Gisteraand het die (Council of Fashion Designers of America) ontwerpers en invloedryke modekenners vereer vir hul bydrae tot die mode industrie. En die rooi tapyt vir dié geleentheid was ’n fees vir die (mode)oog!

Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur, het haar 5 gunsteling-rokke gekies.

"Dié geleentheid is nie soos die Oscars waar almal ongelooflike aandrokke aanhet nie, maar ’n geleentheid waar mode gevier word! En dít is duidelik sigbaar in die uiteenlopende styl op die rooi tapyt," sê Amaria.

Amaria se 5 gunsteling-rokke

Liya Kebede

Dié Etiopiese model en aktrise (Lord of War) het ongelooflik gelyk in ’n stylvolle wit hemp en ’n potloodromp met ’n interessante patroon. Die Amerikaanse ontwerper Wes Gordon het dié uitrusting ontwerp.

Sophia Bush

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

Dié aktrise, bekend vir haar rol in One Tree Hill en deesdae ook op die kassie in die reekse Chicago Fire en Chicago P.D., het pragtig gelyk.

"Ek is gaande oor dié rok met uitsny-detail. Die bonkige halssnoer gee daardie ekstra oemf aan die eenvoudige snit," sê Amaria.

Olivia Palermo

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

Dié sosiale vlinder is gereeld op ’n besgeklede-lys. En dié keer het sy weereens nie ’n modevoet verkeerd gesit nie. Haar skoene doen die praatwerk saam met ’n staatmaker-LBD (little black dress).

"Ek is mal oor die fraaiings aan dié rok - kyk ook uit vir dié trend vir somer 2014/2015!" meen Amaria.

Rachel Zoe

Sy is self ’n bekende stileerder vir bekendes en daarom word haar uitrustings altyd met ’n fyn oog dopgehou. Rachel het onlangs haar eie klerereeks begin en het hier een van haar eie skeppings aan.

Jennifer Hudson

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

Ons kan niks minder as ’n aandrok van dié diva verwag nie! Jennifer lyk ongelooflik ’n a-simmetriese rok en ons is gaande na haar pixie-haarstyl.

Mode-ikoon

Die toekenning vir Mode-ikoon van die Jaar is aan die sangeres Rihanna toegeken. En sy het omtrent gewys waarom sy dié toekenning verdien. Sy het in ’n deursigtige Adam Selman-skepping nie veel vir die verbeelding oorgelaat nie. Dié rok het geskitter met sowat 216 000 Swarovski-kristalle wat daarop vasgewerk is. Adam maak Rihanna se uitrustings sedert 2011. Alhoewel dié rok baie mense ontstel het, was daar ook ’n paar wat mal was daaroor. Die Indiese Vogue meen wie nie waag nie, wen nie.

Addisionele bron: Billboard Music