Geen kans vir ’n nuwe motor, ’n eie huis in ’n goeie buurt, ’n reis oorsee of enige van hierdie basiese soort behoeftes van iemand van sy gekultiveerde stoffasie nie. Die alewige stryd om sy begroting te laat klop en darem nog so weekliks of wat te kan uiteet, fliek, rugby kyk en die eenvoudige plesiertjies van ’n arm man met ’n klein salaris te kan bekostig. Hoe moet hy nie sy sente omdraai om darem nog ’n goeie wyn te kan bekostig en sy huwelik, soos dit ’n jong getroude betaam, verantwoordelik gereeld met sjokolade en blomme te verryk nie.

Die simpatie van die kollegas in die kantoor was oorweldigend. Sommige omdat hulle dubbel sy salaris verdien en tog nog steeds baie na aan ’n armsalige bestaan moes voer. Hoe moeg is hulle nie self vir hul gewone ou huisies, gewone karretjies, gewone vakansies en gewone skootrekenaars en verouderde digitale kameras en selfone nie. Hoe moeg is hulle nie om altyd op uitverkopings te koop nie, en hoe erg is die koste van skole en universiteite nie. Die kinders se sport, selfoonrekenings, klere, musieklesse, dramaklasse, ekstra wiskundeklasse.

Die kantoor was onder ’n donker wolk. Hoe moes die arme juniors van my junior vriend nie voel nie? Hy het blykbaar vergeet daar was van hulle wat skaars die helfte van sý salaris verdien het. Wat weet hy van ’n woonstel deel met drie ander, van wag tot volgende maand vir lugtyd op jou selfoon, van ’n tien jaar oue kar ry en naweke as tweede werk kelner speel?

Hy het duidelik nie ’n benul van hoe dit vir beginners voel in die regstellende dae van ons goeie ou land nie.

Almal het natuurlik so ’n bietjie skaam gevoel toe die vrou wat tee maak, inloop.

Toe een van hulle nog boonop tevore kom met waarop hy op ’n interessante webtuiste afgekom het, het die gemoedere eers laag gedaal - en toe skielik die hoogte ingeskiet.
Hulle het almal besef dat hulle (die teemaker inkluis) van die rykste mense in die heelal is. Opgewonde het elkeen sy salaris op die webtuiste ingetik en ontdek dat die mense in die kantoor gewissel het van een van die top-40% van die heel rykstes ter wêreld tot een van die boonste 5%. Skielik het my jong vriend soos ’n ware miljoenêr met ’n houding in die kantoor rondgeloop en vir almal wat inkom, vertel dat hulle so pas die teenwoordigheid van een van die rykste mense ter wêreld betree het.

Ek dink die meeste probleme wat ons in die gesig staar, sal heeltemal anders lyk met die medisyne van gesonde perspektief. Kyk om jou, jy is ryk as jy gesond is, of kinders het, of vriende, of kos om te eet, of net nog ’n kans om vandag te kan lewe.

En as jy kan glo, wag die onmeetbare rykdomme om nog ontdek te word.