Anja van den Berg (32) is 'n ma wie se lewe handomkeer verander toe die onverwagse nuus van nóg ‘n baba kom. Boonop het haar man sopas ’n nuwe werk in KwaZulu-Natal aanvaar, en haar ondersteuningsnetwerk sit honderde kilometers ver in Johannesburg. Met 'n baba op die heup en een in die maag. Hoe nou gemaak?

(Lees van onder af indien dit jou eerste keer is)

4. Dertien weke, twee dae

Na die aanvanklike ontkenning, weersin in koffie en deurmekaar hormone is die eerste trimester verby! Vandag is ’n belangrike afspraak by die ginekoloog: ek is oor die dertien week-merk, en die klein lyfie is nou groot genoeg dat die dokter hom/haar behoorlik via sonar kan bestudeer (ek hoop stil-stil vir ’n dogtertjie, ek sal nie weet wat om met ’n seuntjie te doen nie!) Hierdie keer was die eerste trimester vir my ’n baie gemengde ervaring - seker omdat die swangerskap ’n groot verrassing is. Soms is die idee van nog ’n mensie amazing, ander kere onthou ek vriendinne wat babas verloor het in die eerste trimester en word ek skrikkerig om te vroeg te connect. Vandag op die agenda: bloedtoetse. Mom-to-be-again se fisiese gesondheid. Sonar-ondersoek vir geen- en ontwikkelingsabnormaliteite. Dis nogal ’n mondvol. En stresvol. En ek en my urienemonster sit alleen in die wagkamer…my man is vasgekeer in verkeer. Ai, ek voel vandag sommer alleen in die wêreld.

13 weke swanger

"Welkom terug, kom in! Waar is jou man, hy’t nog nooit ‘n afspraak gemis nie?" Ek sit my dapper-masker op en verduidelik hy is op pad, maar hy gaan dit heel moontlik nie maak nie. Dokter van Rensburg bied aan om ’n bietjie te wag en gesels oor die wonderwerk van ’n uterus. Dat hulle maar manne maan toe kan stuur, maar dat niemand ooit die wonderwerk van ’n baarmoeder kan na-maak nie. Wow, my dokter - toe ek hoogswanger was met Mieke het hy ook versekerd verklaar dat dít die vorm van ’n vrou se glorie is. Dat ’n swanger vrou sagter, mooier en meer aantrelik as Bo Derek is. Ek moes gaan Google om uit te vind wie is Bo Derek (ek was verlig sy is ’n vrou).

Ná so vyf minute se gesels begin hy blaai deur my leêr vir roetine-vrae en vorms. Hy verduidelik weer wat die toetse vandag behels, hoe hy diagnoseer en dat die eerste trimester ’n hoë-risiko fase is. Ai, hy kan nie meer wag nie. Ons gesels oor koetjies en kalfies terwyl hy die koue jel op my maag smeer en met die sonar begin. En dan word hy skielik stil. Ek is te bang om te vra. My gedagtes maak honderde draaie in ’n paar sekondes.

Wat as ek so oorweldig is met die idee van nog ’n baba dat God besluit het om in te gryp en die swangerskap terug te neem? Wat as die lyfie gedink het hy/sy is nie welkom nie omdat ek onseker is oor waar om nog ’n baba in my lewe in te pas? Wat as hy/sy kon aanvoel ek is heimlik nie eintlik reg om weer swanger te wees nie? Dat ek dalk net nie maternal genoeg is nie?

Daarsy! Die vinnige doef-doef van ’n klein hartkloppie. Die sonar het dit nie dadelik opgetel nie, maar daar is dit nou duidelik. 147 slae per minuut. My siel bewe van al die gemengde gevoelens. Een-vir-een gaan die dokter deur die merkers vir abnormaliteite, maar dis alles negatief. "Perfek", sê hy. En my man loop net betyds die spreekkamer binne om die goeie nuus te hoor (en natuurlik, om die rekening te betaal).

Sonarfoto_van_hartklop

Ek steek my hand uit dat hy my vashou. Dit kon soveel anders gewees het – ons wêreld kon op sy kop gekeer word in die afgelope 15 minute. Wat as ek dadelik moes ingaan hospitaal toe vir ’n skraap of moontlik terminasie moes oorweeg? Ek dink nie mens sal ooit verstaan hoe dit voel om ’n baba te verloor as jy dit nie self deurmaak nie. Ek was gelukkig nog nooit in daardie posisie nie. Ja, ek voel soms oorweldig en onseker. Maar dis hopelik net ’n tydelike warboel van emosies, en dit weeg lig teen die permanente nuus van ’n miskraam of abnormaliteit.

