Madiba het gesê: “As jy met ’n man praat in ’n taal wat hy verstaan, praat jy met sy verstand. Maar as jy met hom in sy eie taal praat, praat jy met sy hart.” Hoe waar is die woorde nie. Ek het ten volle tweetalig grootgeword, ’n Engelse pa en ’n Afrikaanse ma. Hoewel ek baie na aan my pa was en in Engels met hom gepraat het, is dit my ma wat my geleer het om te lees - in Afrikaans. En toe later in Engels. Daardie eerste eenvoudige woorde wat ek kon klank, (kat, bal) het my laat voel ek het iets reusagtigs bemeester. Ek wou net meer en meer woorde leer. So het my ma my ’n liefde vir lees, maar ook vir haar moedertaal, geleer. Vandag is ek haar steeds ewig dankbaar.

Hierdie week het ek ’n verskeidenheid Afrikaanse titels bymekaar gesit. Onthou om ons boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Kaar, Marlene van Niekerk (Human & Rousseau, R220)

Marlene van Niekerk se derde digbundel, Kaar, gaan vir baie lank nog 'n rimpeleffek op die Afrikaanse poësie hê. Dit spog reeds met die gesogte Hertzogrys vir Poësie en die Universiteit van Johannesburg-prys vir Beste Skeppende Skryfwerk in Afrikaans, sowel as Media 24 Boeke se Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse digkuns.

Dis selde dat poësie 'n mens so vasgevang hou, dat jy skaars die bundel kan neersit. Jy teug stadig aan elke gedig, soos aan goeie wyn, rol die woorde en beelde stadig oor jou tong, asof jy bang is dat jy met die sluk daarvan alles gaan verloor.

Die titel van die bundel is ontleen aan 'n Nederlandse woord wat Van Niekerk verklaar in die gedig “Woordverklaring” (p.20):

“Kaar. 'n Mooi ou Dietse woord

Vir iets waarin mens kan vergaar

Heuning, vis, yswater; . . .

Hierdie gedig is dan ook 'n verklaring vir die res van die bundel wat deurspek is met herinneringe aan 'n geliefde, die digter se pa, natuurindrukke, intertekstuele gesprekke, mymeringe oor digterskap en die oorsprong van waar 'n mandjie byvoorbeeld kom, wat deur die gedigte ‘vergaar’ word.

Die bundel is ook 'n ‘kaar’ waarin 'n rykdom van woordeskat geberg is. Middel- en Oud-Nederlands, Angel-Saksies, Noors, Urdu en Sanskrit word vernuftig geweef met Afrikaans om nuwe beelde en woorde te skep.Mens word dikwels gedwing na die woordeboek of rekenaar om die betekenis na te slaan.

Die bundel sal beslis byval vind by lesers wat hou van poësie en vir wie Afrikaanse woorde en klanke 'n eiesoortige musiek skep waarin gewaarwordinge van die natuur, die liefde en die alledaagse getransponeer word in 'n biblioteek van klank en vers. – Linette van der Merwe

Haai Karoo, Etienne van Heerden (Tafelberg, R175) & Nuwe Stories, verskeie skrywers (Human & Rousseau, R140)

Hierdie is twee interessante bundels kortverhale.

“Haai Karoo” bevat 10 kortverhale van Etienne van Heerden met die Karoo-landskap, waar hy grootgeword het, as agtergrond. Die kortverhale is voorheen in “My Kubaan”, Liegfabriek” en “Die gas in rondawel Wilhelmina” gepubliseer, maar verdien wel om weer ’n keer gelees te word.

“Nuwe Stories” bestaan uit die 21 beste kortverhale uit ’n totaal van 69 wat ingeskryf is vir Human & Rousseau se Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd vir skrywers onder dertig. Daar is ’n uiteenlopende verskeidenheid verhale in die bundel. Dit wissel van alledaagse stories tot spookstories, daar is drama, humor, tragedie en liefde. Wat die leser opval is die vars, jeugdige aanslag met die vreeslose aanpak van moeilike temas.- Retha Burger

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Arnoster en die prokureurtjie en ander vertellings, Kees van Dijkhorst(Rosslyn Pers, R160)

Kees se boek is saamgestel uit ’n aantal kortverhale.  Omdat hy ’n regsgeleerde, wêreldreisiger en bergklimmer is, handel die verhale meesal hieroor.  Sommige verhale is heel komies, soos bv. Vervalsing, waarin die draak gesteek word met twee broers se intelligensie, of liewer die afwesigheid daarvan.  Ander verhale is weer meer ernstig soos bv. Vir volk en vaderland.  Dit wil voorkom asof daar ’n lessie te leer is uit elke verhaal.

