Oor die afgelope drie dekades het die Eikendal Weintaufe ontlont in ‘n opwindended hoogtepunt op die sosiale kalender, soveel so dat jy omtrent moet skarrel vir ‘n plekkie langs die dam wanneer hierdie prominente Stellenbosch kelder jaarliks sy ‘pretville in die Boland’ vir oud en jonk aanbied ter afsluiting van nog ‘n suksesvolle oes. Eikendal is bekend vir sy elegante Chardonnay en bekroonde rooiwynversnitte en besoekers sal die vrugte van sy afgelope oes kan ervaar wanneer ‘n vaatjie van die kelder se eerste wyn vir 2013 – sy vlagskip Chardonnay – nader geskuif word. Nie net kan volwassenes hierdie wyn dan geniet nie, maar sal dit ook gedoop word met ‘n gepaste naam op die dag van die feesvieringe. Hierdie lui-lekker, buitelug makietie sluit ook Eikendal wynproeë, musiekvermaak, kuns-en-huisvlyt stalletjies, trekkerritte deur die wingerd, vlieghengel, druiftrap, ponieritte en hope kaskenades vir die jongspan in. Daar sal heerlike kos en wyn te koop wees, so bring jou vriende, familie en pienkniekkombers en sluit jou naweek op ‘n hoogtepunt af. Kaartjies vir die Eikendal Weintaufe 2013 kos R60 per persoon en sluit ‘n wynglas en gratis vatproe van die 2013 Chardonnay vir volwassenes in, terwyl kinders onder 12 jaar GRATIS toegang geniet. Die kaartjies is vooraf beskikbaar by Eikendal, of by die hekke op die dag van die Weintaufe. Die pret skop af om 10vm met die amptelike ‘doopseremonie’ omstreeks 12h00. Eikendal is geleë op die R44, halfpad tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Vir navrae of om jou kaartjies te bespreek skakel Eikendal by Tel: (+27)21 855 1422 of stuur ‘n epos na info@eikendal.co.za