3. One ball can change it all 

“Sit jy? Ek het…nuwe nuus!  Blykbaar is ek swanger.”  Dis die beste wat my brein kon doen op kort kennisgewing, en boonop oor die telefoon. My man word hoorbaar stil aan die anderkant. Dan giggel hy opgewonde en senuagtig tegelyk, en is heel trots op sy manlike vermoëns om die mediese wetenskappe verkeerd te bewys. Nou nie dat die verrassing-swangerskap totaal teen die grein van biologie ingaan nie... Ek kan met sekerheid sê dat die ritme-metode ’n paar loopholes inhou, selfs al tel jy hóé getrou elke maand jou siklus-dae af!

Met dieselfde asem is hy seker dis weer ’n dogtertjie én meer seker as ooit dat hy die nuwe pos in Pietermaritzburg moet aanvaar. Ek dink aan die fantastiese mediesefonds-voordele wat sy werk bied en stem dadelik saam. Hy sê dit voel of hy die Lotto gewen het. Ai, hy weet darrem net wat om te sê! Ek, aan die anderkant, voel weer of ons Russian roulette gespeel het. Maar dalk is die Lotto meer gepas… one ball can change it all!

So, dis waar ons nou is. Steeds in Johannesburg. Maar ons begin bokse bymekaarmaak om oor so 2 maande te trek. Intussen is my man al vol aan die gang met die nuwe pos, wat beteken hy reis baie.

So, ons drie is hierdie week alleen tuis.  My 8-maand-oue dogtertjie, 11-weke oue swangerskap en ek. Dit voel asof ek iets tussen ‘n juggler en waaghals is. Ek gee pampoen met een hand, eet ’n marmite-broodjie met die ander en kry dit reg om terselfdetyd op speakerphone met my ma te wees. Baba-badtyd is eintlik ’n pluspunt, want dan is ek reeds op my knieë in die badkamer vir wanneer die naarheid toeslaan… ek moet net my kop van die bad na die toilet draai!

Wasgoed-was gaan gepaard met Mieke wat bo-oor die bondels rol en haar kop stamp teen die kas. Groot huil, groot troos.  Ek hang hemde op, ruil doeke om, hang nóg hemde op. Gee bottel. Sy gooi al die formule op. Skrop die mat skoon. Trek skoon klere vir baba aan. Trek skoon slaapklere vir my aan. Hang nóg hemde op. Was slaapklere. Eet…wel, niks in die yskas behalwe jogurt nie. Stort. Vrek, ek moet hare was!  Borsel my ande. Vlos alweer nie. Klim met semi nat hare in die bed. Begin Bybel lees. Word twee ure later wakker met die Bybel op my gesig en Mieke wat my roep. Tande! Medisyne. Bottel. Sus en sing en sus, en sing en sus en sing.  Sla..a..a..? WEKKER! En dan is dit Dinsdag.

Werk gaan stadig want my brein en oë wil nie saamwerk nie. My kollega besluit ons los nou alles en gaan drink koffie by ons gunsteling koffiewinkel om die hoek. Ten minste een bederf wat ek myself soms kan toelaat.

Koffie! copy

Wow, wat ‘n dag by die kantoor!  Verkeer op die N1 sal vir Chuck Norris tot trane dryf.  Gewoonlik sou ek sommer soesji vir aandete kry en ’n lekker glas droë rosé daarby geniet. Maar uhm, ek is veels te naar vir rou vis en natuurlik is alkohol nie op die spyskaart nie. Ai, ’n drankie op’n  Vrydag was darem nou een bederf wat die besige werk-en-baba week bietjie beloon het. En ek moet nou beide kinders in ag neem – die ene wat ’n ontspanne mamma nodig het en die ene wat ’n nugter bloedstroom verdien. Die keuse is soms moeilik  ;)

So, ek doen die regte ding en drink lemoensap saam met ’n gesonde slaai (en bederf myself mildelik met ekstra fetakaas!).  Dis nog vroeg en as ek weer vanaand net bottels en doeke en baba moet doen, gaan ek dalk die whiskey in die kas leegdrink!  So, ek besluit om vir Mieke vinnig te bad en ’n DVD vir my te gaan uitneem, terwyl ek nou nie die TV hoef te deel nie (as mens nou die glas halfvol probeer sien). Ek neem Diana uit.  Altans, ek glo dis wat die fliek was. Ek het tien minute gekyk, toe begin die groot gesels met Mamma. Brabbel en spoeg  en rondrol op die vloer. Toe ’n roep vir optel en speel. Ag wat, ten minste weet ek hoe die fliek eindig.  En my man is amper terug…ek het dringend ’n love story nodig.

