raak ek gatvol van positief wees. Altyd die vriendelike een in die verkeer wat ander 'n gaping gee. Altyd die een wat mooi praat met die bergies en die parkeer-wagte. Die een wat maar terugstaan en plek maak vir ander wat indruk in die tou. Maar soos my sagmoedige, oorlede ouma altyd gesê het: "'n Sagte word kos niks nie." Ek self ondervind dat ek die meeste situasies kan ontlont met baie geduld, 'n dosis goeie maniere en 'n positiewe gees.

En dit is nou waar aggressie inpas. Soms verleer mens om behoorlik kwaad te word, 'n vloermoer te gooi en uiting te gee aan jou ware gevoelens. Huil kan ek maklik. Maar dit het my 'n paar jaar geneem om te leer om goed kwaad te word. Te danke aan manlief. En soos ons almal weet, baie gedragspatrone is afkomstig vanaf ons kinderjare.

My persoonlike wenresep is glasherwinning. Ek ry allewig met 'n kattebak vol leë bottels rond. En dan NEUK ek die bottels een-vir-een met alle geweld in daai iglo-houers. Ke-dwa! Glas breek en spat en verkrummel vir 'n vale - 'n malle simfonie van wraak. En van frustrasie. En ongeduld.

Lékker terapeuties!

Ke-dwa!!

NOG NOOIT DIE BLOG GELEES NIE? BEGIN BY DIE BEGIN EN LEES OOK DAG 1 - 3

Die drie musketiers Die drie musketiers
Nog pienk vonkelwyn