Hoendervleis van kop tot tone toe daardie skor, gebroke stem begin sing: In a white suburban bedroom in a white suburban town . . .

Ja, Marianne Faithfull se hartverskeurende ballade oor ’n huisvrou wat op die ouderdom van 37 besef sy sal nooit in ’n sportmotor deur Parys ry nie, het deur die
jare ’n soort kenwysie geword vir ontnugterde vroue wêreldwyd. Want Faithfull wéét van ontnugtering. Van teleurstelling en terugslae. Van platval en bly lê en opstaan en wéér probeer. Dis een van die redes waarom ek haar bewonder.

Sy’s waarlik die Groot Grys Moeder van alle woedende jong rock-sangeresse. Die hedendaagse Amy Winehouse-klone kan maar almal hul nege-duim-stilettos agterna gooi. Faithfull het gisteraand in plat swart skoene op die verhoog gestaan, stewig geanker op die aarde, sober in ’n swart langbroekpak, g’n uitspattige bewegings of foefies nie. Slegs haar stem en haar ervaring gebruik om etlike duisende bewonderaars te betower.

Want sy was al daar, waar “daar” ook al is, sy’t alles gedoen wat gedoen kan word, en sy’t die letsels om dit te bewys. Die plooie op haar gesig, die hartseer in haar glimlag, die gewig wat sy deur die jare aangesit het, die indrukwekkende borste wat van sexy tot moederlik getransformeer het. Beeldskone jong metgesel van Mick Jagger in die jare sestig, uitgebrande, daklose junkie in die jare sewentig, ’n kwaai kat wat weer eens op haar voete val en haar hoeveelste lewe aandurf in die jare tagtig, TV- en rolprentaktrise ook nog in die jare negentig – en die afgelope dekade ’n ikoon vir ’n veel jonger geslag musikante.

As sy, soos soveel ander beeldskone, beroemde vroue, te vroeg gesterf het – te veel dwelms, te veel drank, te veel druk – sou sy nou een van daardie ewig jong, ewig mooi mites gewees het. Soos Marilyn, soos Sylvia Plath, soos Ingrid Jonker. Maar wat sy gedoen het, is ’n duisend keer dapperder. Sy het dit gewaag om oud te word. Sy’t aangehou, ondanks die ontnugtering, ten spyte van die terugslae en die teleurstellings.

Sy’t vir die wêreld gewys wat dit beteken om te oorleef.

Terwyl ek gisteraand luister hoe sy ’n lied sing wat sy haar anthem noem – Do you feel alive? Can you feel alive? – dink ek hoe jammer, hoe vrééslik jammer, dat
soveel kunstenaars moet sterf om werklik onsterflik beroemd te word. Terwyl ons tog eerder dié wat oorleef, behoort te loof tot in lengte van dae?

As ek vir my dogter ’n rolmodel moet gee, sal dit beslis nie een van daardie ewig jong, ewig dooie vroulike mites wees nie. Nog minder ’n vyftigjarige ster wat die lyf en gesig – en dikwels ook die gedrag – van ’n twintigjarige probeer naboots. Die vermaaklikheidswêreld se obsessie met ’n jeugdige voorkoms is soos ’n besonder grusame ongelukstoneel. Slagoffers net waar jy kyk, en tog wil niemand ophou kyk nie. Nog, nog, nog, roep ons uit. Hulle wóú mos beroemd wees!

Daarom is dit so ’n verligting om ’n sangeres van oor die sestig te sien wat nie skroom om haar ervaring óf haar ouderdom te wys nie. Want die twee gaan nou
eenmaal saam. Ons word ongelukkig nie álmal wyser met die jare nie – maar dis onmoontlik om wyser te word sónder die jare.

Goed, ek sal Marianne Faithfull miskien nie as rolmodel vir my dogter aanbeveel nie. Ek het geen brandende begeerte dat my dogter ’n rock-sangeres word nie, nog minder ’n daklose dwelmslaaf. Maar ek wíl hê sy moet leer oorleef – alles beproef, die beste behou, en altyd beter word – en as dit by beproewing en oorlewing kom, is Faithfull in ’n klas van haar eie. Anders as die huisvrou waaroor sy sing, die Lucy Jordan wat waansinnig word en na ’n hospitaal weggeneem word, is Faithfull dekades later steeds dáár. Sterker as ooit in haar plat swart skoene.

Dankie tog vir vroue wat oorleef!