Alleen_tuis_hande_vol! Anja en Mieke by die huis

2. Bedekte seën

Middel-November 2013, net ná die jaareindfunksie, kry my man dié verstommende nuus: sy departement herstruktureer en sy pos word geskrak.  Effektief vanaf 31 Desember 2013.  En, to add insult to injury, deel die bestuurder dié besluit op ’n Vrydagmiddag.  Die nuus tref ons soos ’n boksgeveg se uitklophou, hoewel ’n bokser ten minste voorbereid is op ’n punch teen die mond.

Na ’n baie moeilike naweek en verskeie telefoonoproepe het die regte mense van die nuus te hore gekom en is hulle glad nie gelukkig met die stand van sake nie. Gelukkig funksioneer die maatskappy op ’n internasionale vlak en dié aan my man se kant maak ’n plan om hom nie te verloor nie. Hy word steeds ’n pakket aangebied (sou hy dit wou hê) of ’n pos gebaseer in Pietermaritzburg.

Pietermaritzburg?! Ons bly in Johannesburg. Ons hele ondersteuningsnetwerk is hier, of op die meeste 80 minute se ry van hier af. Ons baba is 6 maande oud en ek het al die hande nodig wat ek kan kry!  Hy kry tien dae om na te dink oor die aanbiedinge.

Ons bespreek inderhaas ’n naweek uit, reël vir ouma om te kom oorslaap en slaan KwaZulu Natal se rigting in. Ons ry eers rond en probeer ’n gevoel vir die plek kry – nie een van ons was al ooit vantevore in Pietermaritzburg nie! Dis alreeds Kerstyd en eiendomsagente is so skaars soos hoendertande. Ons stop by ’n paar huise maar sien niks waarvan ons hou nie. Daar is mooi woonbuurte en ons ry deur die stil strate van Sleepy Hollow. Dis ’n rustige plek maar die middestand herinner my aan iets uit die cinematogrofie van Agter Elke Man uit die tagtigerjare...

Terug by die huis sleep ons tonge omtrent op die grond. Na 48 uur in die area, met net ’n paar brokkies inligting en steeds geen woonplek wat vir ons werk nie, het ons slegs dae om te besluit.  Mmm…dalk is dit ’n bedekte seen. Dalk is daar ’n beter lewenskwaliteit en minder verkeersknope. Dalk is om uit Johannesburg te kom net wat ons nodig het. Dalk probeer ons net onsself te oortuig... Ons maak ’n bottel witwyn oop en gooi ’n slaai aanmekaar. Na aandete is ons dit eens: my man sal die werk aanvaar.

Na onderhandelinge met Menslike Hulpbronbestuur en verskeie gesprekke met bestuurders, is dit D-dag. My man moet vandag sy amptelike besluit deurgee.

Maar hier word die storielyn meer kompleks.

Ons een date night ’n maand. Net één! Dit het my met ’n knaende gedagte gelaat:  kan ek weer swanger wees?  Ek is nie op die Pil nie want die hormone doen my glad nie goed nie. Maar ons is versigtig! Oukie, dalk soms meer versigtig as ander kere (bloos). Maar werklik, paartjies sukkel vir jare om swanger te word met allerlei mediese hulpmiddels en intervensies.

Ons het skaars tyd om ’n goeie vry in te werk, wat nog te sê liefde maak. Ek werk boonop nog voltyds om die begroting te laat klop, so ‘energie’ is nie ’n woord waarmee ek ligtelik omgaan nie.

Maar ek voel naar. Dalk stres?  Te naar om my oggend-koffie klaar te drink? O, my magtag, iets is nie reg nie! My ontwerperskoffie is die hoogtepunt van my oggend. Ek sal by ’n apteek moet stop op pad huistoe.

En daar verduidelik die twee strepies op die stokkie alles.

Swanger!

En dis op D-dag. Dis nou nie die tipe nuus wat ’n mens oor die telefoon met jou man wil deel nie. Maar hy is op pad na sy toekomstige bestuurder se kantoor, gereed om ons ondersteuningsnetwerk te verruil vir die onbekende. Ek móét hom net laat weet. Dit kan alles verander...

1. En toe is daar drie…

“You know you are a mom when happy hour has become the 60 minutes between your kids going to bed and you going to bed.”- www.wemothers.com

My enigste Nuwejaarsvoorneme is om voor 00:45 in die bed te klim. Eintlik is dit ’n voorneme wat ek weekliks maak sedert iewers in Junie verlede jaar. Ek was nog altyd ’n naguil, maar ná die geboorte van ons dogtertjie, Mieke, voel ek deesdae soos ’n brulpadda (wat volgens Ask.com nooit slaap nie, maar net elke nou en dan stop om asem te skep).

