Die een boek het ek jare gelede gekoop, dit bestaan uit artikels en foto’s oor huise waarin beroemde skrywers hul gewildste boeke geskryf of hul lewens voltooi het. Elke huis in hierdie boek staan langs ’n meer, in ’n woud, teen ’n berg of op ’n verlate strand. Afgesonder, eksentriek, mooi, huislik en veilig, dis hoe elkeen van hierdie tuistes beskryf kan word.

Die ander boek het ek twee jaar gelede as ’n geskenk ontvang en dit handel oor die 500 mees unieke huise in die wêreld, ontwerp deur beroemde
argitekte, kunstenaars of koninklikes. Daar is klein eeue oue huisies, kastele, villas, huise met krulle en draaie, skeppings uit glas en beton, visioene met 40 skoorstene en skuilings uit bamboes. Nie een van hierdie wonings staan in ’n straat in ’n woonbuurt nie, nie een het ’n posbus met ’n nommer op nie, nie een het diefwering voor sy vensters nie, hulle staan op landgoedere, op kranse, in wingerde of in valleie.

Eers het ek gedog my obsessie met hierdie boeke gaan oor die feit dat al hierdie huise veilig lyk, dat die inwoners duidelik nooit vir ’n oomblik gedink het aan rowers of aanvallers nie. Later het ek besluit hierdie huise simboliseer rykdom en sukses, iets om na te streef. Heel onlangs, eintlik so pas, het ek besef ek soek ’n plek om heen te vlug, ’n plek waar ek betyds kan gaan wegkruip.

Ek wil nie in hierdie land oud word nie. Genugtig! Dit moet die verskriklikste ervaring wees om in hierdie kultuur of samelewing oud, siek, broos of afhanklik te wees. Elke dag sien ek hoe ouer mense opsy gestoot word, hoe hulle gespanne sukkel om in die barbaarse verkeer oor die weg te kom, hoe hulle deur hul kinders of ander jonger wesens stilgemaak of afgejak word. Elke dag hoor ek hoe ouer mense vir ure en ure moet toustaan om aansoek te doen om pensioen of ander hulp, hoe aaklig hulle behandel word deur die gedaantes agter ’n toonbank, hoe families hulleself vervreem of verwyder van dié wat hulle sorg nodig het.

’n Senior persoon (ek wou nog altyd weet watter taalvark het besluit die verdoemende woord “bejaarde” het blyplek in ons woordeboek) het tradisioneel nog altyd die rol van ’n wyse, ’n onderwyser, ’n leier of raadgewer vervul. In soveel kulture word die senior figuur eeue lank al vereer, geraadpleeg, aangehoor, verpleeg, beskerm en bewonder. Deesdae word hierdie gedrag al hoe skaarser. Selfs in lande soos Japan en China, waar die oudstes nog altyd gerespekteer is, het ’n nuwe popkultuur van elektronika, Westerse modes en verswakte familiebande hierdie tradisies grootliks vervang.

Daar is wel goeie nuus, in die Spaanse, Latynse en Rooihuid-kultuur word die senior lede van die samelewing nog steeds vereer en versorg. In Europa doen heelwat lande moeite om teaters, winkels, restaurante en openbare geriewe toeganklik te hou. Relings, roltrappe en hysers word aangebring, rusplekke word ingerig, veilige, skoon openbare vervoer is ten alle tye beskikbaar.

Ouer mense leef deesdae ook langer, mense is meer aktief en eet gesonder as die voorgeslagte, baie lande maak voorsiening vir miljoene meer senior burgers wat langer finansiële of mediese hulp mag nodig hê. Mense word aangemoedig om later af te tree, om aktief by te dra tot die samelewing, om nie te onttrek van vermaak of sosiale betrokkenheid nie.

Maar ek woon op ’n vasteland waar ek heeltemal te min getuienis vind van respek, versorging, waardering en gemoedsrus. Ek het nie kinders in wie
se tuinwoonstel ek eendag kan gaan wegkwyn nie, ek het nog nooit blyplek gedeel nie en kan nie ouetehuis toe nie. My enigste uitweg is tonne geld en hope personeel. Dus werk ek my morsdood.

Intussen blaai ek elke aand deur my twee boeke. Eendag maak ’n kasteel sy voordeur oop en nooi my binne.