Dag 5 - Vernazza

Ons word wakker in ons dakkamer en ek gaan strek met 'n paar joga-asanas op die balkon, die see kalm en blou aan my voete. Vol vakansiegees stap ons later die ontbytkamer binne - Ada, die huishoudster, se vars koffie prut reeds. Die sjokeladesmeer, brood en koek verwelkom ons soos ou vriende by die gemeenskaplike tafel; ek kan ongelukkig nie dieselfde van die Amerikaanse ontbytgenote sê nie.

Ons loop afwaarts na Vernazza; die steilte nou getem. Die mooiste handelsware en gaafste verkoopsmanne lok ons by verskeie winkeltjies in. Ons koop T-hemde, 'n skulpring vir my en 'n gestreepte linnehemp vir Janine se man.

Monterosso, Vernazza, Corniglia, Manarolo en Rommagiore: Dit is die Cinque Terre-rympie van Noord na Suid. Ons reis per trein tussendeur die berghange na die onderskeie cinque (vyf) dorpies, met Monterosso as ons eerste pitstop. Dié dorpie word seelangs omsoom met 'n klipperstrand. Terloops, dit is ook die enigste een van die vyf met 'n strand, en die grootste dorpie. Die seewater is koel om ons enkels; ek tel 'n spoelklippie op vir Yvonne - sy het hier tuisgegaan en versamel swart-en-wit klippies.

Verskuil teen die warm son onder 'n vyeblaardak, gesels ons dan kopstukke oor oranje spritz, bira en 'n bord krakerige panini. Ek probeer pal om my reis-woordeskat verder uit te brei en teen dié tyd kan ek, buiten treinkaartjies en drankies, ook 'n tafel vir twee en die restaurantrekening in Italiaans vra. Die aantreklike kelners is my gewillige proefkonyne... Janine is 'n gemaklike reisgenoot. Sy is kalm en onverstoord en laat my begaan - ook as ek aandring om elke liewe bord eetgoed af te neem.

Later verken ons die nou straatjies van die ander dorpies met hul oordaad vrugtestalletjies, gelateria, pizzeria, ristorante, osteria en trattoria. Hoe kan mens anders as om te eet met al die kosverleidinge in Italië? Janine suig aan 'n lemonita en ons geniet verskeie gelato-geure. In Manarolo kring 'n aantal bejaarde inwoners al sittend om die kerkplein; later aanskou ons dieselfde oues van dae wat aanstap agter 'n lykswa, saam met 'n ellelange begrafnisstoet. Mens vergeet dat dié dorpies se lief en leed voortduur tén spyte van die alomteenwoordige toeriste.

Die Manarolo-toeriste lê oopgevlek soos songedroogde tamaties op die steil bootafrit tussen die rotse na die see - sommer nét so op die sementblad. Dan pols Janine my om te swem en voordat jy kan sê cambiare (verander), verruil ons ons klere vir baaibroeke en plons ons binne-in die Mediterreense see. Verfrissend se moses! Ons spring en plas en dryf en baljaar in die soutwater. Sjoe, die Cinque Terre is omtrent goed vir die gees én vlees.

Ná ons watermanewales, is dit weer vort per trein na Vernazza. Dáár word ons op die piazza begroet deur 'n groep jeugdige musikante, gebaai in die gloed van die sonsondergang. Ons bestel aperitivi, wat voorgesit word saam met gratis peuselhappies. Die ouer garde luier op bankies op die plein, al kopknikkend op die maat van die lewendige musiek.

Ons verskuif vyftig meter verder op die piazza na 'n ristorante en bestel vlamrooi pomodori (tamaties) en dan die nasionale geregte van pizza en pasta vir aandete. Genoeglik herdink en herkou ons aan die swem-eskapades van vandag. Die glasies stroperige limoncello laat die sterre sommer helder flonker en ons staptog na ons hotel bó teen die berg, voel vlietend van duur.  Ons is dit eens - wat 'n salige vakansiedag!

Deel 5 Kaapstad

My nuusbrief aan my geliefdes is vrolik en die botoon is lig, alhoewel dit nou duidelik is dat dit slegs die voorhou van my welbekende masker was.

12 November 2003

Ek het Sondag uiteindelik Larissa se baba ontmoet. Twee geboortes en twee troues - die lewensgebeurtenisse waarop ek uitmis terwyl ek op Khululeka werk. Die res van ons Sondagprogram was gevul met inkopies, wasgoed was, kosmaak en luilekker kuier tussendeur.

Die afgelope Vrydag was dit die vyfde herdenking van my en manlief se ontmoeting, destyds, op Clifton se strand. Omdat ons laat geskiet het op stel, kon ons nie Vrydagaand die geleentheid paslik vier nie. Ons het Saterdagaand dubbel en dwars daarvoor vergoed met 'n ete by Chef Restaurant. Die Italiaanse sjef is ook die eienaar van dié intieme, outentieke eetplek. Ons is sjarmant verwelkom met 'n gratis glasie vonkelwyn, gevolg deur 'n peperduur vyfgangmaal. Kookwater kosteater het ons vermaak en vergas met manjifieke Italiaanse disse. 'n Likeur-trollie wat van tafel tot tafel kuier, het die spyskaart afgerond.

Teen Sondag het presies een jaar verstryk vanaf manlief se beroerte. Ek dink mens vind gemoedsrus deur beide die goeie én die slegte dae in die lewe te herdenk. Dit is ons manier van aanvaarding van dít wat ons nie kan verander nie. Maar ongelukkig neem dit tyd om behoorlik heel te word.

Ons Alpha-kursus het gisteraand afgesluit en 'n donker, klam sjokeladekoek verfraai met goue aarbeie is bedien. Ek is skoon hartseer oor die verstreke sessies; ons het gemoedelike mense ontmoet met wie ek graag kontak sal wil behou en geestelike bande verder mee smee.

Ek mis julle almal verskriklik.

Geniet die dag!

Carla

Op aandrang van my destydse sielkundige, begin ek dagboek hou van my drome in Desember 2001. Ek droom meestal in helder kleure; onder meer waar ek 'n hele woud pienk verf! Ook droom ek van troues by die dosyne, my niggies, wasige aandrokke, vriende, waterstrome, swembaddens, brandende lawa, baddens vol water, aansitetes by lang tafels en natuurlik van eetgoed: donkerswart sjokolade, helder tamaties, oranje koeldrank en purper beet. My drome vergestalt ook in my blog.

14 September 2007

Vandag is ... net vandag

My drome beur en maal in my.

Ek smag na water vir my keel en sluk aan my droë emosies.

Ek word verstrengel tussen gister en vandag en môre.

Ek beur teen die wind van erkenning. Herkenning... van myself?

Wie is ek? Waar is ek? Hoekom is ek?

It is not the how of suffering, but the why of suffering...

Viktor Frankl se woorde laat my wonder oor myself, my storie, my bestaan.

Ek swem stroomop; slukke water word noodgedwonge in my keel afgepers.

Ek snak na asem en my lewe spoel vlugtig by my verby.

Die stroom van die lewensmaalkolk kneus my lyf.

Ek reik boontoe en hys my hand teen die stroom.

Dan breek daglig deur en word ek wakker in vandag.