Vreemd hoe so ’n simpel maar nodige ding ’n mens se dag kan bederf. Gelukkig het die dreinman gou gekom.

Toe hy klaar was, het hy by my kom staan en gesels om my sag te maak voor hy ’n prys maak. Hy het ’n jaar gelede afgetree en het nou sy eie klein onderneming. Ja, sê hy filosofies, almal het dreine, almal het afval, almal se dreine verstop, veral met baie bome op die erf, rykes en vernames en armes en ellendiges. Dis nie ’n welriekende werk nie, erken hy, maar hy ontmoet elke dag nuwe mense en hy leer baie. Hy reken hy kan ’n tesis skryf oor mense se dreine en wat dit vertel.

Hy is verbaas oor hoe sy denke oor die jare verander het namate die wêreld verander het. “You know,” filosofeer hy. “Life in Johannesburg and in general has become a stinking drain. Maybe I’m old. But I still enjoy it.”

Toe hy weg is, het ek ook sit en dink hoe nuwe jare met die tyd nuwe waardes gebring het, of skielik weer ou waardes opgediep het. My ma het my geleer: As jy skoene koop, koop die beste - op die ou end is dit die goedkoopste. Dis waar. Ek koop min skoene, maar nooit goedkoop nie. So ook: Pas jou goed op. Dit kos geld om te vervang. ’n Ou Jood het my baie jare gelede geleer: Die eerste verloorslag is die beste verloorslag. Hoe het ek dit nie nou pas weer gesien met die wêreldwye paniek oor geld nie!

Geld speel lankal nie meer ’n groot rol in my lewe nie. Om die waarheid te sê, ek vind rykdom vervelig, veral wanneer mense in peperduur huise bly en nie weet wat smaak is of die eerste beginsels van binneversiering ken nie. Motors was vroeër ’n passie en ek lees nog so dan en wan ’n motorbespreking omdat ek in masjiene belangstel, maar ek is tevrede met my 10 jaar oue kar. Rugby was my groot afleiding - elke Saterdag op Nuweland tussen vriende - en nou sien my sitplek my nooit meer nie, selfs nie eens die TV nie.

Belangstellings en groot passies het meestal ’n rakleeftyd, soms uiters beperk. En ander tye kom ou belangstellings weer skielik na vore en keer jy terug na jou ou spore. Ek het jare lank geglo my dae van ernstig gedigte skryf, is verby. Mense wat glo dat die verlede totaal verdwyn het, maak die grootste fout denkbaar. Verlede en hede is dalk toekomstige tyd, het T.S. Eliot geskryf. En toekomstige tyd dalk wat “verby” is.

Wanneer ek in die spieël kyk, sien ek my soos ek nou is. ’n Neus met ’n skraal gesig. Maar in my gedagtes is ek nog die seuntjie aan Ma se hand, wat my verwonder aan al die goed wat sy my wys in die winkelvensters en die tannies vermaak wanneer sy haar “High Teas” hou. Op pad na Audrey Blignault se begrafnis - en dis moeilik om te dink sy is weg, want sy lééf - ry ek in Roelandstraat in die Kaap. Die ou tronk is nog daar, maar word nie meer gebruik nie. My ooms het mekaar net ná die Depressie gespot-waarsku toe skuld ’n vloekwoord was: “Hou aan koop en jy land met jou stert in Roelandstraat.” Wel, hier is dit weer (byna).

Maar ekself het met die jare verander. Dis asof sekere dinge wat vir my tevore ’n deurmekaar legkaart was, skielik word of die ontbrekende stukkies in plek val. ’n Mens se liefde word intenser vir dié wat jy liefhet. En dié wat nooit eintlik jou vriende was nie, skud jy eenvoudig af en stap aan. Ek vertrou mense ook nie meer maklik nie, maar maak nuwe, jong en interessante vriende wat my stimuleer.

Soos die dreinman leer ek ook uit die “stank” (dikwels vir dank) van die verlede. En ek verbly my oor die pomponboom wat tien jaar lank in my tuin “verdwyn” het, maar nou weer hoog staan met sy pienk blomme. Ek het nooit gedink ek sou dit weer sien nie.

En bo-al, God bly dieselfde as die dae toe Ma my leer bid het. Want geloof: Dit word met ervaring en oor jare sterker. Glo my.