Anja van den Berg (32) is ’n ma wie se lewe handomkeer verander toe die onverwagse nuus van nóg ’n baba kom. Boonop het haar man pas ’n nuwe werk in KwaZulu-Natal aanvaar, en haar ondersteuningsnetwerk sit honderde kilometers ver in Johannesburg. Met ’n baba op die heup en een in die maag. Hoe nou gemaak?

Lees Deel 1 van haar blog hier

As dit jou eerste lees is, lees van onder af

8. Toe crack ek!

‘Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie’ . – C.J. Langenhoven Ná ’n hele week weg is my man uiteindelik tuis! Hy was weg vir werk, en daar is net een ding op my agenda. Ek glip gou my klere uit, maak my hare los en vat ’n luilekker stort.  Ek beplan om so vinnig moontlik in die bed te klim. Ek gaan slaap! Vrek, ek is so vodde soos ’n ou Checkers-kombuislap. Ek voel ook bietjie soos een… uitgewas en heeltyd aan die skoonmaak. My bestuurder het intussen ingestem dat ek fleksietyd en offsite werk, ek is baie dankbaar. Maar dit beteken ek is die HELE tyd aan die werk by die huis – ek maak bottels tussen conference calls, was skottelgoed tussen e-posse deur en doen inkopies in my etensuur. Dan die laaste paar werksoproepe voordat ek vir Mieke gaan oplaai. Terug by die huis is dit aandroetine soos gewoonlik. Dan nog ’n paar e-posse antwoord as Mieke in die bed is. Ek kla glad nie, ek verkies steeds ’n tuiskantoor bo die aanhoudende pendel en stres van elke dag se werk toe ry. Maar ek moet erken: dit word soms nogal eentoning om die meeste van die tyd in my eie geselskap te wees, te werk aan wérk, te werk aan huis, te werk met baba. Veral as my man al weer weg is… Oukei, ek weet hy was weg op ’n business trip. So hy het nie veel van ’n keuse gehad nie. Maar sy business lunches was op ’n wynplaas en aandetes in ’n restaurant in Kalkbaai! Gmf, hulle kan sekerlik vergaderings hou in ’n kantoor soos die res van ons? En wie het nou ‘n wynproe nodig vir spanbou?

So daardie aand is my simpatie-vlakke nie te hoog nie. Ek sê-vra in die vergygaan stort toe of hy op baby-duty is en bied halfhartig hulp aan met badtyd. As Tafelberg se liggies my dan nie beskore is nie, gaan ek minstens een aand hierdie week my Milo drink terwyl dit nog warm is en voor middernag wegsink in my bed.

Maar soos dit ’n ma betaam, voel ek te skuldig om alles vir hom te los, so ek sorteer maar die wasgoed uit en pak die skottelgoedwasser. Storttyd is ook kortgeknip, want Pappa het vergeet om Miekies se handdoek saam te vat bad toe en ek moet uitspring en help. Ai, die rus is elders. Ek wonder by myself wat hy sou doen as ék weg was vir ’n  hele week...

Ek het nogal dringend ’n  mental break nodig. ’n Fliek. Of ’n aandjie weg, net ek en G.P. Tyd vir bietjie pret. Ek noem dit al lankal vir hom, en hy sê dis ’n  goeie plan. Maar daar is aanmekaar iets wat voorval. Paasnaweek is te vol en te duur, die naweek voor dit was Mieke siek, die naweek daarna kry ons nie ’n babysitter gereël nie.

Ek voel oorweldig met die aanhoudende roetine wat net elke week herhaal. My brein en laerug smeek vir ’n  breek. Ek wil net bietjie lees sonder dat my oë toeval, net ’n koppie koffie drink sonder om op te spring vir die foon wat lui of vir ’n peuter wat die kombuislaai uitpak.

Ek deel my lyf met ’n ander mensie, my energie met Mieke, my werk met my huis.  Skielik begin dit voel of ek gaan crack. Ek het spasie nodig! Net daar besluit ek, genoeg!  Hierdie naweek gaan ek fliek toe. Pappa moet maar tuisbly. Of ek gaan wragtag ’n aand weg reel, in ’n hotel, net vir myself! Ek kondig dit aan – ek het TLC nodig! Ek is gedaan! En ek huil. Die emosie moet nou net uit. Ek huil totdat ek nie meer wil nie, hardop en hardroerend en eerlik en moedeloos.

En toe bieg my man… hy het vir my plek geboek vir ’n Mellow Mama massering. Hy vat my Sondag spa toe. En middagete is ingesluit, om twaalf in die spa se tuin. Ek moet my boek inpak, daar is sonstoele vir rondlê ná ete. En daar huil ek sommer nog harder. Uit desperaatheid. Uit dankbaarheid. Uit-en-uit reg vir bietjie ledigheid.