Na tien jaar saam, agt daarvan getroud, beide van ons in ons 30's, het ons so oor ’n glasie wyn en aandete die idee van ’n baba begin oorweeg. Wel, ek kan goeie Chardonnay tydens aandete aanbeveel. Ons het dit so drie keer oorweeg toe die tuis-swangerskaptoets een Vrydag-oggend in stilte twee strepies uitgil.

Ek het dadelik op die internet gespring vir inligting en toe die ginekoloog gebel vir ’n afspraak. "Hoe ver is jy swanger?" wou die ontvangsdame weet.

"O jinne, ek weet nie. Ek weet net daar is ’n man en nege maande by betrokke. Eintlik weet ek niks van hierdie journey wat voorlê nie!"

Die swangerskap was ’n goddelike (of godinlike) ervaring. Ek kan my sterre dank ek het geen sooibrand, swelling of ongemak gehad nie, behalwe vir die tipiese morning sickness die eerste paar weke. Elke sonar was meer magies as die vorige ene (pun intended). Ek was verwonderd oor hierdie wese wat beweeg in my lyf. Die wese wat deel is en afhanklik is van my in alle opsigte, maar steeds ‘n aparte mens is.

Die romantiese argitipe van die stralende, swanger vrou het egter vinnig ná die geboorte van gedaante verwissel na die onsekere, post-natale ma. Terug by die huis, ná vier dae in die hospitaal en met die keisersneë-pynmedikasie uit my sisteem gewerk, het ek besef: hier gaan ek dadelik moet begin swem óf sink.

My selfvertroue om hierdie mensie, met wie ek so connected gevoel het in my maag, te versorg, was gelyk met die grond. Daai klein frokkies het my tot trane gedryf. Ek kon nie haar arms deur die klein moutjies  getrek kry nie! Ek was te bang ek maak haar seer of knak ’n klein vingertjie af in die proses. Uiteindelik het ek twee babygrows oor mekaar aangetrek om die winterkoue uit te hou.

Al wat ek van borsvoeding af geweet het, is breast is best. ’n Vriendin het vir my ’n La Leche League-boek gegee vir my ooievaarstee wat ek sommer vinnig geweeg en te lig gevind het. Wie het nou ‘n boek nodig om te borsvoed? Dis dan die mees natuurlike ding in die wêreld! Uiteindelik, na ’n maand se trane (myne en Mieke s’n), borspompe en ongemaklike voedings, het ek besluit om eerder formule te gee. En ek het ook geleer om my woorde versigtiger te weeg!

Die grootste uitdaging van alles was hoe die nuwe toevoeging ons status van paartjie na gesin toe verander het. ’n Paartjie gaan eet by Ruben’s en deel ‘n hotelkamer op vakansie. ’n Gesin gaan eet by die Spur en deel ’n familie-kamer by ’n vakansie-oord. ’n Paartjie deel ’n pizza en halwe bottel wyn vir middagete. ’n Gesin sit aan tafel en stuur die pampoen om. ’n Paartjie glip uit vir ’n fliek op ’n Woensdagaand. Ouers koop die kaartjies aanlyn, bespreek ’n baba-oppasser ’n week voor die tyd, kook kos vir die baba, kook ander kos vir die baba-oppasser, maak lysies van noodnommers en plak dit op teen die yskas…en kom dan in elk geval huistoe voordat die fliek verby is.

My sexy man, wie ek tot onlangs toe ‘mooi ding’, ‘my ding’ of ‘sexy ding’ genoem het, is nou meer dikwels ‘Pappa’. Soos in, “Pappa, dis jou beurt.” En nee, sonder ‘n kinky subteks. Ek is darem soms nog hotness met die nuwe verbuiging hot mamma. Ek kan daarmee saamleef, maar dis asof die wete dat ek nou die Mamma van die gesin is, net nie lekker wil posvat nie.

Moeggespeel! Anja en Mieke

’n Mamma is georganiseerd, agtermekaar en geduldig. ’n Mamma weeg pryse en beplan maaltye. Ek maak nie lysies nie en vergeet die melk buite op die kas. ’n Mamma hou die lawwigheid in beheer, ek en my man dans deur die huis met Mieke op sy skouers totdat ons almal kraai van die lag. (Dis nou na nege in die aande…)

Maar nou-ja, ná agt maande kan ek nie glo my kind oorleef nog nie. En dat ek en my man dit gemaak het sonder om mekaar om te stamp of self deur ’n venster te spring nie!  En as daai klein lagbekkie kraai van plesier as ek borrels blaas in die bad, voel dit darrem of ek iets reg doen.

Die golwe het so begin-begin lê toe daar weer groot nuus breek. When it rains it pours…en dit voel asof ons saam ’n ark sal moet bou want die wolke begin saampak...

Ek vertel julle volgende keer.

Anja