In ’n onlangse studie wat in die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie gepubliseer is, sê kenners dat ’n slegte slaappatroon by kinders kan lei tot vetsug. Lees die hele studie hier.

Kinders wat nie genoeg slaap nie het ’n groter kans om vetsug te ontwikkel. Dié studie het na 1 046 jong kinders se slaappatroon gekyk en dié wat minder as die gemiddeld geslaap het, het ’n hoër geneigheid tot vetsug getoon.

Navorsers kon nie vasstel of daar ’n kritiese ouderdom is wanneer ’n slegte slaappatroon die gevaarlikste vir kinders is nie, maar die ouderdom waarop die meeste kinders vetsug getoon het, was op 7 jaar.

Volgens ’n onlangse berig in Die Burger word die wêreld se kinders steeds al hoe vetter. Professor Branislav Antala van die Comenius-universiteit in Slowakye reken dat 10% van die wêreld se kinders op die oomblik vetsugtig is.

In Suid-Afrika

Ons jeug is naas Brittanje, Kanada, Amerika en Mexiko die vetste ter wêreld. Sowat 5% van ons seuns en 25% van ons meisies is oorgewig of vetsugtig. Maar wat staan jou as ouer te doen? Hier is ’n paar wenke wat in SARIE van April 2013 verskyn het.

Jou hele gesin se eetpatroon moet verander

Jy kan nie verwag jou vet kind moet lekkergoed vermy en jý eet dit skelm nie. Of jy belet haar Coke, maar haar boeties drink dit steeds nie.

Moenie kos verminder nie, maar gee gesonde kos

’n Kind van ses se energiebehoeftes is baie dieselfde as ’n volwasse vrou s’n. Jou kind sál dus meer as jy eet. Hul energiebehoeftes verskil na gelang van hul liggaamsbou, groeifase en aktiwiteit. Die piek in seuns se groeifase is om en by 17 of 18 en stabiliseer dan. Meisies s’n is sowat twee jaar vroeër – op 15 of 16. Jou oorgewig kind móét dus eet, maar die regte kos.

’n Gesonde kosblik

Meer kos, maar minder brood. Pak bv. ’n gekookte eier of porsie kouevleis, ’n vrug, rou groente en gesonder vette (grondboontjiebotter, neute) in. Swaar volgraanbrood of rogkraakbeskuitjies met genoeg vulsel is ook ’n goeie keuse. Los die margarien. Gee rosyne, vrugterol of droëperskes vir soetigheid. En een maal per week dalk ’n paar blokkies sjokolade.

KLINK HIER vir nóg raad wat sal help met jou oorgewig kind

Nóg in My Kind