7. 19 weke, 3 dae (+ 10-maand-oue baba)

Ek kan nie glo die kalender staan op 19 weke nie!  Die nuwe klein lyfie begin al skop, dit voel nogal soos ’n baba-stormloop as die ene op my heup en die ene in my maag gelyk bene laat swaai.

My eerste swangerskap was uit die boeke. Daar was tyd vir What to Expect When You’re Expecting, oefenklasse drie maal per week en middagslapies op ’n Saterdag (want swanger vrouens moet genoeg rus inkry!)  Ai, die idilliese eerste swangerskap. Gloeiend en groeiend - salig onbewus van hoe die pregnant fairy binnkort gaan verander in ’n zombie.

So, hierdie ronde leen die situasie hom ongelukkig tot minder simpatie en soms tot ’n genadelose skedule. GP, my man, vlieg Sondag Stellenbosch toe vir die week. Ons moet Saterdagaand ’n verjaardagpartytjie bywoon. Die gevriesde baba-kos is amper op, en ek moet iewers oor die naweek kook. Die eiendomsagente bring moontlike kopers. Ons soek nog huis in Pietermaritzburg. Daar is baie meer balle in die lug, en ’n baba op die grond!

Mieke kruip nou en begin al staan-staan teen die koffietafel. Om in die spenskas rond te krap is ’n groot avontuur, so ook in die stort, die waskamer en my bedkassielaai. Ek moet gereeld saam buk en klouter en kruip en keer. Dan voel weer skuldig en verdeeld – ek is so bly my baba groei en ontwikkel so goed. Maar ek is ook doodmoeg en wens sy wil net bietjie stilsit en my ’n gap gee om te stort sonder om te begin huil. Wat is dit met moederskap dat ek aanmekaar skuldig voel?

Baba op die heup, broodjie in die oond

Daar is ook nou sigbaar ’n broodjie in die oond, wat nogal aandag trek as ons saam met Mieke in die winkels rond is.

Die meeste mense probeer so onopvallend as moontlik kyk na my maag. Is sy alwéér swanger of is die maagspiere nog uitgerek na die laaste bevalling? Party waag dit om ons geluk te wens net om oor hulle woorde te stamel en om verskoning te vra as hulle dalk te vinnig afleidings gemaak het. Sommige tannies bied selfs tips aan om my magie weer plat te kry. Ek glimlag dan maar net, wys in GP se rigting en sê dis alles my bioniese man se skuld.

Dis nogal komies meeste van die tyd en ek is soms verbaas oor hoe uitgesproke mense is. Soos ‘n kollega wat nou die dag kliphard vra ‘hoeveel kinders wil julle dan nog hê’? ’n Ander roep weer uit hoe ‘julle nie op julle laat wag nie!’ Nog ene laat dit in die gang weergalm: ‘Is jy alweer swanger? Twee keer binne een jaar?!’ Dit voel of ek ‘n prys vir nasiebou verdien!

Die mees onverwagste kommentaar was seker van die apteker by Clicks, wat sommer so in die oopplan area uitlaat dat ‘jou man jou ten minste pleasure in die aande het.’  Ek het maar net my voorskrif gegee en in my mou gegiggel. Sy het nog nie kids nie so ek gaan eerder nie haar bubble bars nie. Plus, ek weet nie of die res van Clicks noodwendig wil weet dat ’n quicky een keer elke drie weke genoeg is om die noodlot te tempteer nie...

Die waarheid is… ek kan steeds nie glo daar is nog ’n klein mensie oppad nie. Die meeste paartjies sukkel vir jare en hier val nóg ’n seëning letterlik in my skoot. Dis ironies hoe ’n vriendin sukkel om weer swanger te raak na ’n miskraam en ek sukkel om te connect met nog ’n swangerskap. Maar terselfdetyd is ek so bewus van en lief vir elke klein beweging. Net ’n mamma sal dit seker verstaan.

Ek is bang. Want ek weet wat om te verwag, en ek het terselfdetyd geen idee nie.

Ek dink ’n plaaswerker op my tannie se plaas het dit die beste verduidelik, na ’n seisoen met aanhoudende reën:  Die Here seën ons moedeloos. Dit laat my dink aan ’n prentjie wat ek onlangs op Facebook gesien het: Lord, give me coffee to change the things I can and wine to accept the things I can’t.  Alhoewel die wyn eers bietjie sal moet wag...

6. O koek!

‘You know you are a mom when going to the grocery store by yourself is a vacation’ - WeMothers 

Ek wou net ’n kaaskoek bak. Iets wat ek ’n jaar gelede sommer gou op ’n Dinsdagaand ná werk kon inpas as die kreatiwiteit my beetgepak het. ’n Projek om my net tydelik te laat voel ek het totaal beheer oor iets in my lewe, al is dit net om maaskaas en koekies te laat buig na my wil.

