Die Kaapse egpaar, Anni en Yasper het onlangs na Mauritius verhuis. Hulle het hul besighede in Kaapstad verkoop en die groot stap geneem om hulle op die eiland te vestig. Anne-Lise vertel oor hul papegaai wat in Suid-Afrika moes agterbly.

’n Ode aan ons geliefde papegaai, Kasper Rasper Kasper Rasper Kasper Rasper

Jy was vier maande oud toe ons jou by die troeteldierwinkel gekoop het. Ons het nooit kon dink watter impak jy vir 14 jaar op ons lewens sou hê nie.

Al was jy klein van statuur, was jou persoonlikheid reusagtig en altyd tasbaar in die huis.

Die boeke het tereg gesê dat jou spesie nie ’n troeteldier in die huis is nie, maar eerder ’n volwaardige lid van die familie. Ons het jou opgevoed met speletjies, leer somme maak, maniere en dissipline geleer. Jy was nie hokgebonde nie en was net so ondeund soos ’n klein seuntjie.

’n Vervelige lewe het jy nie gehad. Jy het daagliks saam met jou pa fabriek toe gegaan. Daar het jy gou die geluide aangeleer en kon uitstekend kap, saag en boor. Van kampeer en viertrek het jy baie gehou. As jy die sleutels gehoor het, het jy gesê: “Kom ons gaan ry.” By Cederberg 4x4-klub was ons bekend as die ‘papegaai-mense’ weens jou manewales in die Jeep. Orals waar ons gegaan het, was jy saam. Jou persoonlikheid was so dat meeste mense aan jou kon vat. Die kinders was altyd verstom oor jou pragtige rooi stert. Jy het ook Papegaai Skool toe gegaan by Butterfly World in Klapmuts. Jy het tot groot vermaak getel tot by 8 en ons het balletjies vir mekaar gerol met die nodige gejil van lekkerkry. Die uitstappie na die KKNK in die babastootwaentjie sal ons nooit vergeet nie. Baie mense het nie eers opgelet ons stoot jou in jou hok in die waentjie rond nie; jy was mos ons kind.

Dit was ’n vreugde om jou te sien stort of bad in die reën. Die oppoffery van vere, geklap en sleep van vlerke was iets om te waardeer. In die stort het jy skynaanvalle op jou pa se tone uitgevoer. Natuurlik met die nodige swetse wat gevolg het. Die vlieglesse wat hy jou gegee het om jou vlerke sterk te hou, was elke aand se ritueel. Die besoek aan die veearts vir vlerke knip en inspuitings het jy nie geniet. Na so ’n besoek was jy gewoonlik dikmond vir ’n rukkie.

Jy het ouer en ouliker geword. Jy het begin nesbou onder die bed, in die klerekas en in die tent. So het jy vir ons gewys jy soek ’n maatjie. Jy het twee hondemaatjies gehad, Cassie en Cleo. Na ’n byt op hul snoete het hulle gou besef wie is baas. Jy kon hulle nes hul baas op hul name roep.

By jou laaste woonhuis op die plaas was jy die baas van die stoep. Met groot bravade sou jy van jou hok afklim en na jou pa gaan soek waar hy agter die huis getimmer het. Die twee wilde plaaskatte het jou nie beïndruk nie en vir die valke het jy uitgekyk en geskree as hulle naby was.

Die geluide wat jy gemaak het was so snaaks! Jy het alles nageboots, van voëltjies, katte, honde en selfs mense. Jy kon snork soos jou pa jou geleer het. Al was jou hok toegegooi, het jy niks gemis nie. Jy het die geluid gemaak van ’n drankie wat geskink word, as iemand die koelkas deur oopmaak.

Jy het nooit met buie opgestaan nie en was altyd gereed met ’n vriendelike ‘hello!’ as ons jou hok soggens oopgemaak het. Saam met ons het jy ’n stukkie beskuit (gedoop in tee) op die vensterbank gesit en eet. Saans het jy vir ons gesê: “Wil jy gaan slaap? Wil jy gaan slaap?” Dan het ons geweet dis sulke tyd. Jou voorliefde vir lewendige musiek het gelei tot uitbundigheid in die huis. Dan klap jy hande met jou bek en skree net so hard soos die mense.

Toe kom die dag wat jy vir ons al hoe meer in jou taal vertel dat jy ’n maatjie soek. Ons kon jou nie daarmee help nie en ons kon jou ook nie saamvat Mauritius toe nie. Ons het besluit om jou na Butterfly World te neem waar Esther en haar span mooi na jou sal kyk, en wie weet, dalk vind jy die maatjie wat jy begeer. Daar kan jy klim en klouter, kou en knibbel soos in die natuur.

Ons huis is nou stil in die oggende. Weg is die rituele van wakkerword, beskuit eet en soene uitdeel. MAAR tasbaar is jou reusagtige persoonlikheid in die huis. Orals en in alles sien en hoor ons jou. Ons harte is seer, maar ons is dankbaar vir die vreugde wat jy oor 14 jaar aan ons besorg het.

Van jou mense pappa en mamma