“Net ná die troue,” hoor jy haar vir ’n vriendin oor die telefoon sê, “het hy nogals goed reggekom, bedagsaam en als.” Helaas, dit was van korte duur, so twee weke ... Want net toe sy gedink het sy’t jou nou mooi verander, toe verander jy terug.

Jy’t ’n teorie daaroor ontwikkel: Vroue wil die wêreld ’n beter plek maak. En om dit te kan doen moet hulle die wêreld verander, dis vanselfsprekend. En waar is die beste plek om te begin?

By die huis.

En wie’s by die huis?

Jy.

Dis hoekom jy nie ’n voet kan verkeerd sit nie, dan draai sy die voet reg. Dis hoekom sy kla oor deurmekaar kaste en goed in hierdie huis wat nie van die vloer af opgetel word nie, en wie dink jy moet dit doen? Sy práát nie eers meer oor die toiletsitplek nie, en hoe kry jy dit reg om die badmatjie elke keer so op te frommel? En moenie maak asof jy nie sien hoe die gras begin groei nie, dis lente.

Praat van rondspring tussen onderwerpe, dis asof sy met ’n denkbeeldige remote control in haar kop speel.

“Ek wens jy wil nie so geïrriteerd wees as jou span op TV verloor nie. Jy maak die res van die naweek vir álmal onaangenaam.” Dan voeg sy ewe by: “Dis tog net ’n game.”

“Dis net so min net ’n game as wat ons telefoonrekening elke maand net ’n game is,” sê jy. (Geïrriteerd, natuurlik.)

“Moenie nou stilstuipe kry nie,” waarsku sy betyds. “En haal jou voete van die koffietafel af! Sies, man, ons koek en tee om hierdie tafel ...” Jy’s bewus daarvan dat sy en haar vriendinne, veral haar vriendinne, om die tafel koek en tee. Meer koek as tee, as iemand jou sou vra.

“Jou vriendinne is mos nie nou hier nie,” sê jy onskuldig. (En daar’s ook nie ’n koek in sig nie, sug jy.)

“Kyk,” wys sy na jou voete, “jou skoene pas al weer nie by die res van jou klere nie.”

Want ’n vrou probeer nie net ’n man verander nie, sy probeer hom ook aantrek.

“Trek liewer jou groen hemp by daardie broek aan. Ek dink ons moet nog vir jou ’n turkoois hemp kry, of ’n vrolike lila.”

Ons? Oor jou dooie skouerblaaie, jy dra nie pers nie!

“Jy sal mooi lyk in lila ...” het sy klaar besluit.

En bel tog as jy gaan laat wees ... Dit klink soos ’n refrein: “Hoekom kan jy nie net bél as jy gaan laat wees nie?”

Die ding is: Toe jy weer sien, toe’s jy klaar laat, g’n vrou verstaan dit ooit nie. Dan kom die tweede refrein: “Is dit nóú die tyd om hier aan te kom? Ek het my dood geworrie!”

Vóór die troue, ja, vóór die troue het jy drié keer gebel as jy gaan laat wees. En nou? (Jy’t gedog sy sal gewoond raak daaraan. Al die admin!)

Net so vergeet jy belangrike datums, kla sy. Soos dat dit vandag presies soveel jaar, drie maande, ses uur en soveel minute is dat julle mekaar die eerste keer ontmoet het voor julle soveel maande en soveel uur later getroud is.

’n Man, daarenteen, wil nooit ’n vrou verander nie, dan verander sy vanself. (Ná die troue.)

“En terwyl ek nou daaraan dink: Jy’t my lanklaas verras ...”

Toe sy om die hoek kom, spring jy agter die kosyn uit met net jou groen hemp aan en vrolike, pers sokkies, met so ’n swaai in jou stap.

“Verrassing!”

Dit werk wragtig nie ... Kom ek vryf dan maar jou rug, bied jy aan. Mmm, sê sy. Net daar, hou dit daar ...

“Moenie verander nie!”