Die reisverhale is baie interessant en insiggewend, spesifiek die een wat handel oor China. Kees reis ’n allemintige 10 000 km in amper sewe weke. Hy maak gebruik van openbare vervoer en vermy die besige toeriste-dorpies. En hy wens ook by sommige plekkies dat hy dit liewer oorgesien het. Soos Kees tereg dan ook sê: “Dit is beter om te reis as om te arriveer”.

Die boek kan bestel word by http://www.graffitiboeke.co.zaJenny du Toit

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die Griekwastad-Moorde, Jacques Steenkamp (Zebra Press, R190)

Die hele land was die afgelope maande gaande oor die Oscar Pistorius-hofsaak wat woord vir woord – en dikwels hou vir hou - op die kassie afgespeel het. Maar ver verwyder van dié internasionale media-oog was daar ’n ewe opspraakwekkende moordsaak in die Noord-Kaap.

In die beskuldigdebank was ’n minderjarige seun wie se naam nie genoem mag word nie, omdat hy te jonk is. Tog weet feitlik almal wie hy is en waar hy in die gruwelverhaal inpas.

Die skrywer het as joernalis die moord op die Steenkampgesin van Griekwastad van die begin af gedek en vertel die verhaal op meesterlike wyse. Die Steenkamps se seun, Don, het kort na skemer op Goeie Vrydag in 2012 in ’n stofwolk voor die dorp se polisiekantoor stilgehou om die moord op sy pa, ma en suster aan te meld. Briljante speurwerk het gesorg dat die moordenaar se leuens hom spoedig ingehaal het, maar die hofsaak was ’n lang en uitgerekte een.

Die boek eindig met ’n skuldigbevinding vroeg in 2014. Tog geniet die jong moordenaar steeds die steun van sekere van sy familie en vriende wat in sy onskuld glo. En dan is daar die seun se erfgeld van miljoene rande wat nou na ander mense moet gaan. – Susan Puren

Lees hier ’n uittreksel uit die boek

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die Tuiskoms, Sophia Kapp (Lapa Uitgewers, R214,95)

Klein-Karoo. Grootwordplek. Hartland. Hoe vergeet jy die plek waar jy mens geword het? Tien jaar gelede is Liz Aucamp deur haar geboortedorp verwerp. Vandag is sy ’n onkoloog met ’n briljante toekoms in die akademie, maar haar pa se dood dwing haar terug Groblersdorp toe en na sy praktyk wat hy vir haar nalaat.

In die stowwerige hitte van die Klein-Karoo moet sy weer vir Jans Gildenhuys in die oë kyk, die man wat haar jong liefde vertrap het. Sy moet Magdel Aucamp se snobisme trotseer, én die skindertonge van die dorp wat maar te gretig wag om haar te verslind. Dan is daar ook die prokureur, Herk Louw, wat haar op grond van skinderstories veroordeel.

Maar Groblersdorp se mense het haar nodig, meer as die pasiënte in Johannesburg. Sal sy haar hart vir hulle kan oopmaak en haar plek in die gemeenskap volstaan? ’n Liefdesroman wat maklik lees, net reg vir ’n lui Sondagmiddag. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

’n Ander Mens, Zirk van den Berg (Kwela boeke, R145)

Erica van der Linde is in beheer van die polisie se getuiebeskermingsprogram. Sy moet sorg dat mense wat getuies was in omstrede hofsake veilig sal wees en nie sake vorentoe vir die polisie sal bemoeilik nie. Sy is uitstekend in haar werk en het die perfekte metode gevind om die getuies uit hul bekende omgewing te laat verdwyn. Sy vermoor hulle. Dan kruis haar paaie met die van Daniël Enslin en haar planne loop skeef. Daniël kan getuienis lewer wat Frank Redelinghuys, ’n grootskaalse bedrieër, skuldig kan laat bevind op die moord van Nazla Hassan, dogter van die anti-apartheidsaktivis Nazier Hassan. Frank moet egter glo dat Daniël dood is. Erica se hulp word ingeroep om van Daniël ’n ander mens te maak. Die boek is oorspronklik in Nieu Seeland onder die titel Nobody Dies uitgegee en is deur die New Zealand Herald as een van die top vyf spanningsverhale vir 2004 aangewys. Die ietwat ongewone spanningsverhaal wat in Kaapstad afspeel, is uitstekend geskryf en sal jou boei tot aan die einde. – Gert Venter

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Pippie, Anice Kruger saam met Colleen Naudé (Christelike Uitgewersmaatskappy, R169,95)

Dis nie ’n literêre kunswerk nie, net Anice, Pippie se ma se eerlike vertelling van wat haar twee-en-’n-halfjarige dogtertjie wat 80% derdegraadse brandwonde opgedoen het en wat dit eintlik nie moes oorleef nie, moes deurmaak. Pippie se storie kry wêreldwye belangstelling en die Pippie se Gesiggie-fonds ontstaan.

