Skielik hang baie planne nie meer slegs af van die weer nie, en of ons, soos die ou mense gesê het, “in lewe en gesondheid” bewaar gaan wees nie, maar van die geheimsinnige beskikking van die beurtkrag-meesters. Hulle wat moet besluit of ek vanaand TV mag kyk of nie, kos in die oond mag sit of nie, musiek luister of nie ... Gedweë moet ek aanvaar dat hierdie beskikkers selfs ’n sê het oor hoe ons kerkdiens verloop.

Dit het verlede week ons Vrydagaand byna bederf. Ons is laatmiddag gedwing om kosmaakplanne te laat vaar. Geen rustige aand tuis met ’n fliek op TV nie. Ons gesin moes strand toe ry en die drie uur tot sterk skemer ons agenda laat vaar, en dit wat ’n aand met krag ons kon bied, verruil vir die salige niksdoen van sonsondergang op Heroldsbaai se strand.

So sonder krag het ons meer gesels as wat ons sou, meer ingeneem van die skoonheid om ons as wat ons sou, en nie regtig gemis wat die elektrisiteitsgode ons sou bied nie. Vreemd genoeg het beurtkrag die aand allesbehalwe bederf. Heelparty mense wat ek ken, het vrede gemaak met die moontlikheid of waarskynlikheid dat dinge op elektrisiteitsgebied dalk nie weer sal verander nie.

Maak ons nie dikwels ook so met sake wat baie groter implikasies kan hê as die beskikbaarheid van elektrisiteit nie? Hy wat die Gewer is van die belangrikste krag wat ’n mens nodig kan hê, het eeue gelede reeds gewaarsku teen hierdie neiging van die hart. Die gewete raak so gou gewoond. Gevoelloos. Soos ’n seerplekkie wat later ’n eelt word.

Só is die hart.

Daar is dinge wat ’n mens moet aanvaar en dinge waarteen jy moet veg tot jou laaste asem toe. En slegs Hy wat alle harte ken, kan ons help om te veg wanneer ons moet en vrede te maak wanneer dit nodig is. As die ligte afgaan, kan ’n mens dit nog aanvaar, maar wanneer jammerte, vrede, liefde en omgee afgaan, laat ons veg teen die vyand van die hart wat ons wil laat glo daar is geen hoop en nuwe krag nie.

Daar is.