Die resep is eenvoudig en prettig, die resultaat beide dekadent én laevet. En boonop het ek ’n craving vir hierdie spesifieke kaaskoek. Ek is immers amper 18 weke swanger (maar probeer ook maar die figuur dophou).

Pappa gaan vandag vir Mieke oplaai en ek stop gou na werk by Woolies om die perfekte bestanddele te kry: laevet maaskaas, ekstra-groot eiers, laer-vet room, vars suurlemoene en bruinsuiker. Laevet-margarien om die heerlike Tennis-beskuitjie-kors in jou mond te laat smelt. Regte vanilla peule. Ek wandel deur die rakke, bewonder al die kleurvolle gesnyde vrugte en ruik aan die pakkies ingevoerde koffie.  Asof ek nog nooit die binnekant van ‘n winkel gesien het nie. Vir ’n verandering hardloop ek nie teen tyd by die skuifdeure uit nie.

Dis ’n paar onbeplande rande later maar oppad kar toe voel dit asof ek ’n skattejag gewen het. Back to reality…Pappa-hulle is seker al tuis. Ek beplan om die aandroetine so vinnig en effektief as moontlik af te handel, dan vir Mieke lekker rustig te bad sodat sy gou-gou wegdryf droomland toe.

En dan om die spaan op te neem, om iets in oond te druk bloot vir die plesier daarvan. Maar helaas, die slaplem-mes sal moet wag.  Want Miekies wil nie slaap nie, en môre is ’n werksdag.

Teen Sondag-oggend lê die bestanddele al vir vyf dae lank ongeduldig in die yskas.  Pappa is vroeg uit om die kerk se kreatiewe produksiespan te help, en ek bly tuis saam met Mieke. Dis nou al ’n geestelike saak en ek sal Bybelliedjies sing terwyl ek bak, maar hierdie koek gaan vandag oond toe!

Voorskoot aan, klitser uit. Oukei wag, eers skottelgoedwasser uitpak en die kombuiskas opruim  Mieke het seker ontbyt nodig. Oatspap? Jogurt? Appels? Sy is nie lus vir enige iets op die spyskaart nie. Ag nee!  Daar word sy naar oor die kombuisvloer! Ek ruim op en ruil doek. Okay, sy geniet vandag groente vir ontbyt. Sug, whatever works. Mamma, optel! Ons speel en rol en sing en lees. En dan stap Pappa by die deur in. Ek het nog nie eers die koekies gekrummel nie!  Net daar is ek reg om op te crack! Ek begin sommer huil, en dit gaan nie eintlik oor die kaaskoek nie.

Dis soms só frustrurerend hoe lank dit vat om iets eenvoudigs af te handel!  Inkopies doen word ’n plan van aksie: snacks, speelgoed, doeksak. Net om betyds reg te maak vir werk is ’n kuns.  En as G.P. weg is vir werk, is dit byna onmoontlik om aandete aanmekaar te slaan voor 9 nm. Mieke is net te besig, sy kruip soos ’n torpedo en fokus veral op watookal in die omgewing is wat haar kan seer of siek maak.

Sy’t juis gisteraand weer haar vinger in die laai vasgedruk en met groot geskreeu die ongemak aangekondig. Vrek, ek verloor soms amper-amper my koel. Ek probeer ’n toebroodjie eet met een hand terwyl ek ‘n bondel wasgoed ingooi met die ander, dan kruip sy onder my uit na die naaste muurprop of kas. En sy lê nie meer stil vir doekruil nie! Dit vat omtrent ‘n konsert om haar boude droog te kry. Magtag,  ek het ook net soveel energie en ek kan nie die helfde daarvan voor werk op doekruil gebruik nie.

Ja, ek is uit my hart uit dankbaar vir my gesonde en besige baba. Maar soms, net soms, wil ek ’n SMS stuur vir die ooievaar en vra of hy ook pakkies sal optel en daarmee wegvlieg vir so paar daggies.  Veral voordat hy die volgende ene by my aflewer. Ek wil net ’n bietjie kragte opbou vir alles wat ek moet manage. Ek is stokvlou, oorstres, ek slaap min en is onseker.

Boeke op my bedkassie[1] Kaaskoek uiteindelik gebak![1]

Dan wag ek maar tot in die na-nag as almal uiteindelik slaap, sny ‘n ekstra groot stuk kaaskoek en soek inspirasie in my boeke:  Keep Calm for Mums en Die Vrou in die Vuur.

5. Ek sou kon doen met 'n miljoen

They say money talks, but all mine ever says is 'good-bye’ - Jill Shalvis

Wie ookal gesê het geld kan nie geluk koop nie, het duidelik nog nooit die dag by ’n spa spandeer vir ‘n vollyfmassering en facial nie. Lank gelede het geld vir my so bietjie geluk gekoop, deesdae koop dit meestal baba-goed en skoonmaakmiddels.