Die gekloonde vel, Epicel in Boston gekweek, is ’n eerste vir Suid-Afrikaanse medici onder dr. Ridwan Mia. Daar is 16 bladsye hartverskeurende foto’s van Pippie. Alle rasse en gelowe werk saam en bid vir Pippie – alle eer word aan God gegee. Die kleine mensie het deurgemaak wat meeste mense nie in ’n leeftyd ervaar nie. Haar lyfie het drie keer sy grootte opgeswel en haar hart gaan staan ’n paar keer, sy kry 50 keer narkose in ses maande. Alhoewel haar man en familielede baie ondersteunend is, beskryf Anice haar eie verskriklike alleenheid en skuldgevoelens. ’n Verhaal van onwrikbare geloof, hoop en liefde. - Linda Volschenk

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Spoorvat, saamgestel deur Riana Scheepers & Leti Kleyn (Lapa Uitgewers, R185)

Hierdie bundel bestaan uit ’n verskeidenheid kortverhale van 36 gepubliseerde Afrikaanse skrywers waarin hulle skryf oor hul kinder- of jeugherinneringe. Saam met die skrywer gaan die leser terug op die spoor na die verlede en kry sodoende ’n intieme en eerlike blik op die wêreld van die skrywer as kind of jongmens – soms prettig, soms hartverskeurend, maar elke keer hartroerend eerlik.

Sommige skrywers het hul vroegste herinneringe verwoord, ander het verkies om te skryf oor ’n oomblik wat hulle lewe verander het, terwyl ’n paar geskryf het oor groot pret of hartseer.

Sommige van die skrywers wat bygedra het tot die bundel is o.a. Andries Bezuidenhout, Cecile Celliers, P.G. du Plessis, Jeanette Ferreira, Joan Hambidge, Jaco Jacobs, Marié Heese, Irma Joubert, Maretha Maartens, Dana Snyman, Piet Steyn, Marita van der Vyver, Leon van Nierop en Ingrid Winterbach.   - Retha Burger

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Koesterkind, Elaine Marais(Naledi, R120)

Hoe gemaak as jy as rykmansdogter tronk toe gestuur word vir drie maande? Boonop is jy eintlik onskuldig! Tina leef flambojant. Sy rinkink en kom en gaan nes sy wil. Sy word vriende met Melany wanneer sy een aand tot Tina se redding kom en haar huis toe neem, nadat sy weereens hoogs besope is. Tina word opgesluit wanneer dwelms in haar handsak gevind word wat deur twee smokkelaars daarin weggesteek is. Sy is platgeslaan, en vir eens kan al pappie se miljoene niks regkry nie. Paulina, ’n gevangene, ontferm haar gelukkig oor Tina, maak haar touwys en beskerm haar teen die geharde kriminele. In die tronk sluit Tina noodgedwonge by ’n Bybelstudiegroep aan. Haar lewe verander in ’n handomkeer. Haar ouers wat vir jare afwesig was in haar lewe, raak weer betrokke. Die aand voor haar vrylating word daar egter die moontlikheid van ’n doodsvonnis oor haar gebring. Sy word erg aangerand en ingespuit met vreemde bloed. Die boek het ’n baie sterk Christelike inslag. - Jenny du Toit

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Fluisterliefde, Ettie Bierman (Satyn, R94,95)

Die liefde kom nie altyd met fanfare nie, soms kom dit fluisterend. Beamari is getroud met ’n droomaantreklike Haai-rugbyheld. Hulle boerdery op ’n piesangplaas aan die Kwazulu-Natalse Suidkus is egter nie suksesvol nie. Krisjan moet weer die span haal om groot geld te verdien. Intussen werk Beamari hard aan ’n diereherberg en sy beoog om ’n hondeskool en dieresalon te open. Sy loop heelwat teenspoed tegemoet, maar beur dapper voort. Verlies en ontnugtering kry haar nie onder nie. Meer as een man het haar lief, maar watter van die mans wat haar wil help om die skerwe van haar lewe op te tel, is vir haar bedoel? Hierdie is Ettie se honderdste liefdesverhaal. - Malene Breytenbach