Nadat ek en my man vir byna tien jaar relatief gemaklik reggekom het as DINKS  (Double Income, No Kids) is ons die afgelope tien maande meer DINM (Double Income, No Money).

Sonder my man sal ek seker van genadebrood lewe. Hy hanteer die groot, vervelige rekeninge – huispaaiemente, motorversekering, eiendomsbelasting. Tog kan ek nie van hom verwag om ons hele finansiële wêreld op sy skouers te dra nie, en ek wil beslis nie vra vir sakgeld nie!

Maar een uitstappie Dischem toe gooi my sogenaamde begroting onderstebo. Ek hardloop net gou in vir ’n pakkie prenatale vitamines en onthou dan teenstrydig die res van my inkopielys… boudjiesalf, doeke, afvee-lappies, baba-badgoed, roompies, pap, formule (wow, soveel vir een blik!?), Purity, bottels, borslappies….

O ja, en skottelgoedwasseep, handeroom vir die gaste-badkamer, waspoeier, Stay Soft.  Heel-onder op die lysie is ‘n lip-gloss en botteltjie onderlaag vir my. Ek sal maar die laaste bietjie met ‘n no-name oorstokkie uit die leë houertjies moet krap hierdie maand.  En dan na die betaalpunt… my beursie krimp ineen (ek het ophou optel by R500 rond). Ek gee my bankkaart met ’n tikkie weersin. Hierdie maand se debietorders moet nog deurgegaan en my salaris is nog nie eers koud nie. En ek moet nog die huishulp, dagmoeder en water-en-ligte-rekening betaal.

So, toe ek een oggend voor werk by Clicks inhardloop vir nóg ’n  blik formulemelk, voel ek so ’n bietjie verwytend. En so effe keelvol. En moedeloos. En uitgewas. Ek het meer as ’n jaar laas vir myself klere gekoop en kies maar elke keer die goedkoper opsie by die haarkapper.  Wat is ’n facial nou weer?

En net daar, oppad na die baba-rak, maak ek ’n  u-draai in die winkel. Ek soek nou ietsie net vir my.  Ek glo nie noodwendig aan retail therapy nie, maar ek is vandag bereid om dit op die proef te stel. En ek soek nie iets wat ek nodig het per se nie, ek soek iets wat ek graag wil hê.

’n Nuwe skeermes! Ja, myne werk nog. Maar dis oud en lelik en swart. Ek kies een van die duurstes, ‘n Gilette Venus. ’n Pienke!  So my man sal nie eers in die versoeking wees om dit ooit te ‘leen’ as sy skeermes se lemmetjie stomp raak nie. Uiteindelik! Iets net vir my, net vir die lekker. En sommer ‘n rooibos-lyfskrop op die koop toe! Elke aand se stort inspireer my… as ’n skeermes en lyfskrop my weer nuwe hoop kan gee, moet ek dalk my prioriteite gaan heroorweeg.

Ek is eintlik net lus om oë toe te knyp en my oortrokke fasiliteit te gebruik. Maar eish…die stres van skuld gaan seker nie bydra tot die oplossing nie. Ek doen my huiswerk oor baba-produkte en my begroting kry bietjie speling. Whoop-whoop, daar is so ietsie ekstra oor! (Okay, ek speel ook so bietjie vuil en vra dat my man sommer gou oppad van die werk af stop vir ‘n pak Pampers.) As jy nie ryk is nie, moet jy slim wees).

Later die week maak ek met myself ’n  spesiale afspraak om uit te gaan oor middagete.  Ek vat die nuuste SARIE, glip uit die kantoor na Woolies Café en bederf myself met ‘n glas vars vrugtesap. En ’n hoender-avo-broodjie. En ’n cappuccino. En ’n  sjokolade-muffin vir take-away. Gaan ek oppad uit nog ’n  baby-grow koop? Ek keer myself en draai gou by die breekware rak vir ’n  nuwe melkbekertjie om die gekraakte ene in my teestel te vervang. Ek voel on top of the world!

Na werk lawe ek myself met ’n  pot tee en warm melk. Om ’n  goeie mamma te wees sal ek moet gaan kyk na my eie behoeftes ook, en myself op die prioriteitslysie hou. Ek gaan sommer hierdie naweek window shop vir daai nuwe Jamie Oliver-panne en ’n draai maak by die musiekwinkel om weer my hande op klavierklawers te lê.

Ek weet…dis gróót uitgawes en gaan dalk creative accounting kos. Maar ek dink ek gaan op die ou end ‘n hoër prys betaal as ek myself en my aspirasies ignoreer.